Renault Sandero is beste waarde-vir-geldmotor

Deel op

Renault Sandeo Dynamiquedeur André Olivier

Met motorpryse wat vandag hoër as ooit in Suid Afrika is, is dit moeilik om te verstaan hoe daar nog soveel nuwe motors in Suid Afrika kan verkoop. Almal rondom ons kla oor alles wat bykans elke dag duurder word. Voedselinflasie is 18%, elektrisiteits- en brandstofpryse styg teen meer as 10% per jaar en elke jaar in April neem motorpryse ook toe teen ‘n syfer wat hoër as die nasionale inflasiekoers is.

Ons het na ‘n paar motortjies gaan kyk wat juis letterlik in ‘n ander klas is. Intreevlakmotors is gewoonlik klein, stadig en maar baie skraps toegerus. Merk jy net enkele opsies wat na ons mening standaard moet wees, dan kan die motor se prys baie maklik sommer met R20 000 of selfs R30 000 die hoogte inskiet. VW het ‘n paar jaar gelede die hele petalje raakgesien en met die bekendstelling van die Polo Vivo die vorigegenerasie-Polo aanhou bou en verkoop teen bykans dieselfde prys as die vorige jaar. Dit het VW die geleentheid gegee om die nuwe Polo in ‘n total nuwe prysklas te laat meeding.

Ford het VW gou nagevolg met die bekendstelling van die Ford Figo, wat eintlik maar net die vorigegenerasie-Fiesta is. Die nuwe Fiesta het toe soos die Polo in ‘n heelwat hoër prysklas inbeweeg. Ander motorvervaardigers soos Opel met die Corsa Lite en Peugeot met die 206, terwyl die 207 reeds bekendgestel was, het ook die mark betree.

Die moderne agterkant van die Sandero
Die moderne agterkant van die Renault Sandero

Renault het insgelyks die vorigegenerasie-Clio in produksie gehou terwyl die nuwe weergawe reeds bekendgestel was. Renault het ‘n gaping in die mark gesien – veral met die baie goedkoop Sjinese Chery en Indiese Tata-produkte wat gehaltegewys dalk nie op die standaard van die bestaande vervaardigers was nie, maar goed toegerus was, en in sekere gevalle tot R30 000 goedkoper as enige van die bestaande vervaardigers se produkte was. Renault het die Dacia Sandero wat eintlik vir die Oos-Europese mark ontwikkel is, plaaslik bekendgestel. Die motor is in Rosslyn buite Pretoria in die Nissan fabriek gemonteer en was nie net groter as die Polo Vivo, Ford Figo en Peugeot 206 nie, maar ook beter toegerus met sterker enjins. Vir ons plaaslike mark was die koms van die Sandero onder die Renault-embleem baie goeie nuus en Renault het gou ‘n sterk rolspeler in dié mark geword. Die Sandero was so suksesvol dat Honda en selfs Toyota die mark in hierdie segment met onderskeidelik die Honda Brio en Toyota Etios betree het.

Die motor het verseker dat voornemende kopers van Toyota Yarisse, wat nie die prys van ‘n Yaris kan bekostig nie, geholpe raak binne die Toyota-stal. Renault het weer begin stoom verloor met die koms van die Etios en die Brio en het onlangs die Sandero heeltemal opgekikker. Inteendeel, dit is ‘n hele nuwe motor met ‘n nuwe enjin en meer standaardtoerusting as selfs die regte VW Polo, Ford Fiesta, Toyota Yaris en Opel Corsa. Trouens, ons dink daar gaan ver gesoek word vir enige motor onder R200 000 wat bied wat die nuwe Sandero bied. Die bakwerk is nou mooier, sagter op die oog en die binneruim se goedkoop gevoel is weg. Ons het die nuwe Sandero vir ‘n paar dae onder hande gehad en selfs Renault se eie Clio 4 ook ‘n paar keer gery om die twee te vergelyk.

Renault Sandero Dynamic

Die sagter voorkoms van die nuwe Renault Sandero
Die sagter voorkoms van die nuwe Renault Sandero

Kom ons begin by die motor se plasing in die mark. Wel daar is die VW Polo Vivo 1.4 Trendline (R148 900), die Toyota Etios 1.5 XS (R135 400) en die Ford Figo 1.4 Trend (R145 900). Al drie die motors is direkte mededingers vir die Sandero Dynamique teen R141 500.

