Afrikaans: die grondslag vir ‘n nuwe politiek

Deel op

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag beantwoord die redakteur van Rapport, Waldimar Pelser, my vorige artikel in Rapport en hier op praag met ‘n pleidooi dat ons mekaar minder moet etiketteer en meer moet debatteer:

Om iemand “regs” of “links” te noem is nie die einde van die gesprek nie, maar eerder die begin. In “Suid-Afrikaans” gestel: Ons kan nie meer daarmee wegkom om mekaar wit of bruin of swart of regs te noem asof dit die gestoei oor idees onnodig maak wat ons kort om koers te kry nie.

Jare gelede het ek reeds min of meer dieselfde standpunt gestel in my klein essay, Die nuwe ‘Regs’ wat destyds op LitNet gepubliseer is, maar wat ook in my boek Aweregs opgeneem is.

Soos ek in my stuk oor Frankryk aandui, gaan die Franse vandag nuwe verteenwoordigers in die Europese parlement verkies en vir die eerste keer sedert die tweede wêreldoorlog gaan ‘n sogenaamd regse, nasionalistiese of behoudende party die meeste stemme in ‘n Franse verkiesing trek, naamlik iewers tussen 24 en 30 persent. Weliswaar geen meerderheid nie, maar nogtans ‘n merkwaardige vertoning deur Madame Marine Le Pen se Front National. Reeds word daar gesê dat dit Frankryk se “beeld in die wêreld skade gaan doen”.

Frankryk is ‘n lid van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, asook, tesame met Duitsland, die belangrikste land in Wes-Europa en in die Europese Unie. Frans is, naas Engels, Russies, Spaans en enkele ander, een van die belangrikste wêreldtale wat deur honderde miljoene mense as eerste of tweede taal gepraat word. Daarom is die intellektuele en politieke verskuiwing in Frankryk geen geringe verwikkeling nie.

Waldimar Pelser meen dat ons “idees… kort om koers te kry”. Dis presies wat ons by praag nog die afgelope vyftien jaar of meer sê. Suid-Afrika het in 1994 holderstebolder die Amerikaanse “smeltkroesmodel” van die sestiger- en sewentigjare, tesame met regstellende aksie en swart bemagtiging oorgeneem. In die VSA staan swart bemagtiging as “minority procurement” bekend, dus kan elkeen van hierdie beleide na die VSA teruggevoer word. Maar eintlik het die Sweede Gunnar Myrdal reeds in die veertigerjare hierdie stel polities korrekte idees aan die Amerikaners voorgestel in sy beroemde boek, An American Dilemma: The Negro Problem and Modern Democracy. Dus is dit nie van oorsprong Amerikaans nie, maar Sweeds!

Wat weer tot die volgende vraag lei: Hoe kan ‘n land soos Swede met sy hoofsaaklik homogene, blanke bevolking van taamlik snobistiese en hovaardige mense wat op al die ander Skandinawiese lande neersien, voorskrifte aan heterogene maatskappye soos dié van die VSA en Suid-Afrika maak? Wat verstaan Swede van Suid-Afrika? So te sê niks.

Alle Afrikaners, regs, links, liberaal, nasionalisties, wat ook al, behoort saam met Waldimar Pelser te erken dat ons en die land vandag nuwe idees nodig het. Ons kan nie maar voortploeter op Swede en Amerika se mislukte opvattings van die middel- twintigste eeu nie.

Hierdie intellektuele krisis raak egter nie bloot die liberaliste of linkses wat hulle op die Angel-Saksiese of internasionale gemeenplase oor Suid-Afrika verlaat nie. Dit raak ook daardie oudmodiese Afrikaner-nasionaliste wat in ‘n heraangepaste afsonderlike ontwikkeling en selfbeskikking van volkere ‘n oplossing vir die probleme van Suid- en Suider-Afrika sien. Demografies, ekonomies en tegnologies het die hele streek intussen so verander dat dit haas nie meer moontlik is nie.

Nie dat ek opgehou het om ‘n voorstander van Afrikanerselfbeskikking te wees nie, maar ek dink ons moet aanvaar dat Afrikaners die gedagte telkens, soos ook tydens die afgelope verkiesing, by die stembus verwerp. ‘n Mens kan ‘n perd tot by die water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie.

Wat staan ons dus te doen onder die huidige omstandighede? In die afwesigheid van enige steun onder Afrikaners of die hoofstroommedia vir Afrikanerpolitiek, is dit soos om voor ‘n trein te gaan staan. Sodra daar koppe getel word, gaan ons telkens net verloor.

Daarom meen ek dat ons by praag oorspronklik die korrekte idee gehad het, naamlik om ‘n nuwe politiek rondom die Afrikaanse taal te bou. En voordat u nou sê dat taal ‘n bysaak in Suid-Afrika is, laat my verder verduidelik hoe dit behoort te werk.

Tans is daar feitlik geen verweer teen rasstellende aksie en rassevoorkeure wat in wetgewing en selfs in die grondwet vervat is nie. Hier en daar maak Afriforum hofsake daarteen, maar dit gaan telkens om ‘n enkele individu soos Renate Barnard van die polisie en doen nie veel om die beginsel van rassevoorkeure by aanstellings aan te tas nie.

