Verkiesing 2014

Deel op

verkiesing1deur Leon Lemmer

Daar is gepoog om blankes so entoesiasties oor die 2014-verkiesing te maak as wat daar geesdrif in die ou Suid-Afrika voor en op stemdag was. In die huidige grondwetlike bedeling is daar egter geen kans dat ‘n doeltreffende, beskaafde, nie-kommunistiese, Europeesgeöriënteerde regering aan die bewind kan kom nie. Deur te stem, is dit deesdae vir die blanke onmoontlik om werklik “‘n verskil te maak.” Weens ongekwalifiseerde algemene stemreg in ‘n eenheidstaat sal die blankes se stemme vorentoe al hoe meer onbeduidend word. Enige politieke party wat substansiële kiesersondersteuning verlang, sal na die pype van die swart meerderheid moet dans. Hierdie strategie is reeds baie duidelik by bv die DA waarneembaar.

Net partye wat grootliks aan swart mag toegewyd is, bepaal hoe ons in die nuwe Suid-Afrika regeer word. Dit is waarom ek baie simpatie het met blankes wat nie gemotiveer kan word om te gaan stem nie. Deur te stem, gee ‘n mens by implikasie ‘n mate van legitimiteit aan ‘n bose opset wat ongetwyfeld in sonde ontvang en gebore is. Die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, is foutief. Geen kieser wat gesonde Europese waardes aanhang, kan vir lief met ons veel geprese grondwet neem nie. Die ooglopende kwalitatiewe verskille tussen mense word in hierdie uiterste vorm van demokrasie heeltemal geïgnoreer. Waarmee ons sit, is ‘n demokrasie wat baie meer ekstreem is as dié van bv die VSA, daardie voorste propagandis vir demokrasie.

Hillary Clinton, die vorige Amerikaanse minister van buitelandse sake (2009-2013), het nie die VSA-grondwet nie maar dié van Suid-Afrika aanbeveel by daardie Arabiese Moslem-lande waarvan die politieke beheer onlangs na die “Arabiese Lente” verander het, bv Egipte (Danny Danon, Israel: The Will to Prevail, New York: Palgrave Macmillan, 2012, Amazon Kindle 105). Dit beteken dat die Kopte, die oorspronklike christelike inwoners van Egipte, wat 10% van die bevolking uitmaak, in dieselfde mate deur die meerderheid oordonder word as die blankes in Suid-Afrika. Dít is die opset wat vir ons in die naam van magsdeling geskep is. Dit is dus verstaanbaar dat Tertius Delport, toe hy besef dat magsdeling in werklikheid magsoorgawe is, vir FW de Klerk aan sy baadjielapelle gegryp en hom wou gedonder het (Hermann Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 424).

Wat het hierdie einste De Klerk na die afgelope verkiesing gesê? Dat dit vir hom so mooi is dat woongebied- en skoolintegrasie so vreedsaam vorder en dat ons aan die grondwet moet vashou, want dan sal alles wel wees. Voorheen het hy egter eie woongebiede en skole aan die blankes belowe en volgens Leon Wessels het De Klerk dit lank ernstig oorweeg om in die parlement teen die grondwet te stem. Volgens eie erkenning bring De Klerk deesdae die helfte van sy tyd in die buiteland deur. Hy ontsnap dus aan die omstandighede wat hy help skep het, terwyl gewone, nie-welvarende blankes verplig word om elke dag haglike omstandighede in die nuwe Suid-Afrika te trotseer.

Die skrywer Karel Schoeman is in Trompsburg gebore en het na sy aftrede weer daar gaan woon. Hy vertel in sy outobiografiese aantekeninge, Die Laaste Afrikaanse Boek (2002), hoe swartes die plaaslike skool oorgeneem en die ruite stukkend gegooi het. Die blanke kinders van die dorp en omgewing, wat met reg hierdie skool as hulle erflating kan beskou, word nou deur hulle ouers elders in skole geplaas in ‘n poging om hulle in ‘n mate teen verswelging te verskans. Dit beteken dat al hierdie wit kinders die geleentheid ontsê word om uit hulle ouerhuise skool toe te gaan en in hulle ouerhuise groot te word. Dit is sekerlik ‘n onberekenbare verlies vir sowel die ouers as hulle kinders en heel moontlik ook vir die land omdat hierdie kinders in die meeste gevalle ‘n beter vorming sou gehad het as hulle ouers ‘n groter aandeel daarin kon hê.

