Swart is die nuwe wit

Deel op
Johannesburg in die vroeë 1960s toe Verwoerd aan bewind was
Johannesburg in die vroeë 1960s toe Verwoerd aan bewind was

deur Leon Lemmer

Propagandiste vir swart mag, bv die ANC, gee voor dat daar nog nooit so erg teen mense gediskrimineer is as tydens apartheid nie. Omdat swartes na bewering so uitermate benadeel is, word apartheid deesdae as voorwendsel misbruik om swartes buitensporig te bevoordeel. Dit is maar net ‘n enkele voorbeeld van hoe die waarheid in die nuwe Suid-Afrika vir politieke doeleindes verkrag word.

“Die mees wydgelese algemene geskiedenis van Suid-Afrika [Rodney Davenport, South Africa: A Modern History] het in sy vyfde uitgawe (gepubliseer in 2000) geargumenteer dat sowel die Eiselen-verslag [oor swart onderwys, 1951] as die wet [op Bantoe onderwys, 1953] gegrond was ‘op die veronderstelling van die Afrika-verstand se minderwaardige potensiaal’ en dat die wet ‘uitdruklik ontwerp is om die swart mense vir ‘n minderwaardige plek in die samelewing voor te berei.’ In die vorige uitgawe (1987) is daar geen verwysing na sulke veronderstellings of idees nie. Die 2000-uitgawe maak ‘n kniebuiging na die feit dat ‘n nuwe regering, behep met rassisme, aan die bewind gekom het. Apartheid is nie meer as ‘n onreg of misleide beleid beskou nie, maar as die boosheid self. Laasgenoemde standpunt word nie in die meeste geskrifte van die 1950’s en 1960’s aangetref nie” (Hermann Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 69-70).

Wat Giliomee in hierdie aanhaling aantoon, is dat daar mede-historici is wat die oorgang na die nuwe Suid-Afrika misbruik om (soos die Broederbonders wat by die ANC aangesluit het) hulle gatte te swaai. Davenport is die soort geskiedskrywer wat die ANC-bewind nodig het om die hersiene geskiedenishandboeke vir skole te skryf; ‘n mark waarin outeurs baie geld kan verdien. Deesdae word die smarte van swartes in die ou Suid-Afrika doelbewus oordryf ten einde die huidige swart bevoordeling en blanke benadeling te probeer regverdig.

Nog ‘n doelbewuste poging ter veroordeling van die verlede en vergoeiliking van die hede is Cobus Olivier van Sasolburg se brief wat op 4 deser in Rapport gepubliseer is. Hy redeneer dat Fikile Mbalula se voorgestelde 60:40-sportkwotas baie beter is as die 100:0-kwotas van die verlede. Hierdie voorbeeld toon duidelik dat verpligte rasseskeiding plek vir gedwonge rasse-integrasie gemaak het. Die “vryheidstryders” het onvryheid gebring. Olivier ignoreer ook die feit dat daar vir die nasionale sokkerspan in die openingswedstryd tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi doelbewus net nie-wittes op die veld was. “Die wêreld” moes sien dat die nuwe Suid-Afrika swart is en nie wit nie. In die ou Suid-Afrika is die vryheid aan elke etniese groep gegun om ‘n 100% etniese span op alle vlakke saam te stel. In die nuwe Suid-Afrika mag daar 100% swart sportspanne, skole, universiteite, woongebiede, ens, bestaan. Wat nie toelaatbaar is nie, is enigiets wat 100% wit is.

Maar diegene wat in 1994 of later gebore is. word nogtans “vrygeborenes” genoem. Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch, is behep met hierdie term en dring sy politieke preokkupasies op aan al die studente en personeel. Gwede Mantashe, die kommunistiese sekretaris-generaal van die ANC, daarenteen haat die term “vrygeborenes,” want nie-wittes ly volgens hom steeds weens apartheid (Die Burger, 9 deser, p 4). In bv die VSA en by bruines plaaslik word steeds gekerm oor die beweerde gevolge van slawerny. Al wat hierdie elemente probeer, is om te verseker dat hulle onbepaald, verkieslik vir altyd, van owerheidsweë bevoordeel word.