Kopers in die segment is nogal baie pryssensitief, dus begeer hulle die meeste motor vir hul geld. So wat kry jy vir jou geld in die Renault Sandero? Wel, heel eerste is die Sandero fisies ‘n groter motor as enige van sy mededingers.  Teen 4 059mm in lengte, wat meer laairuimte vir skooltasse en meer beenruimte vir skoolkinders beteken, is die Sandero 14,3 cm langer as die VW Polo Vivo, wat die langste van die ander drie motors is. Die Sandero is 1733mm breed, wat beteken daar is letterlik 3,8 cm meer motor as die 1695 mm van die Toyota Etios wat die breedste van die ander drie motors is. Teen 1530mm in hoogte, is die Sandero 20mm hoër as die Etios wat die hoogste dak van die ander drie motors het. Dit beteken meer kopruimte voor en agter. Die Sandero is ook standaard toegerus met ‘n 5-jaar- 150 000km-fabriekswaarborg, waar die Ford Figo die naaste kom met ‘n 4-jaar- 120 000km-waarborg. Verder is onderhoud ook baie belangrik en die Sandero het ‘n standaard 2-jaar-30 000km-diensplan; slegs die Toyota Etios is verkrygbaar met ‘n diensplan van 2 jaar en 30 000km, die Ford en die VW glad nie.

Wanneer dit kom by brandstofverbruik, troef die Renault Sandero ook al drie sy mededingers met ‘n syfer van 5,2 l/100km. Hier is dit die Toyota Etios wat die naaste kom met ‘n syfer van 6,0/100km. Uitlaatgasse in die geval van die Sandero is slegs 119g/km CO2, waar die Etios 140g/km, die Polo Vivo 147g/km en die Ford Figo 156g/km CO2 die lug in pomp. Die Sandero is dus die enigste van die vier motors waarop geen koolstofbelasting gehef word nie. Jy sal bykans R3000 ekstra vir elk van die ander motors net aan belasting moet betaal.

Soos in duurder motors, beskik die Sandero oor 'n multifunksiestuurwiel
Soos in duurder motors, beskik die Sandero oor ‘n multifunksiestuurwiel

Kyk ons na kraglewering, bied die Sandero 66Kw en 135NM se wringkrag teenoor die Figo se 62Kw/127NM, die Etios 66Kw/132NM en die Vivo 63Kw/132Nm. Dus, nie net het jy die grootste motor in die Sandero nie, jy het ook die suinigste motor met brandstof, die skoonste enjin met die minste uitlaatgasse, die goedkoopste met geen ekstra koolstofbelasting betaalbaar nie, asook die sterkste enjin. Dit maak insgelyks ‘n verskil aan die verrigting van die motor. Ons versneltoetse het 11,1 sekondes getoon van 0-100km/u wat die vinnigste van al vier die motors is. Die maksimumsnelhede wat deur die vervaardigers aangegee word, is 175km/u vir die Sandero, 169km/u vir die Figo, 165 km/u vir die Etios en 177km/u vir die Vivo. Ons het egter met ons eie padtoets 182 km/u in die Sandero kon aanteken.

Wat dryf die motor dan aan? Wel die nuwe Sandero gebruik dieselfde 3-silindereenheid met ‘n verplasing van 898cc en dieselfde klein turbomeultjie wat diens doen as in die nuwe Clio 4. Dit is ‘n Euro 6-enjin, wat beteken dat die Sandero op beter gehalte brandstof kan kuier en dus beter verbruik en verrigting teen ‘n baie groener trant as enige van sy drie mededingers kan lewer.

Die Sandero se middelkonsole vertoon mooi, met die jongste geriewe
Die Sandero se middelkonsole vertoon mooi, met die jongste geriewe

Die goeie nuus wat die Sandero aanbetref, hou nie daar op nie: wat veiligheidskenmerke betref, is die Sandero ook in ‘n klas van sy eie. Daar is bo en behalwe ABS-remme wat standaard in al vier motors is, nog BAS (Brake Assist) of dan kraghulp vir die remme en EBD standaard wat nie standaard in die ander is nie. Daar is ook wieltolbeheer (Traction Control) standaard en stabiliteitsbeheer, wat krag na die wiel wat dit die nodigste het versprei of wegneem in vinnige draaie. Weereens beskik die ander drie oor nie een van dié kenmerke nie. Die Sandero is ook die enigste motor in die geselskap wat toegerus is met kantlugsakke vir die voorste insittendes.