In Die Burger verskyn daar gereeld foto’s van groepe skoolkinders wat in Die Burger-strandhuis in Muizenberg tuisgaan. Die algemene patroon is dat eens blanke skole deur nie-wit kinders verswelg is. Omtrent al waaraan ‘n mens ‘n eens wit skool op hierdie foto’s kan herken, is aan die onderwysers wat steeds wit is. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is die foto van “gr 6- en gr 7-leerders van die Hoërskool Grabouw” wat vandeesweek (13 deser, p 3) gepubliseer is. In die see van nie-wit gesigte is daar enkele wittes. My hart bloei vir hulle.

Waarom is hierdie wit kinders in hierdie onbenydenswaardige situasie, afgesien van die klaarblyklike rede dat van hulle eie mense hulle land weggegee het? Daar is redes soos die volgende: (1) Hulle ouers aanvaar dat daar in die openbare lewe deesdae gedwonge rasse-integrasie is en reken dat hulle kinders maar so gou moontlik hieraan gewoond moet raak. Sulke ouers verteenwoordig myns insiens ‘n klein minderheid, want die meeste blanke ouers sou verkies dat hulle kinders ‘n (oorwegend) blanke skool bywoon. (2) Die ouers stel nie genoeg belang in die heil van hulle kinders nie en is nie afdoende bewus van die situasie waarin hulle kinders hulle op skool bevind nie. (3) Die ouers kan gewoon nie bekostig om vir die vervoer en verblyf van hulle kinders te betaal as hulle elders sou skoolgaan nie. Hierdie laaste rede geld sekerlik in baie gevalle. Dit is waarom daardie enkele wit skoolkinders in ‘n see van nie-wit “maatjies” my so ontstel.

Tydens die afgelope matriekeksamen het dit geblyk dat uitsluitlik seuns- of meisieskole die topmatrikulante lewer. Die Burger het toe navraag hieroor by skoolhoofde gedoen. Daar is toe gesê dat beter onderrig moontlik is omdat net seuns of net meisies in ‘n klas ‘n meer homogene groep daarstel en onderwysers dus beter aan hulle eiesoortige behoeftes kan voldoen. Ek het toe aan hierdie koerant geskryf en polities inkorrek beweer dat die etniese skeiding van klasse dan noodwendig tot die verdere verbetering van die uitslae sal lei. Dit is eintlik onnodig om by te voeg dat my skrywe nie gepubliseer is nie.

Wat my die moer in maak, is dat mense soos FW de Klerk, wat vir die huidige situasie verantwoordelik gehou kan word, uit sy luukse omstandighede vertel dat skoolintegrasie goed verloop. Dan is daar waaragtig mense, soos talle bevrydingsteoloë, wat skoolintegrasie “geregtigheid” noem, want hulle kyk eenogig uit ‘n nie-wit hoek. Dít terwyl wit kinders oneindige en onherstelbare skade ly. Ek begeer en gun vir my kinders en kleinkinders dieselfde kultureel-eie skoolopvoeding van hoë gehalte wat ek geniet het. Politici wat welvarend genoeg is om daagliks in groot mate hulle voortgesette apartheid en dié van hulle kinders en kleinkinders te koop, het soortgelyke omstandighede vir ons gewone wittes onmoontlik gemaak.

Nico Koopman is ‘n prominente bevrydingsteoloog en myns insiens ‘n nie-salige aktivis. Hy skryf oor die afgelope verkiesing: “Vandag mag geen party in die Suid-Afrikaanse politiek egter apartheid se waardes van verontmensliking, onreg en verdrukking najaag nie … ek wens dat veral partye in die ryke struggle-tradisie die waardes van die Grondwet sal verwesenlik” (Die Burger, 14 deser, p 9). Koopman sien klaarblyklik niks verkeerd in die barbaarse terrorisme en ander misdade van “die ryke struggle-tradisie” nie. Vir watter party moet ons volgens Koopman stem? Daardie party wat “die waardes van die lang stryd teen apartheid en kolonialisme … die beste beliggaam en bevorder.” Van ons word dus verwag om vir ‘n bevrydingsbeweging te stem. Dit maak nie saak hoe pateties hy as regering vaar nie. Koopman se kompas stuur hom konsekwent in die anti-blanke rigting.

