Mampie-Rampie nie parlement toe nie

Deel op
Mamphela_Ramphele
Een ramp na die ander

Die leier van Agang SA, Mamphela Ramphele, sal nie haar party in die Parlement verteenwoordig nie.

Dié besluit is geneem nadat daar die week ‘n bakleiery uitgebreek het oor die twee beskikbare poste.

Daar was selfs sprake dat Mampie-Rampie dit oorweeg om te bedank.

Ramphele is beskuldig daarvan dat sy die Kaapstadse prokureur Andrew Gasnolar voorgestoot het ten spyte van sy lae posisie op die lys.

Die Gauteng-tak se keuse was haar adjunk, Andries Tlouamma. Die eerste krake het verskyn toe verkiesingsuitslae wys dat die party slegs ‘n enkele parlementêre setel sal kry.

Mampie-Rampie het toe gesê sy wil die handdoek ingooi. Tlouamma en Gasnolar is in posisies twee en ses onderskeidelik op die party se lys van kandidate vir die parlement, maar die leier het dié twee aangewys.

Maar dinge het verander nadat Agang twee parlementêre setels gekry het. Daar word beweer dat Mampie-Rampie toe skielik aangedui het dat sy self sal gaan.

“Sy het gesê sy is nou beskikbaar, maar wou nie na die parlement met Andries [Tlouamma] nie,” het ‘n bron gesê.

Die party sê nou die Koördineerder van die Nasionale Jeugforum, Nyameka Mgozulo en die voorsitter, Mike Tshishonga sal die twee Parlementêre setels opneem wat die party in die algemene verkiesing gewen het.

Ramphele het gesê sy sal voortgaan om die party te bou voor die plaaslike regeringsverkiesing in 2016.

Sy sê die pas afgelope verkiesing het hulle geleer dat hulle nie hulle boodskap behoorlik aan die kiesers oorgedra het nie en hulle sal harder moet werk.

AgangSA het R20 miljoen van ‘n buitelandse skenker voor die verkiesing gekry, maar kon niks daarvoor wys nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.