Eerlike brief aan ‘n verdwaalde Volk

Deel op

oboereplaasdeur BJ Engelbrecht

Soos jy hier begin lees sê jy seker vir jouself: Nog iemand wat iets te sê het oor Afrikanerskap, nog iemand wat ‘n eier te lê het oor hoe om al ons probleme op te los, wie dink die ou is hy om enige iets te sê. Wel, ek is ‘n doodgewone Afrikaner wat elke dag werk vir my salaris, ek is lief vir my gesin, my land en het geen behoefte om oorsee te trek nie. Ek skryf net as iets aan my karring en opbou tot ek later nie meer kan nie en dan moet dit uit. Ek voel die pyn en word kwaad oor plaasmoorde en die gate in die pad. Ek het nie ‘n doktorsgraad in Afrikanergeskiedenis of in Letterkunde nie, ek het sommer net matriek op ‘n Landbouskool. Ek skryf nie hierdie brief omdat ek ‘n openbaring gehad het oor hoe om alle Afrikanerprobleme op te los nie. Ek skryf dit eerlik uit my hart uit omdat ek sien hoe ons verval sonder dat ons dit besef, en hoe ons almal en alles blameer vir die Afrikaner se agteruitgang. Dit is tyd dat ons ophou saggies trap om ego’s en sensitiewe emosionele onderwerpe en mense. Dis tyd dat ons ophou lieg vir onsself.

Ons het so n ryk geskiedenis van mense wat die onmoontlike verrig het om te kry wat hulle wou hê. Sterk, trots en standvastige mense met ‘n onwrikbare wil om voort te dryf. Daar diep binne jou kleef nog van dit vas aan jou DNS, jy moet dit net gaan uitkrap. Met elke plaasmoord waaroor daar verslag gedoen word op Facebook en Twitter sê almal: Genoeg is nou genoeg en skel en vloek……en more gebeur dit weer en so herhaal elke dag hom en niks verander nie. Die rede: Omdat dit nog te goed met die Afrikaner gaan, ons eet lekker, slaap warm, kyk TV en ry waar ons wil wees. Ons vertel vir almal hoe kwaad ons is maar doen verder niks nie, want dis nie ons direkte familie wat vermoor is nie. Dis nog vêr van ons gemaksone af, so dis aanvaarbaar. In dieselfde asem moet ek sê daar is regtig mense en instansies wat uit hul pad gaan om betrokke te raak. Sunette en Steve en Afriforum reël optogte en almal sê ja ons is daar en op die dag daag daar ‘n paar mense op want ons is altyd te besig of ons hou nie van die een of daardie groep nie. Die vraag wat ons moet vra is: Hoe betrokke is onsself dat ons die reg het om ‘n vinger te wys na dié wat wel iets doen. Dit maak nie saak wat jy dink wat hulle motiewe is nie, wat doen elk van ons wat ons beter maak as hulle.

Daar kort iets, iets waarna ek hunker. Ons kort ‘n leier, ‘n leier wat visie en passie en persoonlikheid het. Iemand wat my bors laat swel van trots, wat nie van ‘n papier af hoef te praat nie, maar uit sy hart uit. Iemand wat staan by dít wat vir sy mense belangrik is en nie by wat vir sy ego en sak belangrik is nie. Alle respek aan die huidige politieke leiers, julle werk hard om stemme te wen, en daarin lê een van die probleme: julle wen stemme maar nie mense se harte nie. Julle is so vêr vooruit dat julle volgelinge wonder waar en wie julle is.

Omdat die Afrikaner nie ‘n prominente leier het nie probeer elke partyleier op die groot stoel sit en almal trap op mekaar, kraak mekaar af omdat elkeen die Messias wil wees wat die Afrikanervolk gaan red. Intussen word ons al hoe meer verdeeld en negatief vir die moontlikheid dat daar wel n toekoms vir die Afrikaner in Suid-Afrika is. Ons stry oor die verskil tussen ‘n Boer en ‘n Afrikaner terwyl die algemene Afrikaner/boer op straat hunker na ‘n groep waar hy ook kan inskakel sonder om te moet besluit of hy ‘n Boer of Afrikaner is. Ons mense verraai mekaar sonder om ‘n oog te knip vir ‘n pot lensiesop, jammer nie ‘n pot lensiesop nie, die moontlikheid van ‘n pot lensiesop.