Omdat meriete in die nuwe Suid-Afrika geminag word, word hoogs ondoeltreffende of onverantwoordelike indiwidue soms in verantwoordelike en daarby hoogs besoldigde poste aangetref. Ek kon nie glo dat diegene in beheer van die Oscar Pistorius-verhoor eers enkele dae voor die verkiesing agtergekom het dat die verkiesingsdag tot ‘n openbare vakansiedag verklaar is nie. As daardie regter, staatsaanklaer en verdedigingsadvokaat sulke algemene kennis nie het nie, in hoeveel ander opsigte skiet hulle kennis dalk nie ook tekort nie? So ‘n hofsaak is ‘n ernstige saak en hoort nie by uitstek as vermaak op bv ‘n eie televisiekanaal nie.

Nog ‘n sprekende voorbeeld van sodanige naïewe onkunde is Christo van der Rheede se brief in Rapport (11 deser). Hy beweer dat Rapport nie sy lesers mag ontmoedig om vir die ANC se stem nie, want die koerant het dan ‘n ANC-advertensie geplaas. ‘n Mens sou verwag dat Van der Rheede weet dat ‘n koerant nie noodwendig die produkte of dienste wat daarin geadverteer word, aanbeveel nie. Verder is dit ‘n wêreldwye verskynsel dat koerante gewoonlik ‘n bepaalde ideologiese, veral politieke, standpunt weerspieël. Wat Van der Rheede doen, is om in woord en daad die saak van die ANC te bevorder. Vandaar sy verwyt, gerig aan die blankes, oor die “wonde van die verlede.”

Van der Rheede maak ook, soos gebruiklik, voorbrand vir sy etniese groep deur van Rapport te verwag om teks deur “bruin intelligentsia” te plaas, waarvan hy, volgens eie oordeel, klaarblyklik een is. Soos die ATKV word die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) sedert 1994 in erge mate deur die transformasievirus geteister. Van der Rheede is deesdae die uitvoerende hoof van die AHi. Hy moet my maar verkwalik, maar elke keer as sy naam opduik, herinner dit my aan Laurence Peter se Peter Principle (1969): “People will tend to be promoted until they reach their level of incompetence.”

Die valse of tevergeefse entoesiasme by sommige blanke kiesers tydens die pas afgelope verkiesing het my laat dink aan blankes wat steeds elke jaar na bv die Strand gaan om vakansie te hou omdat dit ‘n familietradisie is wat sy oorsprong in die Suid-Afrika van weleer het. In die Strand is die see en die berge steeds daar en die lug is blou, want selfs die gehardste terroriste kon dit nie transformeer nie. Maar op die strand word die blankes verdring en voel hulle nie meer tuis of veilig nie. Baie van die winkels is deur inkommers uit bv Noord-Afrika en die Ooste oorgeneem. Bowenal het die Strand verval tot een van die vuilste en mees vervalle dorpe in die Kaapse Metropool. Voorheen het verkose raadslede en ‘n burgemeester, wat almal belang by die dorp het, hulle taak teen min, of geen vergoeding nie, vervul. Die stadsklerk was ‘n kundige persoon wat na verwerwing van die erkende formele kwalifikasie van die instituut van stadsklerke aangestel is.

Deesdae word die belastingbetalers van die Strand deur onbekende partygenomineerdes in die raad van die Kaapse Metropool in Kaapstad verteenwoordig. Hierdie politici se vergoeding en die belastinglas van die inwoners het eksponensieel toegeneem, terwyl dienslewering en infrastruktuurontwikkeling in dieselfde mate afgeneem het. ‘n Munisipale amptenaar se salarispakket kan R2.8 miljoen per jaar bedra (Die Burger, 16 deser, p 5). Die munisipaliteit se hoofbesteding is aan salarisse en die bystand van armlastiges. Soos in kommunistiese lande is die politieke mag op die vlak van plaaslike, provinsiale en nasionale regering dermate gesentraliseer dat hierdie instansies sowel ondoeltreffend as onpersoonlik geword het. Na die voorbeeld van die ANC se kommunistiese meesters is dit uitsluitlik die politieke party wat besluit oor wie die kandidate in verkiesings is. Die kiesers het hier geen werklike bedingingsmag nie. Vergelyk dit met die ou Suid-Afrika toe daar kiesafdelings was en ‘n kandidaat dikwels ‘n nominasiestryd in ‘n voorverkiesing moes wen voordat hy deur sy party as kandidaat in die verkiesing toegelaat is.

