Moet Afrikaners die EFF begin ondersteun?

Deel op

delport_manfred_600deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Op die oog af lyk dit of die DA sy prestasie dramaties verbeter het sedert 2009, en of hy sy posisie as die verstekkeuse onder blanke kiesers verder versterk het. Ek is egter nie heeltemal so beïndruk nie, en sal gevolglik nie probeer om “inheemse” danspassies soos Rooi Helen uit te voer, as ek die DA was nie.

Eerstens wil ek die lesers herinner aan die DA se grootpratery, tot kort voor die verkiesing, oor hoe dié party kwansuis na 30% van die stem mik, en hoe die Noordkaap en Gauteng in sy visier is. Daar is ook gespog dat Port Elizabeth en die sogenaamde Tshwane-metrogebiede voor die DA se aanslag sou swig. Daarvan het natuurlik dadels gekom. Die DA is beperk tot 22% van die nasionale stem. Die stede van Johannesburg, Port Elizabeth en Pretoria is nog steeds ferm onder ANC-beheer. Die ANC het steeds die verkiesing in Gauteng met sowat twintig present meer steun as die DA gewen, e-tol en Nkandla desnieteenstaande.

In absolute terme het die ANC slegs 200,000 stemme afgestaan sedert 2009. Die ANC het sowat 11.4 miljoen stemme op hom verenig, teenoor die DA se ongeveer 4.1 miljoen. As Nkandla en e-tol saam die ANC slegs 200,000 stemme gekos het, en die DA sowat 3.5 miljoen ekstra swart stemme sal moet bykry om gelyk met die ANC te trek, moet die land hom maar staal vir nóg 18 Nkandlas en e-tol-fiasko’s, alvorens die DA die ANC uit die kussings gaan lig. Teen twee sulke skandale elke vyf jaar, gaan dit die DA waarskynlik dus nog 90 jaar neem om die ANC te verslaan.

Wanneer die DA selfvoldaan oor die 2014-uitslae is, verswyg hy ook twee ander belangrike feite. Een is dat die DA glad nie gegroei het sedert die munisipale verkiesings in 2011 nie. Inteendeel; die DA se steun het gekrimp vanaf 24% in 2011, tot by 22% in 2014. Goed, ek sal toegee dat die stempatrone anders is tussen munisipale en nasionale verkiesings, maar dit is nietemin interessant, nie waar nie, dat die DA se steun eintlik met sowat 2% gekrimp het oor die afgelope 3 jaar sedert 2011?

Die tweede ongerieflike feit vir die DA, is dat die NP in 1994 reeds 82 setels verower het. Die DA het slegs sewe meer, 89, in 2014 verower. Die amptelike opposisie het dus ‘n karige sewe setels bygekry, vanaf 82 tot 89, oor die afgelope 20 jaar, ten spyte van ‘n naarstigtelike vryery na die swart stem en grootskeepse uitverkopery van blanke kiesers met die DA se steun vir rasstellende aksie en SEB. Die silwer sikkels waarop Rooi Helen en trawante gehoop het toe hulle blankes verloën het, is kwalik te siene in die uitslae. Om nog tagtig setels by te kry, teen hierdie tempo, sal ‘n hele 228 jaar neem.

Selfs al sou ons as Afrikaners bereid wees om lank genoeg – 90 of 200 jaar – te wag vir ‘n DA-regering, gaan dit ons nie veel in die sak bring nie, gegewe dat die DA en ANC se beleid bykans presies dieselfde is nie. Net soos daar geen rede is om te glo dat ‘n MDC-regering in Zimbabwe beter as die Zanu-PF sou wees nie, so min rede is daar om te glo dat ‘n Xhosa-Brits-gedomineerde DA beter vir Afrikaners se belange sou wees as die ANC. Sou ‘n DA-regering more aan bewind kom, is ons bloot terug by die Anglo-Xhosa, Mbeki, se tydperk as president, aangesien Mmusi Maimane, Rooi Helen se swartoogseun, ‘n openlike bewonderaar is van Mbeki. Rasstellende aksie en siek politieke korrektheid sal steeds ons voorland wees, ook onder ‘n DA-bewind.

