Bloedlose staatsgreep in Thailand uitgevoer

Deel op
Die kroonprins en Foo Foo
Die kroonprins en Foo Foo

Sonder om ‘n skoot te skiet het die weermag in Thailand sy tweede staatsgreep in agt jaar uitgevoer, en die opskorting van die land se grondwet en die Kabinet Donderdag aangekondig.

Die weermag het op 20 Mei krygswet afgekondig.

Ontleders sê die naderende einde van ‘n era, die 64-jarige heerskappy van koning Bhumibol het bygedra tot dié stap.

Die koning word gerespekteer en is gewild, in teenstelling met sy seun, Prins Maha Vajiralongkorn. Die 61-jarige kroonprins blyk eksentriek te wees.

‘n Vreemde video van die prins met sy derde vrou, halfnaak by ‘n partytjie vir Foo Foo, sy poedel het onlangs uitgelek. Die hond het die rang van Hooflugmaarskalk.

Nou dat die koning se regering in sy skemer is, kan die koninklike opvolging die polarisasie van Thaise politiek verder aanhelp.

Die einde van die koning se heerskappy word deur drakoniese lèse-majesté wette stilgehou. Die leër, die mag agter die troon, is aan die einde van November beveel dat alle besluite deur die weermag onderworpe is aan veto deur die kroonprins.

Dit beteken dat die kroonprins nou hul baas is. Die Shinawatra-familie beheer die kroonprins se ondersteuners in die weermag.

Die weermag het meer as 100 vooraanstaande politieke leiers van die land se politieke spektrum, insluitend voormalige polisie- en weermaglede, opdrag gegee om Vrydag by ‘n militêre kantoor in Bangkok aan te meld.

Die invloedryke en skatryk Shinawatra-familie wat bande met die VSA het, is ook versoek om die vergadering by te woon. Dié vergadering volg ‘n dag na die bloedlose staatsgreep.

Die hoof van die weermag, generaal Prayut Chan-ocha het Donderdag aangekondig dat hy beheer van die land oorneem om wet en orde te herstel.

Die weermag het ook ‘n verbod op byeenkomste van meer as vyf mense ingestel om politieke onrus te beëindig uit vrees dat die land se krisis verder kan verdiep.

Onluste duur reeds sewe maande, met anti-regeringsbetogers wat eis dat die Shinawatra-familie en hulle beweerde korrupte invloed oor Thai-politiek, uitree.

Die voormalige premier Yingluck Shinawatra, wat afgedank is deur die konstitusionele hof vroeër hierdie maand vir nepotisme, was onder diegene wat Vrydag gevra is om saam met die waarnemende premier Niwattumrong Boonsongpaisan voor die militêre raad te verskyn.

Gerugte dat Niwattumrong reeds beskerming in die Amerikaanse ambassade opgesoek het, is deur die Amerikaanse ambassadeur Kristie Kenney ontken in ‘n twiet.

Minstens 28 mense is reeds dood sedert betogings in November begin het.

Onlangse omstrede hofuitsprake het die regering magteloos gelaat en die land diep verdeel.

Intussen het die VSA die militêre staatsgreep skerp veroordeel.

Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, John Kerry sê daar is geen regverdiging vir die weermag se optrede nie.

Die woordvoerder van die departement sê die VSA heroorweeg sy militêre en ander hulp aan die regering van Thailand.

Die Sekretaris-Generaal van die VN, Ban Ki Moon het ‘n oproep om die terugkeer na demokrasie gedoen deur vreedsame dialoog wat alle partye insluit.

Die invloedryke Japannese Eksterne Handelsorganisasie het egter deur ‘n woordvoerder verklaar dat krygswet ‘n positiewe stap vir Thailand is.

Premier Shinzo Abe het Japan se buitelandse en militêre beleid aangepas vir die nuwe werklikheid in Asië.

Die Suid-Afrikaanse regering het die staatsgreep in Thailand veroordeel en ‘n beroep gedoen op die weermag om die grondwetlike orde te herstel.

Die departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het in ‘n verklaring kommer oor die politieke situasie in Thailand in die lig van die militêre staatsgreep uitgespreek.

Die woordvoerder van die departement, Clayson Monyela het Suid-Afrikaners wat in Thailand woon of die land besoek gemaan om brandpunte te vermy.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.