By (blanke) werkgewers bestaan daar deesdae die neiging om eerder buitelandse swartes (bv Mosambiekers, Zimbabwiërs) as Suid-Afrikaanse swartes in diens te neem. Dit word in die eerste plek gedoen nie omdat inkommer-arbeid goedkoper bekom word nie, maar omdat die wydverspreide persepsie bestaan dat hulle beter werkers is. Die werkskuheid van (sommige) inheemse plaaslike swartes kan moontlik toegeskryf word aan die erbarmlike beskerming wat hulle tydens die blanke bewind geniet het; dat nie toegelaat mag word dat swartes krepeer terwyl wittes in beheer is nie. Dit is moontlik dat swartes oor die algemeen beter lewensomstandighede in die ou Suid-Afrika as elders in Afrika geniet het, al probeer bv ANC-propagandiste hard om ons presies die teenoorgestelde wys te maak.

In al die eeue en dwarsoor die wêreld kan voorbeelde gevind word van groepe mense wat sosiaal uitgesluit en benadeel is. In die jongste verlede, 19de en 20ste eeu, en selfs tot in die hede, is daar uitgeworpenes soos die volgende, wat ek alfabeties lys:

  • Al-Akhdam in Jemen, wat moontlik afstammelinge van Sudanese soldate is.
  • Baekjeong in Korea, wat Kitaanse nomadiese Mongole is.
  • Burakumin in Japan, wat uit hoofde van hulle beroepe met dooie mense of diere te make het.
  • Dalits in die Indiese subkontinent, was as onaanraakbares bekend gestaan het.
  • Kagote in die Baskiese gebiede in Spanje en Frankryk, wat met bv melaatsheid geassosieer word.
  • Madhiban in Noord-Somalië, wat jagters is en ongesofistikeerde take verrig.
  • Roma (gypsies, sigeuners) wat veral in Sentraal- en Oos-Europa voorgekom het. Die Nazi’s wou hulle uitwis.

Wat hierdie sewe groepe gemeen het, is dat hulle sosiaal onaanvaarbaar was. As uitgeworpenes was hulle in groot mate verplig om bymekaar en apart van ander mense te woon en te lewe. Dit was asof hulle vuil en besmet was. As ongewenstes is hulle deur vooroordeel en diskriminasie gemarginaliseer en vervolg. In sommige gevalle was hulle verplig om feitlik deurlopend rond te trek op soek na ‘n ander en hopelik beter heenkome. ‘n Nomadiese leefwyse was kenmerkend van verskeie van hierdie groepe. Wat hierdie sewe groepe gemeen het, is dat hulle sosiaal op die allerlaagste vlak was. Maar daar is verskillende redes waarom hulle dermate onaanvaarbaar geag is.

Toegepas op die ou Suid-Afrika kan ‘n mens sê dat die hiërargie, (van die hoogste tot die laagste) vir die vier etniese groepe soos volg was: blankes, Asiate, bruines, swartes. In die nuwe Suid-Afrika (na die veelgeprese onderhandelde, demokratiese revolusie) is die hiërargie omgekeer: swartes, bruines, Asiate, blankes. Wat eerste was, is nou laaste. Wat bo was, is nou onder. Wat die hoogste was, is nou die laagste. Diegene wat gehad het, kan nou beroof word van hulle besittings (bv grond/plase, huise, geld) en selfs van hulle lewens. Aan dié wat nie gehad het nie, moet nou gegee word. Wat was, was onreg. Wat is, is geregtigheid.

‘n Omkering van waardes het plaasgevind. Brekers (diegene wat alles moontlik gedoen het om die land te vernietig) word hoër as bouers (diegene wat die land ontwikkel het) geag. Misdadigers, bv dié wat hulle aan terrorisme skuldig gemaak het, mag maar die hoogste poste beklee. Die begaafdste groepe (blankes, Asiate) word opsy geskuif en moet plek maak vir (skynbaar/moontlik) minder begraafdes (swartes, bruines). Swartes verklaar hulleself welkom in blanke woonbuurte. Hulle sien geen ironie daarin as swartes hulle in die Wit Huis tuismaak nie. Karel Schoeman verwys tereg na “die omgedopte Suid-Afrika” (Die Laaste Afrikaanse Boek: Outobiografiese Aantekeninge, Kaapstad: Human & Rousseau, 2002, p 423, 431).