Nee; Afrikaners sal baie meer strategies as dit moet dink. ‘n Party met slegs 22% van die steun, en dieselfde beleid as die ANC, help my niks nie. As ons wel strategies wil dink, en onsself bevry van die onheilige Brits-befonsde Ooskus-kabaal wat beide die ANC en DA verteenwoordig, sal ons noodwending moet vra: Wat is die grootste bedreiging vir beide die ANC en sy Lite-weergawe, die DA, by die stembus?

Dit is natuurlik die EFF. Libgestremdes soos Pirate Piet Broucamp is steeds bleek en bewering nádat die EFF bo verwagting goed presteer het, sonder noemenswaardige geldelike steun uit Londen, soos wat die ANC, Cope in 2008 en die DA geniet het. Die libgestremdes het gehoop en gebid vir 2 of 3%, maar toe gaan wen die EFF 6.6% sonder enige noemenswaardige befondsing of partystrukture, tot groot konsternasie en ‘n geskokte stilte van die libgestremdes. As Malema daarin slaag om uit die tronk te bly, gaan die EFF homself nie soos Cope vernietig nie, en gaan daar in die volgende verkiesing nog meer EFF-stemmers wees as die 6.6% van 2014.

Kort voor lank sal die DA homself nie meer as amptelike opposisie bevind nie, en sal die EFF of die EFF se opvolger hom vervang. Wanneer die ANC deur ‘n bedreiging van links gekonfronteer word, en dit gevolglik skeur in ‘n linkse en regse faksie, sal ‘n samesmelting tussen die regse faksie van die ANC en die DA onvermydelik wees. Daar is reeds geen verskil in terme van beleid tussen die ANC en DA nie, en hulle sal moet saamstaan teen die linkse bedreiging van die EFF. Die blankes wat in 2014 reeds vir hul eie ondergang en ANC-beleid – rasstellende aksie en SEB – gestem het, sal dan letterlik ANC-ondersteuners moet word. Hulle is eintlik reeds; Rooi Helen borrel reeds oor van klakkelose bewondering vir die Freedom Charter asook Chris Hani.

Op daardie stadium sal Cosatu hulself by die EFF of sy opvolger skaar, die ANC-DA-alliansie sal moontlik die daaropvolgende verkiesing verloor, en sal die ongeluk van die geskiedenis bekend as Suid-Afrika uitmekaar spat en waarskynlik in ‘n swart-op-swart burgeroorlog verval. ‘n Burgeroorlog is ongelukkig die mees waarskynlike uitkoms, want daar is geen manier dat ‘n bevrydingsbeweging vrywillig van politieke mag afstand sal doen nie. Kyk bloot wat het in Zimbabwe en Kenia gebeur.

Die EFF of sy linkse opvolger gaan bostaande met of sonder Afrikaners se deelname vermag. Met eksterne hulp sal die proses egter bespoedig word. Moontlik kry die EFF selfs befondsing uit Beijing, nes die ANC en DA tans uit Londen befonds word.

Die volgende is waarskynlik ‘n radikale gedagte vir baie Afrikaners, maar ons sal mooi moet gaan besin wie van hierdie twee partye is vir ons as volk die grootste bedreiging. Hoe moet Afrikaners onsself posisioneer in hierdie onvermydelike stryd? Wie gaan die stryd of selfs die burgeroorlog wen? Kan ons munt slaan daaruit? Moet ons nou reeds, vir strategiese redes, die een kant of die ander kant begin ondersteun, al is dit heimlik? Waarom dan nie maar in ieder geval aanvaar ons gaan ‘n minderheid bly, dat die DA in sy huidige vorm nooit gaan (of selfs kan) wen nie, en dan daarvolgens stem nie? Die DA se karige 22% is immers presies net so min werd as die selfs meer karige paar persent van die VF+. Nie een van hulle gaan rasstellende aksie kan stuit nie. As jy dink dat die EFF of sy opvolgers die stryd uiteindelik gaan wen, moet jy as Afrikaner dan nou reeds die EFF antagoniseer deur vir die DA-ANC-alliansie te stem?

Nogal interessante vraagstukke hierdie, as jy oor twee jaar weer in die munisipale verkiesings gaan stem….

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.