Groepe baklei vir ‘n volkstaat. Hoe gaan dit ooit realiseer? Daar is groepe wat reeds vêr in die pad af is wat dit betref. Praat jy egter hieroor met die groepe kom jy dadelik agter dat elke groep glo die ander groepe wat daarmee besig is mors hul tyd want elke groep het n onfeilbare meesterplan wat hooggeleerdes van hier tot in England aan werk. Elke groep se plan is die beste, en te verstane werk mense al jare aan hierdie selfbeskikkingsplanne en as jy elke dag deur jou plan werk en lees raak dit al hoe meer haalbaar in jou geestesoog tot jy bo alle twyfel glo dat jy die beste plan het en dat jy jou posisie in daardie nuwe Volkstaat met alles sal beskerm, dit is immers jou plan en jy het die ure ingesit. Hoekom kan alle groepe wat na dieselfde mikpunt werk nie om ‘n tafel sit, alle planne saamgooi en een meesterplan uitwerk nie en na die tyd mekaar bedank vir die ongelooflike werk wat elke groep gedoen het vir ‘n hele volk nie? Of is almal se ego’s en ideologieë so groot dat jy dit eerder sal laat stof opgaar voor jy dit sal deel met ander groepe. En intussen floreer Orania so stil-stil op hul eie. Selfbeskikking is maar een punt, kyk jy om jou rond in ons daaglikse lewe sien jy dieselfde: Afrikaners gun mekaar geen plekkie in die son nie. Alles draai om persoonlike sukses, hoe goed ek is en hoe groot my huis en my kar is. Ek weet dis baie veralgemeen maar elke persoon wat hier lees ken so ‘n persoon of twee in die sirkel waarin hy beweeg.

As jy die sosiale netwerke volg is elke liewe stelling negatief oor die Afrikaner, almal baklei, almal is kwaad vir FW, almal fokus hul elke greintjie energie op ANC en alle negatiewe dinge wat hulle doen. Die rede: Want dit laat ons lekkerkry om te sê hoe sleg hulle is en hoe goed ons WAS. Die klem op WAS, want ons is lankal nie meer so sterk en goed soos ons was nie. Ons hardloop rigtingloos rond en gryp na elke halmpie wat uitsteek. Ons is soos Superman wat aan cryptonite gevat het. Ons kan nog onthou hoe dit voel om te vlieg, maar as ons ons arms uitsteek gebeur daar niks nie.

Ek het nog nooit gehoor van enige volk wat opgebou is deur te fokus op die negatiewe van sy teenstanders en volksgenote nie. Al hoe hierdie Afrikanervolk weer enigsins ‘n skaduwee van sy vorige trots en glorie kan wees is om te fokus na binne. Ons moet fokus op onsself, niemand kan homself oprig deur iemand anders af te breek nie. Dit het nog nooit gewerk nie. Elke Afrikaner het die verantwoordelikheid om positief te wees oor sy Afrikanerskap en dit uit te leef na sy mede-Afrikaners. Ons gee al ons energie aan ons teenstanders, want dis al waaroor ons praat en hulle floreer in al die aandag wat hulle kry. Ons moet stil raak sodat ons teenstanders wonder wat gaan aan. Dan sal ons hul aandag kry. Nou lag hulle want hulle kan deur elke beweging wat ons maak sien.

Ons Christenskap wat die hoeksteen van ons geskiedenis en waardesisteem was word nou op die agtergrond geplaas sodat ons mekaar en ander kan beswadder en verneuk. Maar ons bid steeds elke aand en verwag dat God ons sal lei en beskerm. Hoe verwag ons dat God na ons sal luister as ons nie eers probeer om nederig ons hoofde voor Hom te buig nie, maar steeds glo dat ons hierdie Supervolk is wat alles kan reg skiet. Bloedrivier is lankal verby en die ander ouens het nou ook gewere. Dit maak nie saak hoe goed jy kan skiet en hoe sleg hy skiet nie, vir jou een geweer is daar honderde wat terug wys. Ons kan nie n volk bou met vrouens en kinders nie. So kom ons hou op windmakerig wees oor wat was en fokus eerder op wat is.

Die waarheid is dat ons Afrikaners nie meer die hoofrol speel in Suid Afrika nie, en dat dit die bitterste pil is om te sluk. Ons is in ‘n tyd waarvoor ons geen verwysingsraamwerk het nie, want ons regering was altyd in beheer. Ek sê spesifiek regering want ons as volk het tog te lekker gelewe. “Pretoria sal voorsien” was die wagwoord in die ’60s tot ’80s en behalwe vir die grensoorlog hoef ons nooit te baklei het binne ons huise vir ons oorlewing nie. Ons het in ‘n beskermde tyd gelewe waarin die regering en staatsdiens so goed gewerk het vir ons dat ons in ‘n utopie gewoon het. Ja daar was mense wat swaargekry het en werkloos was, maar nie soos nou nie en daarom draai ons in die rondte want ons weet nie hoe nie. Die laaste Afrikaners wat moes veg vir oorlewing was Voortekkers en dié se kinders is al oorlede. En dit is die rede waarom die Afrikaner nie saamstaan nie, want ons weet nie hoe nie, want ons hoef nog nooit nie. Nie in die geslagte wat nou leef se tyd nie, in elk geval nie. Ons voorouers en ouers het aan ons oorgedra hoe om suksesvol en vol selfvertroue te wees, nie hoe om te oorleef in ‘n gemeenskap waar daar op jou getrap word nie. Werk word al skaarser en ons mense steek mekaar in die rug net om bo uit te kom. Ons is in ‘n geestelike stryd gewikkel tussen dít wat ons was, dít wat ons steeds wil wees, die realiteit van wat ons nou is en hoe ons God se woord kan aanpas dat dit geoorloof is om ander te haat.