Die parlement, raad van provinsies, provinsiale wetgewers en die munisipale rade het toonbeelde van werkverskaffingsinstansies geword. In baie gevalle ontvang hoogs onverdienstelike politici hier buitensporige vergoeding en byvoordele. Daar is ook heeltemal te veel indiwidue wat uit hierdie trog vreet. Die Zuma-kabinet is baie groter as dié van bv die VSA. By Jacob Zuma is daar myns insiens geen sensitiwiteit te bespeur by die besteding van belastingbetalers se geld nie. Sy vier vroue en Nkandla simboliseer sy gebrek aan insig en selfdissipline en verhoog die druk op die belastingbetalers. Vir Zuma se herinhuldiging as staatshoof is R120 miljoen begroot (Die Burger, 16 deser, p 4).

Een van die ANC se skeppings is die sogenaamde Onafhanklike Verkiesingskommissie waarin hoofsaaklik ANC-kornuite dien. Honderde voltydse poste is geskep en gevul. Tydens verkiesings word derduisende verdere funksionarisse tydelik aangestel. In die tradisioneel blanke woonbuurt waarin ek woon, was daar nie net ‘n totale oorvoorsiening van beamptes in die stemlokaal nie, maar daar was voorspelbaar ook nie ‘n enkele blanke onder hulle nie. Dit is hoe demografiese verteenwoordiging in die praktyk toegepas word. In die ou Suid-Afrika het enkele amptenare in die Departement Binnelandse Sake verkiesings gereël. Dit was ‘n taak waaraan amptenare periodiek tyd bestee het. Die meeste van die tyd het hulle ander werk gedoen. Daar was toe ook nie sprake van ‘n leërskare buitelandse waarnemers wat teen groot koste dae lank hierheen kom, luuks vervoer en gehuisves word, en dan sertifiseer dat die verkiesing “vry en regverdig” was nie. Dit sou interessant wees om te weet met watter faktor (inflasie in ag genome) die koste per kieser of stemmer gestyg het. Heel moontlik is Suid-Afrika in hierdie opsig los voor die res van die wêreld.

Ek is in my siel oortuig dat verkiesings in die ou Suid-Afrika, wat die blanke stem betref, meer “vry en regverdig” as in die huidige opset was. Dat ‘n mens deesdae met ‘n beduidende getal oneerlike kiesers te make het, word gesimboliseer deur die inkmerk wat aangebring word op elke kieser wat wil stem; ‘n praktyk wat my teen die bors stuit omdat dit my menswaardigheid aantas, maar ook die wete tuisbring dat ons sekerlik nie meer deel van die Eerste Wêreld is nie. Deel van die nuwe vryheid wat ons sedert 1994 geniet, is dat ons almal soos vee gemerk word voordat ons mag stem. Dink net wat sou die reaksie gewees het as ‘n blanke bewind besluit het dat (nie-wit) kiesers eers gemerk moet word voordat hulle kan stem.

Dat die stemmery nie naasteby regverdig was nie, blyk uit die feit dat die African Independent Congress (AIC) verteenwoordiging in die parlement gaan hê; nie omdat so baie kiesers vir hom wou stem nie, maar omdat dit in ons jong demokrasie toelaatbaar is dat ongeletterde, oningeligte mense volle stemreg het. Die meeste AIC-stemme is glo te wyte aan die feit dat die kiesers hierdie party met die ANC verwar het. Maar sal enige van die uitgelese buitelandse verkiesingswaarnemers die elementêre integriteit hê om, na aanleiding van die AIC-fiasko, uit te wys dat die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer foutief en gevaarlik (dus nie in landsbelang nie) is? Waarskynlik nie.

