Myne sal Amcu-aansoek teenstaan om SMS’se te verbied

Deel op
Joseph Mathunjwa en Ben Magara
Joseph Mathunjwa en Ben Magara

Die platinumprodusente, Amplats, Lonmin en Implats sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur die vakbond, Amcu teenstaan.

Amcu het aansoek gedoen dat die platinumprodusente nie meer die stakende mynwerkers per SMS mag kontak nie.

Die platinumprodusente het SMS’se gebruik om die werkers regstreeks oor die nuutste loonaanbod in te lig.

Die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara sê tot 67 persent van Amcu-lede het aangedui dat hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle vrees vir hul lewens.

Magara sê die maatskappye oortree geen arbeidswetgewing deur die SMS’se uit te stuur nie.

Hy sê ‘n derde van die jaarlikse platinumproduksie is al verlore.

Die platinumprodusent, Lonmin, het die staking in Rustenburg in Noordwes as moordend beskryf. Dit duur reeds 17 weke.

Die maatskappy sê dit kan tot sy ondergang lei indien dit nie omgekeer word nie.

Magara, ‘n Zimabwiër, sê die staking gaan herstrukturering en afleggings onvermydelik maak.

Intussen het die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, by ‘n inligtingsessie oor die mynbedryf en die bykans vier maande oue-staking in die platinum-sektor, sy eie rykdom verdedig terwyl werkers krepeer.

Mathunjwa het gereageer op ‘n berig in The Star dat hy “in luuksheid baai”.

Die koerant het berig dat hy drie BMW’s in sy naam geregistreer het teen ‘n beraamde totale waarde van R900 000.

The Star beweer dat hy ook drie huise besit wat in sy naam is. Een van die eiendomme is ‘n vier-ster gastehuis.

Mathunjwa het ook by die ontbytinligtingsessie gesê dat die minerale van Suid-Afrika aan sy burgers eerste behoort voordat dit na ander lande gaan.

“Die minerale moet Suid-Afrikaners eerste bevoordeel voordat dit tot voordeel van die mense in Londen of waar hulle ook al is, gaan” Mathunjwa gesê.

Hy het gesê demokrasie beteken niks as mense op die grond ly nie.

Sowat 200 Lonmin-myners, onder wie ook inwoners van Marikana, sal Dinsdag in die Ga-Rankuwa landdroshof, noord van Pretoria, verskyn.

Die groep word aangekla van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens en intimidasie.

Die mense is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem, die dag waarop 34 mense deur die polisie doodgeskiet is.

Nog tien mense, onder wie twee polisielede en twee myn veiligheidsbeamptes, is ook destyds gedood toe die mynstaking in geweld ontaard het.

Aanklagte van moord is voorwaardelik deur die hof teruggetrek.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.