
Cope het Dinsdag die media en beweerde onegte lede die skuld gegee vir die party se swak vertoning in die afgelope verkiesing.
In ’n verklaring wat Cope uitgereik het ná afloop van sy nasionale komitee-vergadering blameer hy ook al die hofsake wat daar teen Cope was vir die feit dat die party so swak gevaar het.
Cope was vir etlike jare gewikkel in ‘n leierskapstwis wat Terror (Mosiuoa) Lekota uiteindelik teen Sam Shilowa gewen het.
Lekota se onlangse beweerde verhouding met ‘n mede-koukuslid word egter as een van die vernaamste redes beskou oor hoekom die party uitmekaar geval het en baie lede na die ANC oorgeloop het.
Drie senior amptenare van Cope het aan City Press gesê Lekota se beweerde romantiese verbintenis met ‘n partylid, beïnvloed besluite.
“Hy het ‘n kind met hierdie jong vrou. Hy is oud genoeg om haar pa te wees,” het hulle gesê. Lekota is 65 jaar oud en die vrou is in haar dertigs.
“Sy is algemeen bekend as die eerste dame,” het ‘n koukuslid gesê.
Redes volgens Cope was egter die feit dat die SABC Cope deurentyd in ’n slegte lig stel het asook die infiltrasie deur onegte lede.
Cope het wel erken dat die party nie sy verkiesingsboodskap behoorlik uitgedra het nie. Volgens die verklaring was Cope ook nie gereed vir die verkiesing nie.
In 2009 het Cope meer as 1,3 miljoen stemme verwerf. Cope was daardie jaar derde met 7,4% van die stemme. Vanjaar het Cope gesukkel om selfs 1% van die stemme te kry.
Die party se nasionale stempersentasie was minder as 1%.