Jare lank was daar ‘n koerant met die leuse: “Lees Die Burger en gesels saam.” Deesdae kan hierdie koerantlesers weens eensydige, polities korrekte beriggewing dikwels nie meer saam gesels nie. Die enigste politieke party wat hom daarop toespits om die Afrikanersaak te dien, Front Nasionaal, is nooit voor of kort na die verkiesing in hierdie koerant genoem nie. Die lesers is dus ook glad nie ingelig oor waarvoor dié party hom beywer nie. Die VF+, wat beweer dat hy die heil van alle minderheidsgroepe op die hart dra, het wel dekking geniet. Ek het dikwels gewonder wat Bun Booyens sr (1916-2010), wat baie jare lank (1968-1981) Afrikaanse kultuurgeskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch doseer het, van so ‘n nie- (indien nie anti-) Afrikanerkoerant sou dink. Hy sou geen troos of vrede gevind het in die wete dat sy kind, Bun Booyens jr, die huidige redakteur van Die Burger is nie. Die appel het in hierdie geval buitengewoon ver van die boom af geval.

Pas het Die Burger (16 deser, p 12) die eerste keer sy lesers bewus van die bestaan van Front Nasionaal gemaak. Leopold Scholtz skryf: “Dis allereers interessant dat ‘n uitgesproke rassistiese groepie soos die sogenaamde Front Nasionaal ‘n vernederende pak slae gekry het. Daardie soort HNP- of AWB-denke het selfs – dalk veral – by Afrikaners geen plek meer nie.” Let op die woordkeuse: “uitgesproke rassistiese groepie” en “sogenaamde”. Scholtz het uit die nuwe Suid-Afrika ontsnap en hom in Nederland gevestig. Hy het onlangs afgetree en is vir sy byverdienste van die goedertierendheid van sy vorige werkgewer, Media24, afhanklik. ‘n Mens kan dus verwag dat die teks wat hy lewer selfs meer as voorheen halsstarrig polities korrek sal wees.

Die dag na die verkiesing is Ilse Bigalke se rubriek (p 14) en Adam Small se gedagtes (p 15) oor die verkiesing in Die Burger gepubliseer. In die geval van Bigalke kan ‘n mens altyd reken op onoorspronklike maar polities korrekte gemeenplasige kommentaar. Small het onlangs sy triomfantelike terugkeer tot die openbare lewe gemaak en is klaarblyklik versoek om oor sy waarneming van die verkiesing te skryf. Die “bruin stem” moet immers gehoor word. Let op hoe vlot lieg Small: “Toe ons, as bruin mense, in 1994 vir die eerste keer ons kruisies op daardie papiertjies kon en gaan trek het.” Wat in Bigalke en Small se teks opval, is dat hulle gunstig na sowel Abraham Lincoln as Nelson Mandela verwys. Lincoln en Mandela is vir my moreel verwerplik omdat hulle militante swartes misbruik het om hulle politieke doelstellings te bereik, maar in die huidige polities korrekte klimaat word hulle gedrag deur baie mense as bewonderenswaardig geag.

Parlementslede is almal welgestelde mense en hulle sit in die raadsale nie omdat hulle noodwendig uitnemend gekwalifiseerd is om in belang van die land te handel nie, maar omdat hulle deur hulle politieke party benoem is. Dit is nogtans rasioneel feitlik onbegryplik dat nie een van hulle die moed van sy/haar oortuiging het om te sê dat ‘n verkiesing in die middel van die week sotlik en glad nie in die landsbelang is nie. In die ou Suid-Afrika het kiesers ‘n kort tydjie afgeknyp om te gaan stem, maar die res van die dag gewerk. Sedert die begin van ons jong demokrasie word die betrokke verkiesingsdag tot ‘n openbare vakansiedag verklaar, wat elke keer die verlies van miljarde rande vir ons ekonomie meebring. ‘n Woensdag, dus in die middel van die werksweek, word vir hierdie doel uitgekies, wat terselfdertyd verseker dat die ekonomie maksimaal daaronder ly. Geeneen van daardie politieke partye het die moed om voor te stel dat die publiek eerder so ‘n vakansiedag moet ontbeer nie, want dit kan so ‘n party stemme kos. Vanjaar was dit die vierde agtereenvolgende week waarin daar nie vyf weeksdae gewerk is nie.

