
Die kantoor van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in Theewaterskloof in Caledon in die Wes-Kaap het bewerings van verkiesingsbedrog in Grabouw ontken.
Die munisipale verkiesingsbeampte, Stiffie Cronjé, het gesê twee leë geregistreerde stembokse, wat in ‘n huis in Rooidakke gevind is, is nie items wat stembedrog bewys nie.
Cronjé het gereageer nadat die DA die naweek ‘n saak van verkiesingsbedrog aanhangig gemaak het.
Volgens Cronjé is die amptelike uitslagstrokie deur alle politieke party-agente geteken nadat stemtellery by die stempunt afgehandel is.
Volgens Cronjé is ‘n rekonsiliasie gedoen van al die stemme in die twee stembriefhouers.
Cronjé sê dit is algemene gebruik dat alle ongebruikte, gebruikte of oorskot OVK-materiaal aan skole of individue geskenk word en dat dit verduidelik hoekom die stembokse by die huis in Rooidakke gevind is.