President Jacob Zuma het die Afrika-Unie versoek om maatreëls wat daarop gemik is om vrede en bestendigheid op die vasteland te verseker, te laat geld.
Deel van die vermoëns wat die AU nodig het, is volgens die president die totstandkoming van die Afrika Bystandsmag.
Die Mag, waaroor daar voorheen ooreengekom is, sal doelgemaak vir snel-ontplooiing in krisisgebiede wees.
In Mei het Reuters berig dat kritiek geopper is oor Afrika se traagheid om sy eie vredesoperasies uit te voer, en dat swart regerings eerder wag op hulp en befondsing van die VN en Westerse skenkers.
Zuma het in ‘n verklaring sy kommer gelug oor die bedrywighede van gewapende rebelle in verskeie dele van Afrika.
Hy het ook die ontvoering van die meer as 270 skoolmeisies van Nigerië deur die terreurgroep Boko Haram, en die onlangse moord op burgerlikes in Kenia skerp veroordeel.
Zuma sê Suid-Afrika sien daarna uit om by die volgende vergadering van die Afrika-Unie se Vredes-en Veiligheidsraad, die veiligheidstoestand op die vasteland onder die loep te neem.