Wanneer voorgestel word dat die vergoeding van politici verder verhoog word, is daar absolute eenstemmigheid by hierdie mense. Kan hulle dan nie maar net so eendragtig wees oor die hou van verkiesings oor ‘n naweek nie? Dit is immers wat in oorsese lande gedoen word, bv dikwels op ‘n Sondag. In die ou Suid-Afrika was ‘n Sondag as verkiesingsdag heeltemal onaanvaarbaar. Maar waarom nie die verkiesing op ‘n Saterdag hou sodat die publiek dan op die Sondag na die verkiesinguitslae kan luister nie? So ‘n opset behoort ‘n minimale nadelige invloed op die ekonomie te hê.

Nog ‘n elementêre knoop wat deur politici deurgehak behoort te word, is om bv die versperring van paaie tot ekonomiese misdaad te verklaar en die skuldiges swaar te straf. Ek weet dat geweld die tradisionele operasionele optrede van bv die ANC was en dat hy gevolglik nie graag die misdadige uitlewing hiervan by sy volgelinge aan bande wil lê nie. Maar ‘n uitweg wat dikwels gekies word, is om te beweer dat sabotasie in die ou Suid-Afrika geoorloof was, maar dat so iets nie meer in ons jong demokrasie toelaatbaar is nie. Betogings tydens hofsake is vir my net so onaanvaarbaar, want dit kan neerkom op intimidasie van diegene wat uitspraak moet lewer. Toegegee, regters word deesdae met die oog op transformasie pleks van om regskundige redes aangestel. Vakbonde moes lankal op die Margaret Thatcher-manier vasgevat gewees het, ens. Plaaslik word dinge deesdae op die Afrika-manier gedoen. Ek is eintlik opreg dankbaar dat ek heeltemal uit pas daarmee is.

Anders as vorige kere, het ek vanjaar gaan stem. Die enigste rede waarom ek dit gedoen het, is omdat ek op die nasionale vlak my stem ten gunste van Front Nasionaal wou uitbring. Op die provinsiale vlak kon ek dit nie doen nie, maar my gewete is skoon. Ek het by my besluit gebly om nooit vir die ANC of die ANC Lite (die DA) te stem nie. Dat die uitslae toon dat ek een van ‘n gideonsbende van skaars 5 000 is, ontstel my nie. 5 000 uit ‘n totale bevolking van 50 miljoen kan berge versit. Dit is die kwaliteit van hierdie mense wat tel en daarby kan en gaan hulle meer word. In die herlewing van die Afrikanersaak speel Praag ‘n onontbeerlike rol.

Ons is by die laagtepunt, maar ons staan ook aan die begin van die Afrikanerherlewing. As Praag voortgaan om publikasieruimte aan my te gun, hoop ek om in die komende maande periodiek die aandag op ander minderheidsgroepe te vestig wat soos Afrikaners ook vryheid en onafhanklikheid begeer. Ek dink aan groepe soos (in alfabetiese volgorde) die Armeniërs, Baske, Berbers, Israeli’s, Kataloniërs, Koerde en Skotte. By elkeen van hierdie groepe kan Afrikaners leer wat om te doen of nie te doen nie ten einde ons heil te bevorder. Na sodanige bespreking kan ‘n mens ‘n lys opstel van wat enersyds op die innerlike of geestelike vlak en andersyds op die waarneembare of materiële vlak gedoen moet word om die Afrikanerherlewing te bewerkstellig. Deurlopend sal Praag en soortgelyke instansies ‘n deurslaggende rol te speel hê.

By voorbaat kan gesê word dat al die pasgenoemde groepe oorvloediglik bewys lewer van hoeveel tyd, moeite en stryd dit verg om bv selfbeskiking en onafhanklikheid te verwerf. Dit maak dit al hoe moeiliker om te begryp hoe ‘n klein getal klein mensies, oftewel kabouters, en daarby geestelik armoediges, hierdie land binne ‘n kort tydsbestek verkwansel het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.