Gemengde reaksie op nuwe kabinet

Deel op
Zuma en sy nuwe adjunk-president Cyril Ramaphosa
Zuma en sy nuwe adjunk-president Cyril Ramaphosa, links

President Jacob Zuma sê die regering se doelwit om proporsionele verteenwoordiging van vroue in die Kabinet te bevorder is byna bereik.

Zuma het Sondagaand die nuwe Kabinet by die kantore van die Regeringkommunikasie en Inligtingstelsel in Pretoria bekendgemaak.

Die president het gesê dat hy 20 mans en 15 vroue as Ministers aangewys het, en 20 mans en 16 vroue as adjunkministers.

Susan Shabangu gaan ‘n nuwe Vrouedepartement binne die Presidensie lei. Shabangu is uitgeskuif van minerale hulpbronne om die nuwe ministerie te lei.

Sake-eenheid Suid-Afrika, Busa, het aanstellings in die nuwe kabinet verwelkom. Die organisasie het veral die aanstelling van Cyril Ramaphosa as adjunkpresident geprys.

Busa het ‘n beroep op Ramaphosa gedoen om implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan te lei.

Busa is nietemin teleurgesteld oor die verskuiwing van Pravin Gordan maar meen sy aanstelling as minister van Samewerkende Regering is noodsaaklik vir die bestuur van munisipaliteite waar dienslewering sukkel.

Die Sake-eenheid het die aanstelling van Nhlanhla Nene as minister van Finansies verwelkom en gesê hy het homself reeds as bekwaam bewys.

Die organisasie het ook hul kommer oor die skeiding van Ekonomiese Ontwikkeling en Handel en Nywerheid uitgespreek, en sê die twee ministeries kan tot verdere gebrekkige koördinering lei.

Daar was gemengde reaksie by opposisieleiers oor president Zuma se nuwe kabinet. Volgens die DA leier, Helen Zille, is die nuwe kabinet te groot en lomp om goeie regering te waarborg.

Die EFF-leier Julius Malema het die samestelling van die nuwe kabinet as die begin van ‘n ramp vir die volgende vyf jaar bestempel.

Malema sê die president beloon steeds lojaliteit, selfs al het sy ondersteuners nie die vermoë om die werk te doen nie.

Terwyl ‘n paar nuwe gesigte bygekom het, is ander ministers ook uitgelaat.

Pieter Mulder, leier van die VF+, is sy pos as adjunk-minister van landbou in die nuwe kabinet kwyt. Hy het die ANC gekritiseer oor die aanstelling van SAKP-lede in die kabinet.

Zuma het van sy groot ondersteuners beloon. Fikile Mbalula, Aaron Motsoaledi, Ebrahim Patel, Thulas Nxesi, Angie Motshekga en Blade Nzimande is van die ministers wat hulle portefeuljes behou het.

Die president het nogtans gepoog om die publiek se vertroue in sy leierskap te herstel deur omstrede ministers te verwyder. Paul Mashatile en Lulu Xingwana is uitgelaat.

Die voormalige minister van Polisie, Nathi Mthethwa is geskuif na die ministerie van Kuns en Kultuur. Mthethwa is omstrede weens die geweld by Marikana en die veiligheidsopgraderings by die president se privaatwoning op Nkandla.

Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het Zuma geloof vir die veranderinge wat hy aan die Veiligheidsgroepering in die Kabinet gemaak het, en dat hy kontinuïteit behou het in die ministerie van Verdediging. Hy het egter gesê dat die kabinet steeds te groot is.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.