Misdaad op Stellenbosch – die wiel draai

Deel op

usDeur Leon Lemmer.

NUUT!

Die ontvoering van ‘n student wat op pad was om ‘n toets te skryf, het gesorg vir ‘n voorbladsy-berig in Die Burger (Praag 13 deser). Sedertdien het hierdie koerant afgesien van sy beleid om net gunstige berigte oor Russel Botman se Universiteit Stellenbosch (US) te plaas. Talle briewe oor die onverkwiklike misdaadsituasie op die kampus en in die dorp is gepubliseer. Pas (19 deser) het nog ‘n berig oor hierdie saak op die voorbladsy verskyn. ‘n Matie-student het omstreeks ses-uur in die middag gaan draf en is met ‘n mes aangeval. Sy het ‘n steekwond van 4 cm in haar ribbes gekry en toe sy ontvlug, is sy snymerke op haar rug toegedien.

Dit lyk asof baie mense in die universiteitsgemeenskap en elders nou uiteindelik sat vir Botman se transformasie en sy vryheidslofliedere is. Die wiel het gedraai. As ‘n voorbeeld hiervan, haal ek die uitstekend geformuleerde brief van Karl Kemp van Stellenbosch (Die Burger, 17 deser, p 11) volledig aan.

“Stellenbosch word deur misdaad verlam, en ons, die slagoffers, se hande is afgekap as gevolg van ons vertroue in die universiteit.

Ons studenteleierskap-struktuur is ‘n poespas van administratiewe tydmors en onbenullighede. Ons universiteitsraad is net ingestel op regeringsmandate en ‘n gedans na politieke pype. Ons polisiediens word beskuldig van geweld en haat, en is toegerus vir ondoeltreffendheid. Feitlik elke groot beleidsverandering of raadsbesluit is gerig op transformasie, winsbejag en om politici te paai.

Intussen word studente voor hul koshuise verkrag. Eiendom van etlike duisende rande word gesteel. Straataanvalle is alledaags; nie meer traumaties nie, maar net ‘n deel van die lewe. Ons leef in voortdurende vrees en paranoia.

Misdadigers lag vir ons. Stellenbosch is vir hulle soos ‘n inkopiesentrum met ‘n ewigdurende 100%-uitverkoping. Die grootste, mees drukkende en pertinente kwessie op ons kampus is nie transformasie of politiek nie – dit is misdaad.

Die prioriteit van die studente en die bestuur is heeltemal uiteenlopend – tot ‘n lagwekkende skaal.

Dit is nie ‘n kwessie van swart of wit nie. Dit is ‘n kwessie van lewe of dood. Dit is hier waar ons die streep in die sand trek; dit is hier waar die studente se stem oplaas gehoor moet word.

Dit wil voorkom of die universiteit nie meer uit lewende studente bestaan nie, maar uit klasgelde en demografiese verteenwoordiging. Ons hele beeld word op politieke korrektheid gebou.

Die studente word daarvan beskuldig dat hulle agterlosig, rumoerig en dronk is – kortliks, ons word daarvan beskuldig dat ons studente is, en daar word aan ons gesê dat ons die skuld moet kry vir die tragedie waarin die kampuslewe ontaard het.

Die universiteitsraad hou ons op ‘n afstand, van waar hy eerstejaars indoktrineer met vae konsepte soos ‘kritieke betrokkenheid’ en ‘sosiale interaksie’, wat lei tot ‘n leierskorps wat meer waarde in koffie-afsprake vind as in probleemoplossing.

Die universiteit het geen plig teenoor die armes en wanhopiges se veiligheid nie; diegene wat na bewering gedryf word tot misdaad soos verkragting. Eerder, die universiteit het ‘n plig om na die veiligheid van studente om te sien, en Russel Botman, sy raad, die polisie en die sogenaamde studenteleiers het almal hierin misluk.

Die grafskrif van die laaste sewe jaar onder Botman se bestuur is ‘n lang lys van roof, verkragting en verrotting. Dit is die absolute laaste strooi.”

Nadat u hierdie weergawe van Karl Kemp se brief gelees het, kan u dalk die moeite doen om sy volledige brief op die werbwerf bonfiire stellenbosch te lees ten einde te sien wat Die Burger uitgelaat het. Die koerant se verskoning sal wees dat die brief te lank was om volledig te publiseer. Lees gerus ook die ander briewe oor hierdie onderwerp op daardie webwerf en die kommentaar onder hierdie briewe. Let op hoe baie Engels pleks van Afrikaans gebruik word; ook deur Afrikaanssprekendes. Dit blyk onder meer dat ‘n mens in Engels met die US se sekuriteitsdiens moet kommunikeer as jy reaksie wil hê. Dít aan ‘n universiteit wat eens Afrikaans was. Dít aan ‘n universiteit wie se sekuriteitsdiens geensins die demografie weerspieël nie.

Wanneer daar enigsins sprake van “rassisme” by die US is, in die sin van wittes wat nie-wittes “benadeel”, klim Russel Botman dadelik op die wa. Wanneer wittes die slagoffers is, soos in bogenoemde gevalle, word die saak aan ‘n viserektor en die skakelbeampte oorgelaat. Dié viserektor se reaksie is op die US-webwerf te lees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.