In die modewêreld word kleure van jaar tot jaar afgewissel. Byvoorbeeld, as pruimpers in jaar X in die mode is, word dit in jaar Y met olyfgroen vervang. Dit is nie dat die een kleur noodwendig beter as die ander een is nie. Dit is eerder die geval dat die kleur anders is. Ingelyks is die nuwe Suid-Afrika nie noodwendig beter as die ou Suid-Afrika nie. Waarom dit gaan, is dat dit anders moet/wil wees. Transformasie is letterlik verandering en nie (noodwendig) verbetering nie. Heel gepas is die kommuniste se slagspreuk dat hulle die wêreld wil verander. In die modewêreld sal in jaar Y gesê word: Olyfgroen is die nuwe pruimpers. Na analogie daarvan kan van die nuwe Suid-Afrika gesê word: Swart is die nuwe wit. Maar hou in gedagte: Dit is nie (noodwendig) ‘n verbetering nie.

Die huidige “reggestelde” hiërargiese toestand in Suid-Afrika word dikwels vir groot lof uitgesonder. Wat is verkeerd hiermee?

Eerstens het die bogenoemde sewe groepe nie eensklaps van onder na bo gevorder nie. Al wat gebeur het om hulle omstandighede te verbeter, was om diskriminasie teen hulle te verminder of selfs te verbied. Hulle is steeds op hulleself aangewese as hulle hoër in die sosiale hiërargie wil vorder. Daarvoor is eie prestasie, dus aktiwiteite gegrond op meriete, noodsaaklik. In die nuwe Suid-Afrika, daarenteen, het die ANC-regering ingevolge swart mag oornag en grootliks prestasieloos die hoogste etniese status aan die swartes toegeken.

Tweedens was hierdie sewe groepe op die allerlaagste sosiale vlak en hulle is in baie opsigte steeds daar, al is daar minder faktore wat hulle vordering belemmer. In die nuwe Suid-Afrika, daarenteen, is die blankes amptelik van die hoogste vlak tot die laagste vlak neergehaal weens verraad deur hulle eie mense. Die faktore wat blankes se vordering belemmer, is sekerlik nie verminder nie. In die praktyk het die beperkings in werklikheid eksponensieel vermeerder. Die speelveld mag nie gelyk wees nie, want baie van die swartes kan nie sonder bevoordeling mededingend wees nie.

Derdens is alle diskriminasie teen hierdie sewe groepe ontmoedig of selfs verbied. In die nuwe Suid-Afrika, daarenteen, is diskriminasie nie verbied nie. In die grondwet word diskriminasie ten gunste van nie-wittes en die gevolglike benadeling van wittes nie net toegelaat nie, maar inderdaad aangemoedig. Geen keerdatum vir sodanige “regstelling” word gestel nie, gevolglik kan diskriminasie teen blankes tot in die oneindige voortgesit word.

Daar is talle aanduidings dat die wittes in baie opsigte die begraafdste etniese groep is. Dit is die groep met die beste prestasierekord. Elders word sodanige groep nêrens tot die laagste vlak gedegradeer nie omdat besef word dat hulle ontmagtiging onmoontlik in landsbelang kan wees. Maar die degradering van wittes tot die amptelik laagste vlak is presies wat die grondwetlike onderhandelaars en die grondwetskrywers bewerkstellig het. Dit is ‘n heeltemal uitsonderlike situasie waarin statutêr bepaal word dat die uitnemendste burgers, as hulle wit is, deur rassediskriminasie benadeel mag word. So ‘n opset is klaarblyklik nie in die openbare belang nie. Dit is wél in die belang van individue wat ten koste van meer verdienstelike blankes bevoordeel word.

Vir die ANC is dit ‘n wet van Mede en Perse dat nie-wittes (en veral swartes) bo wittes en vroue bo mans bevoordeel moet word. Die nuwe Suid-Afrika is dus wesenlik sowel rassisties as seksisties. In sy retoriek beweer die ANC en sy meelopers egter presies die teenoorgestelde, dus dat die nuwe Suid-Afrika nie-rassisties en nie-seksisties is. Hierdie uitlating word egter weerspreek elke keer as die demografie opgehaal word as rede waarom die oorgrote meerderheid poste aan swartes en die helfte daarvan aan vroue toegeken moet word.

Onderliggend aan hierdie redenasie is die foutiewe aanname dat mense gelyk en wesenlik eenders is. Sowel die werklikheid as die deurslaggewende belang van meriete word grootliks ontken. In hierdie proses word (van) die voortreflikste burgers die geleentheid ontneem om ‘n optimale bydrae tot die ontwikkeling en behoud van die land te lewer. Vooruitgang word gevolglik gestrem en dienslewering faal klaaglik.