Terwyl dit toelaatbaar is vir swart politici en swartes om hul politiek op ras te grond – dis nog ‘n invloed van die VSA en die Angel-Saksiese lande – grens dit vir blankes aan heiligskennis om dieselfde te doen. Dus gaan dit moeilik wees om teen rasstellende aksie die blanke bevolking op grond van ‘n soort “wit nasionalisme” te probeer mobiliseer.

Indien Afrikaners egter op hul taal, Afrikaans, begin aandring, sal die groot maatskappye, die howe, die skole en universiteite, selfs die staat self, genoodsaak wees om weer van ons mense te begin aanstel. Dit sal die effek van rasstellende aksie begin teëwerk. Binne die “Suid-Afrikaanse” stelsel, sal daar dus ‘n “Afrikaanse” stelsel begin ontwikkel waar Afrikaners deur ander Afrikaners (of in die Wes-Kaap, deur bruinmense) bedien word en waardeur die amptelike en openbare status van Afrikaans weer herstel sal word.

Hierdie strategie sal egter net slaag as daar, tesame met die aandrang op Afrikaans te alle tye, insgelyks ‘n inwaartse nasionalistiese beweging onder Afrikaners plaasvind. Immers word daar tussen interne (kulturele) en eksterne (staatkundige) selfbeskikking onderskei. Net so bestaan daar ‘n inwaartse nasionalisme onder jou eie mense en ‘n uitwaartse rebellie of opstand om jou teen ander groepe of volkere te laat geld. Tans is die inwaartse nasionalisme en herwaardering vir mekaar waarskynlik belangriker as die uitwaartse opstand.

Leon Lemmer skryf vandag baie insiggewend oor die Baske, wat soortgelyk aan Afrikaners, deur getalryker – sy dit dan Europese – volkere in die vorm van die Spanjaarde en die Franse oorheers word. Omdat hy die groot Franse skrywer Victor Hugo oor die Baskiese taal aanhaal, het ek na die oorspronklike teks gaan soek en haal dit graag hier volledig aan, tesame met ‘n Afrikaanse vertaling:

J’ajoute qu’ici un lien secret et profond et que rien n’a pu rompre unit, même en dépit des Pyrénées, ces frontières naturelles, tous les membres de la mystérieuse famille basque. Le vieux mot Navarre n’est pas un mot. On naît basque, on parle basque, on vit basque et l’on meurt basque. La langue basque est une patrie, j’ai presque dit une religion. Dites un mot basque à un montagnard dans la montagne; avant ce mot, vous étiez à peine un homme pour lui; ce mot prononcé, vous voilà son frère. La langue espagnole est ici une étrangère comme la langue française.

[Ek voeg hier by dat ‘n geheime en diepgaande band die geheimsinnige Baskiese familie verenig wat niks kon breek nie, in weerwil van die Pireneë-gebergte, dié natuurlike grens. Die ou woord “Navarre” (die voorheen outonome gebied) beskryf dit nie. ‘n Mens word Baskies gebore, jy praat Baskies, jy leef Baskies en jy sterf Baskies. Die Baskiese taal is ‘n vaderland, amper ‘n godsdiens. Praat ‘n woord Baskies met ‘n bergbewoner in die berg; voor daardie woord was u skaars ‘n mens vir hom; as dié woord gespreek is, siedaar u en hy is broers. Die Spaanse taal is hier uitheems net soos die Franse taal. – my vertaling.]

Dit lyk asof die tweede deel van Leon Lemmer se aanhaling oor die Baske, nie van Victor Hugo is nie, maar van die skrywer Mark Kurlansky in die boek The Basque History of the World:

“It was written over and over in the records of those who observed the Basques that they spoke a strange language that kept them apart from others. But it is also what kept them together as a people, uniting them to withstand Europe’s great invasions.”

In die vroeë dae van praag, onthou ek ook dat ek iewers ‘n paar sinne uit ‘n kortverhaal van Hennie Aucamp aangehaal het (“Die uitsettingsbevel” in Enkelvlug), wat baie dieselfde begrip as Victor Hugo oordra:

“Vir ander mag ‘n nuwe vaderland ‘n moontlikheid wees, maar nie vir my nie. My bestaan, my identiteit, my kern, my alles lê opgesluit in Afrikaans. ‘n Bestaan in ‘n ander taal sal vir my tweedehands wees…

“En verder: Suid-Afrika is nie vir my in die eerste plek sy berge en vlaktes nie. My wesenlike vaderland, as ek Camus mag aanhaal, is my taal. Ek bestaan net in die taal; net vir die taal…”

Dit sou ‘n fout wees om bogaande aanhalings bloot as sentimentalistiese oproepe tot taalnasionalisme te interpreteer. Wat is ‘n “bestaan in Afrikaans” anders as ‘n lewe in ‘n eie land en ‘n eie kultuur? Terwyl jy deur ander regeer en selfs oorheers word, is dit tog moontlik om onder mekaar met ons eie lewens aan te gaan, asof daardie blote politieke feit nie van allesoorwegende belang is nie.

