Voorstelle om bates teen die staat te beskerm

Deel op

International_Property_Rights_Index_2007Dawie Roodt skryf onlangs dat eiendomsreg gerespekteer moet word, maar dat die staat dikwels nie daartoe verbind wil wees nie.

 

 

 

BESKERM JOU BATES TEEN DIE STAAT.

Dawie Roodt is hoofekonoom van Efficient Group en hy het die volgende die afgelope naweek geskryf:

Moet jy dalk huur eerder as koop? Dawie Roodt sê waarom jy dit kan oorweeg.

Ek beskou private eiendomsreg, en daarmee bedoel ek die baie breë definisie daarvan, as die enkele belangrikste reg in ‘n vrye ekonomie.

Die beskerming van private eiendomsreg behoort een van die primêre funksies van die staat te wees. Daarom is dit ironies dat dit juis die reg is wat regerings self dikwels ondermyn.

Onlangse ontwikkelinge in SA dui reeds daarop dat die staat ten doel het om private eiendomsreg ernstig te ondermyn.

‘n Verskeidenheid wette en voorgestelde wetsontwerpe wat eiendomsreg bedreig of ondermyn, het die afgelope twee jaar die lig gesien of is in die proses om wet en beleid te word. Baie ironies word van die wette die “beskerming van eiendomsreg” genoem, terwyl alles behalwe die beskerming van eiendomsreg beoog word.

Die werklikheid is dat regte aan die staat toegeken is wat die veiligheid van eiendomsreg in Suid-Afrika onder verdenking geplaas het. Om alles erger te maak, het die konstitusionele hof onlangs uitspraak gelewer wat onteiening nie net vergemaklik nie, maar dit in werklikheid selfs sonder vergoeding moontlik maak.

Kortliks kom die verskeie wette en regulasies daarop neer dat private eiendomsreg verder beperk word en, belangriker, dat dit vandag vir die staat baie makliker is om private eiendom te onteien (lees: steel). Alle eiendom word hierdeur geraak: vaste eiendom, finansiële instrumente, pensioenfondse, ontasbare bates – selfs geld in jou spaarrekening!

Dit is ook onvermydelik so dat wanneer politici toegelaat word om burgers se regte te ondermyn, die dag uiteindelik sal aanbreek dat hulle tot dié stap sal oorgaan. Daarom is dit nodig dat jy jou posisioneer sodat jy jou en jou bates soveel moontlik teen moontlike staatsdiefstal beskerm.

Ek het ‘n paar voorstelle oor hoe om dit te doen. Maar voordat ek dit neerpen, eers dit: Ek probeer nie spoke opjaag nie en ek stel voor almal doen self navorsing oor die aangeleentheid en kom tot sy eie gevolgtrekking. Heelwat instellings, soos die Instituut vir Rasse-aangeleenthede, die Vryemarkstigting en AfriSake, het al oor die onderwerp geskryf.

My voorstelle is dalk nie geldig of van toepassing op almal nie. Ek is nie ‘n finansiële adviseur, regskenner of belastingkonsultant nie. Elke persoon moet sy eie situasie ontleed en kenners se hulp kry.

En laastens: Moet om hemelsnaam nie môre die een of ander radikale ding gaan doen nie. Moenie bedank, jou huis vir minder as die markprys verkoop of onnodig skuld maak net omdat jy dink die staat gaan alles skielik nasionaliseer nie. Wees nugter, rasioneel en pragmaties, en onthou, selfs in moeilike omstandighede is daar baie moontlikhede!

Met dít in gedagte, ‘n paar voorstelle:

* Belas jou inkomstegenererende eiendom tot die maksimum perk wat uit ‘n belastingsoogpunt voordelig is en dan kry jy die bykomende beskerming dat die bate nie so aantreklik vir onteiening sal wees nie.

* Diversifiseer jou portefeulje. Maak seker ‘n deel van jou bates is in die buiteland waar die kans skraler is dat politici hul hande daarop kan lê.

* Probeer verseker dat jou bates so likied moontlik is sodat aanpassings aan jou batestruktuur vinnig gemaak kan word as die politici enige wetgewing tot jou nadeel verander.

* Huur eerder as koop. Oorweeg byvoorbeeld enige aanbod waar die geleentheid bestaan om eiendom teen ‘n billike prys te verkoop en dan te huur.

* Kry buitelanders as sakevennote. Onteiening sal moeiliker wees indien buitelanders se bates ook gesteel word. Hul regering kan beswaar maak.

* Diversifiseer jou beleggings deur diskresionêre strukture te gebruik en nie net pensioen- of voorsorgfondse nie. Kry die advies van ‘n finansiële adviseur.

* Moenie enige wette oortree nie en sorg dat jou belasting op datum is.

* Sluit aan by ‘n organisasie wat hom beywer vir die beskerming van persoonlike eiendomsreg.

Moet egter nie halsoorkop besluite neem nie en wees pragmaties.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.