‘Militêre opstand teen die SAPD’

Deel op
ratel
Ratel se kamoeflering afgehaal

Die weermagvakbond, Sandu, het bewerings oor ‘n dronk generaal se magsmisbruik veroordeel.

Die voorval dui op ‘n magstryd wat tussen die polisie en die weermag heers en wat tot verdere onverkwiklikhede kan lei sê ontleders.

Nòg die polisie, nòg die weermag wou egter uitbrei oor die voorval wat sommige polisielede as ‘n “militêre opstand teen die SAPD” beskryf.

Sandu sê die generaal het glo gepantserde voertuie en 120 soldate van die basis gemobiliseer om ander soldate en senior offisiere uit aanhouding te bevry.

Die polisie het die weermaglede by ‘n onwettige sjebeen in hegtenis geneem.

Die SANW-generaal wat lede van die weermag en twee Ratels gemobiliseer het om die 32 soldate te bevry, kan dalk geskors word, sê sommige bronne.

Die polisie het hulself glo toegesluit en bewapen toe die Weermag opdaag, maar geen skote is geskiet nie.

Die woordvoerder van Sandu, Pikkie Greef sê hulle oorweeg dit om ‘n klag van opstoking teen die generaal te lê.

Die polisie het intussen bevestig dat 31 mense Vrydagaand by ‘n sjebeen in hegtenis geneem is en dat aanklagte van intimidasie teen drie mense ondersoek word.

Die ontsetting van die soldate het by die Weermagbasis op Oudtshoorn oor die naweek gebeur.

Luidens mediaberigte was die generaal onder die invloed van drank toe hy die soldate, onder wie ‘n kolonel en ander offisiere, uit polisie-aanhouding gaan “red” het.

Die offisier kan binnekort aangekla word van dwarsboming van die gereg, misbruik van staatseiendom en magsmisbruik.

Hy kan selfs summier in hegtenis geneem word en lewenslange tronkstraf opgelê word weens die erns van die klag omdat hy as senior offisier homself as verhewe bo die reg beskou het, sê een militêre kenner.

Die offisier was glo Brigadier-generaal Xolani Mankayi van Pretoria.

Alhoewel die polisie intussen die gebeure bevestig het, het die SANW se infanterie-bevelvoerder enige kennis van die voorval ontken.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.