Ons kan nog steeds ‘n sterk volk wees, maar deur nie te fokus op politiek nie maar ons kultuur, dít wat ons trots maak om ‘n Afrikaner te wees. Die FAK wat dié Afrikanerkultuurliggaam is moet nuwe lewe ingeblaas word. Dit het ‘n enorme taak om te verrig: Afrikanerskap moet positief bemark word onder diegene wat deel vorm van die Afrikanergemeenskap en as die FAK nie meer weet waar hul inpas nie moet daar n nuwe liggaam gestig word om die funksie te verrig. Ons moet ons energie na binne projekteer en ophou om dit op ons teenstanders te mors. Ons weet wie en wat hulle is en wat hulle doen en gaan doen. Die kanse dat ons dit gaan verander is baie baie min. As ons dink dat ons hulle gaan laat skuldig voel oor wat hulle doen en dat dit in ons oë verkeerd is, sit ons die pot totaal mis. Ons moet God terug in ons huise bring en weer aandgodsdiens hou, om ‘n tafel sit en eet en dankie sê vir kos wat ons kan geniet. Ons moet terugval op die basiese dinge om ons krag en energie weer op te bou, dan kan ons begin om vorentoe te gaan. As ons bou op dít wat nou ons basis vorm gaan ons nêrens kom nie. Elke Afrikaner het die hart van ‘n leeu, ons voel ons kan die wêreld aanvat en oorwin maar dink tog realisties en wees eerlik met jouself, kan jy dit man-alleen doen? Want as jy wil baklei is dit hoe jy dit op dié stadium gaan doen: Man-alleen. Ons moet wakker skrik en ophou droom en fantaseer oor ‘n verlede wat lankal verby is. Voor ons enigsins weer kan dink om ‘n eenheid te wees moet alle rolspelers hulle ego’s by die huis los en om ‘n tafel gaan sit om Afrikanereenheid en samehang te bewerkstellig anders is dit waarop ons trots is en was net stof in die wind.

Elke huidige leier wat veg vir sy of haar klein groepie Afrikaners se toekoms planne en ideale moet stilraak en vir n tydjie buite gaan staan en na binne kyk. Vra jouself of jou party of groep regtig in die belang van honderde duisende Afrikaner mense wat smag na leierskap en eenheid optree? As jou groep tot nou net n handjie vol mense kon trek, wat gaan verander dat jy skielik oorval gaan word deur nuwe lede? Is daar nie sin daarin om deel van n groter groep te word nie? Of is dit jou eie selfsugtige ideale wat jy nastreef omdat jy voel dat jy die Messias is van die Afrikanervolk wat op die groot stoel moet sit.
Ek voel n splinternuwe Afrikaner groep moet tot standkom, ‘n nuwe leier moet gekies word deur die mense uit alle belange groepe. En dis nie noodwendig die persoon met die meeste grade nie maar n natuurlike leier. Ons het n leier nodig wat vir ons kan wys hoe n mens jou knieg voor God buig en hoe om nederig voor Hom te staan want ons is te arrogant soos dinge nou staan. Ons is dit aan ons nageslagte verskuldig om ons geskiedenis en erfenis staande te laat bly. Ons kyk met trots na ons leiers en helde uit ons verlede. Wat gaan ons nageslagte sê as hulle na ons kyk……of sê ons ons gee om maar laat maar Gods water oor Gods akker loop.

Op die ou einde is hierdie net my opinie en gaan nie die loop van Afrikanergeskiedenis verander nie want ek beweeg nie in die kringe van die volksvaders en selfverklaarde uitverkorenes nie. En almal kan oordeel soos hulle wil, onthou net eendag staan elk van ons voor God en dit sluit myself in want ek is net ‘n doodgewone sondige mens.

Ek het hierdie brief voor die verkiesing geskryf en as ek na die uitslae kyk, kan ek nie vêr verkeerd wees nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.