Hierbo is genoem dat groepe om verskillende redes op die laagste vlak in die hiërargie beland het. Die rede wat vir die degradering van Suid-Afrikaanse wittes tot die amptelik laagste vlak aangevoer word, is apartheid. Apartheid word as ‘n onvergeefbare wanprestasie voorgehou. Dit word summier ontken dat apartheid enige positiewe aspekte of heilsame gevolge het. In werklikheid gebeur dit selde dat ‘n politieke maaksel net sleg of net goed is. Slawerny het bv ledigheid bekamp en die ekonomiese en sosiale nuttigheid van die slawe bevorder deurdat hulle geleer is om allerhande take te verrig. Tydens apartheid het die land vinniger ontwikkel en was daar meer wet en orde as onder die ANC-bewind. Onderwys en dienslewering was voorheen stukke beter en korrupsie was baie minder.

Doodgewone bekwaamheid kan nie strafloos geïgnoreer word nie. Tydens apartheid is baie poste by voorkeur (selfs uitsluitlik) deur wittes gevul. Realisties beskou is die beste kandidate dikwels (dalk selfs meesal) aangestel. In die nuwe Suid-Afrika word die meeste poste by voorkeur aan nie-wittes (en veral swartes) toegeken. In die geval van poste wat gevorderde meriete vereis (bv bekwaamheid, toewyding, ondervinding, formele kwalifikasies), word die beste kandidate deesdae in baie (moontlik die meeste) gevalle nie aangestel nie.

Op hierdie manier word daar in die naam van ideologie versuim om die heil (dus die beste belange) van die land na te jaag. Die groeiende blanke diaspora is ‘n ernstige aanklag teen die ANC-regering. Die land kan nie bekostig om (van) sy beste burgers te verloor nie. In hulle plek stroom minder verdienstelike (en dikwels onwettige) immigrante die land binne; in baie gevalle armlastiges wat veel eerder ‘n las as ‘n bate vir die land is. Geen politieke party voer egter ‘n veldtog hierteen nie.

Die bogenoemde Kagote is die buitelandse benadeelde groep wat my die meeste aan die huidige Suid-Afrikaanse blankes herinner. Die Kagote is met melaatsheid geassosieer. Ons as blankes (en veral die Afrikaners) word met apartheid geassosieer. Dit het my laat dink aan ‘n gedig van die bruin digter S(ydney) V(ernon) Petersen (1914-1987) waarmee ek op skool kennis gemaak het. In sigself toon dit dat onderwys in die apartheidsera nie in dieselfde mate ideologies gesensor is as wat tans onder ANC-bewind die geval is nie.

Die gedig waarna ek verwys, is “Bede” wat in 1944 in die bundel Die Enkeling gepubliseer is. JC Kannemeyer noem hierdie gedig “die klaggebed oor ‘die vloekstraf van ‘n donker huid'” (Die Afrikaanse Literatuur, 1652-1987, Pretoria: Academica, 1988, p 224). Petersen kla “dat selfs U, Heer, van my moes wyk … my nie wou reinig van die slyk.” Maar dit is nie die verwysing na slyk wat my hier op die spoor van Petersen gebring het nie. Dit is veel eerder die vergelyking van sy pigmentasie (aan die einde van die eerste strofe) met ‘n “skurfte”. Dit het die Kagote se melaatsheid by my opgeroep.

Ingevolge die revolusionêre omkering van waardes in die nuwe Suid-Afrika is dit nie meer ‘n donker huid wat ‘n vloekstraf is nie. Nie-witheid het ‘n kragtige middel ter bevoordeling van onder meer nie-verdienstelikes geword. Waar bruines van weleer, soos Petersen, hiërargies wit wou wees, wil huidige bruines, soos Russel Botman, Jonathan Jansen en Henry Jeffreys, deesdae swart wees. Vir hulle is swart inderdaad die nuwe wit. Witheid het ‘n skurfte, ‘n melaatsheid geword. So iets is egter alleenlik moontlik omdat toegelaat is dat apartheid buitensporig gedemoniseer is en uitsonderlike blanke prestasie oor eeue opsetlik geïgnoreer word.

Onderliggend is daar die onomstootlike feit dat ons deur ons eie mense ontheem is. Daardie bliksems woon ongeskonde en welvarend tussen ons.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.