Esteties is dit slegs die Ford Figo wat standaard soos die Sandero met allooivellings op die wiele toegerus is; dit is opsioneel beskikbaar vir die Etios en die Vivo. Wat toerusting binne die motor betref, is die Sandero met kontroles vir die radio en spoedbeheer op die stuurwiel toegerus, volgens my ook ‘n veiligheidsaspek wat in die ander drie motors afwesig is. Daar is spoedbeheer standaard in die Sandero, afwesig by die ander. Moderne geriewe soos Bluetooth vir die radio is standaard; slegs die Figo is daarmee toegerus. Die USB-koppelstuk is ook standaard en hier is dit net die Etios wat kan saamgesels. Daar is elektriese vensterbeheer vir al die ruite; slegs die Etios is daarmee toegerus, terwyl die Figo en die Vivo slegs voorste kantruite het wat elektries kan oopmaak.

Kyk ‘n mens na duurder motors soos die Ford Fiesta 1.4 Ambiente (R193 000), Toyota Yaris 1.3 XS (R186 100) en VW Polo 1.4 Comfortline (R203 200) bied nie eens enige van hulle drie dieselfde toerusting binne die kajuit as wat die Sandero bied nie. Met die kraglewering is dit net die Fiesta se 71 Kw en die Yaris se 73 Kw wat die Sandero troef; met wringkrag is die Sandero nog sterker as al drie die moderne duurder motors. Wat brandstofverbruik en uitlaatgasse aanbetref, troef die Sandero ook al drie die motors, met die Yaris wat die naaste kom met 5,6l/100km verbruik. Die Fiesta met sy 130g/km CO2 is die groenste, maar nie naby die 119g/km van die Sandero nie. Wat verrigting aanbetref, is die Sandero van 0-100km/u nog steeds die vinnigste en dit is slegs die Polo wat teen 177km/u naby die Sandero kom.

Beenruimte agter in die Renault Sandero
Beenruimte agter in die Renault Sandero

Bougehalte in die nuwe Sandero is ook ligjare verwyder van die vorige model en paneelopeninge tussen bakpanele is presies en eweredig. Deure maak solied oop en toe en daar is geen ratels of krake te bespeur nie. Die gehalte van stowwe vir die paneelbord en die dak en pilare binne is uitstekend, die sitplekoortreksels is van ‘n hoëgehalte-veloerdoekstof. Daar is werklik niks om oor te kla in die nuwe Sandero nie.

Ek het lanklaas ‘n motor bestuur wat my soveel pure opregte plesier verskaf het, veral die driesilinderenjintjie wat soos ‘n V6 klink wanneer hy opgewen word. Op die oop pad teen ‘n spoed van 120km/u voel die motor solied en wanner die petrolpedaal in 5de rat teen 120km/u plat getrap word, reageer Sandero byna onmiddellik. Ek kon nie glo watse wringkrag die enjin teen daardie spoed bied nie. Dit beteken dat jy maklik by ‘n vragmotor of stadiger motor sal kan verbygaan sonder om ratte te verwissel soos in enige van die ander motors wat hier genoem word.

Ek het elke keer as ek agter die stuur van die Sandero ingeskuif het, ‘n breë glimlag op my gesig gekry. Ek kan nie glo dat ‘n mens in vandag se tyd in hierdie motormark so ‘n volledige motor vir hierdie prys kan koop nie. As die Sandero nie baie naby kom om 2015 se Motor van die Jaar te wees nie, weet ek wragtigwaar nie so mooi nie. Daar is tans in Suid Afrika geen motor onder R200 000 wat bied wat die Renault Sandero Dynamique bied nie!

Renault Sandero Dynamique

Prys

5   uit  5

Voorkoms Buite

4   uit  5

Binneruim Kwaliteit en Afwerking

5   uit  5

Spasie en Praktiese toepassing

4   uit  5

Agter die stuur

5   uit  5

Enjin en Ratkas

5   uit  5

Op die pad

5   uit  5

Veiligheid

5   uit  5

Totaal

38 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.