Een van die grootste foute wat die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty gemaak het – vanuit hul revolusionêre en vernietigende oogpunt – is om Afrikaans as amptelike taal ná 1994 te behou. Die amptelike status van Afrikaans, indien dit afgedwing sou word, sou die assimilasie van Afrikaners feitlik onmoontlik maak en ons “verenig en apart van die ander” hou soos wat Mark Kurlansky hier bo aangaande die Baske beskryf.

Terwyl ander groepe in die land die wetgewende en uitvoerende gesag van die staat oorheers, is Afrikaners steeds oorverteenwoordig in die derde vertakking van regering: die regsprekende gesag. Toegegee, rasstellende aksie het reeds sy tol op die regbank geëis en daar bly baie min Afrikaanse regters oor, veral in Johannesburg waar die meeste sake aangehoor word.

Feit is egter dat daardie nie-Afrikaanse regters verplig is om die Romeins-Hollandse gemenereg toe te pas. Al die uitsprake wat sedert 1652 in ons land gelewer is, bly steeds geldig! Van die beroemdste uitsprake wat die beginsels van ons reg neergelê het, is boonop in Afrikaans gelewer.

Indien Afrikaanse regslui, asook litigante, sou begin om hofsake in Afrikaans te voer, sou die staat verplig wees om meer Afrikaanse regters aan te stel. Hoewel die staat dus die wetgewing na willekeur mag verander, kan ons in die howe die geleentheid kry om daardie wette na ons siening te laat interpreteer, binne ons eie regstradisie wat die staat genoodsaak is om te volg.

Ons kan selfs die groot maatskappye dwing om meer Afrikaners aan te stel en sodoende werk vir ons mense te skep. Hoe meer Afrikaners voltyds werk, hoe meer geld gaan ons hê om ‘n Afrikanerekonomie naas die Suid-Afrikaanse te ontwikkel. Die Jode, Grieke en ander in ons land doen dit reeds. Ook die Baske beskik oor ‘n uitgebreide koöperasie genaamd Mondragon wat vir ‘n 100 000 mense werk verskaf en een van die groot suksesverhale op die Spaanse grondgebied verteenwoordig.

Ek was nog altyd ‘n groot kritikus van die Grondwet, maar deesdae begin ek dink dat álles in die Grondwet nie net sleg is nie. Daar bestaan artikels in die Grondwet wat ons in ons guns kan laat afdwing – met of sonder die steun van die massa apatiese Afrikaners!

Ander groepe in die land is reeds besig om die Grondwet na hul sin te laat interpreteer: die voorstanders van huwelike tussen mense van dieselfde geslag of diegene wat téén die doodstraf gekant is, byvoorbeeld. Die meerderheid mense in ons land, blank en swart, hou nie van selfdegeslaghuwelike nie en is ten gunste van die doodstraf, maar hulle doen net nie die moeite om hof toe te gaan nie. Daarom is hulle aan die links-liberale aktiviste uitgelewer wat, soos in die VSA, sorg dat hulle uitsprake in hul guns verkry.

Elke uitspraak in die howe verteenwoordig insgelyks ‘n tweesnydende swaard: Dink maar aan mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie se beroemde geveg om die oorgangstadsraad van Kemptonpark te kry om die onwettige elektriese verbindings in Tembisa te beëindig en om sy kredietbehoor ook daar toe te pas. Uiteindelik het hy in die Appèlhof in Bloemfontein verloor omdat meesal Afrikaanse regters bevind het dat die stadsraad oor die “diskresie” beskik om te besluit of hulle kredietbeheer sal toepas, selfs nadat hulle amptelik ‘n besluit aangeneem het om dit wel te doen!

Mnr. Jaap Kelder moes in daardie geval die gelag betaal, maar dink net hoe daardie appèlsaak vorentoe deur ‘n Afrikanergemeenskap of -voorstad iewers aangehaal kan word wat dalk sou besluit om nie langer elektrisiteit aan die gewone stadsraad te betaal nie. Indien kredietbeheer deur ‘n munisipaliteit “diskresionêr” is, dan is munisipale wanbetaling mos nie so erg nie, is dit? En as die krediteur oor ‘n diskresie beskik, wat dan van die debiteur wat sy eie diskresie mag hê, om te besluit of hy wil betaal of nie?

Laat die skape by die stembus almal vir mev. Zille of Mmusi Maimane stem.

Afrikanerpolitiek sónder steun is die nuwe wagwoord. Om ‘n cliché te gebruik: Ons moet begin om “uit die kassie” – of aweregs, dis vir my ‘n beter woord – te dink. Kom ons stoei vir ons ‘n plek in die land oop waar ons uiteindelik daardie “Afrikaanse lewe” kan voer waarvan ons almal droom. En dit sluit nie geografiese enklawes, taaleilande, kantons, volkstate of wat ook al, uit nie.

Word deel van die avontuur en sluit aan by praag!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.