Zille oorweeg koalisie met ANC

Deel op
Zille se ondersteuners in Bekkersdal
Zille se ondersteuners in Bekkersdal

Aangesien daar van Helen Zille se beloftes om Gauteng oor te neem dadels gaan kom volgens die jongste syfers, oorweeg die DA ‘n koalisie met die ANC, het die DA-leier Donderdag gesê.

Helen Zille sal die wedloop vir Suid-Afrika se rykste provinsie na verwagting ver verloor, maar sy oorweeg tans ‘n koalisie met die regerende party in die provinsie.

Die DA wil duidelik die opkoms van die EFF gebruik om vir hulself posisies en portefeuljes in die ANC te beding. Dit is nie meer duidelik hoe die party die ANC sogenaamd gaan teenstaan oor beweerde korrupsie met hul jongste koalisievoorstelle nie.

Daar heers groot druk op die DA om hul beloftes van posisies aan swart lede op die kandidatelys na te kom en Zille sien samewerking waarskynlik as ‘n manier op dié kopseer op te los.

‘n Lae stempersentasie in Gauteng sou die DA effens bevoordeel het, maar dit blyk dat die kiesers in groot getalle gaan stem het, wat die ANC sal help om hul meerderheid te behou.

Pansy Tlakula, die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie het bevestig dat die uiters hoë opkoms in stedelike gebiede ‘n “dringende uitdaging” vir die OVK inhou.

“Dit moet onthou word dat ons die hoogste aantal geregistreerde kiesers van 25,3 miljoen in Suid-Afrika se geskiedenis het,” het Tlakula in Pretoria gesê.

Onder diegene wat as kiesers geregistreer het, was 634.000 sogenaamde “born frees”, kinders wat gebore is na die einde van apartheid.

Kommentators het voorspel dat ‘n hoë opkoms kiesers die ANC sal bevoordeel.

Zille het samewerking tussen die DA en ANC in Gauteng in die vooruitsig gestel “om die EFF uit die regering te hou”.

Die nuutste Sunday Times Ipsos-opname het aangedui dat die EFF waarskynlik die derde meeste stemme sal kry in Gauteng.

Die ANC het Gauteng gemaklik in die 2009-verkiesing ingepalm met 64,76 % van die provinsiale stemme teenoor die DA se 21,27 %.

Die ANC sal na verwagting 60% van die stemme of meer in Gauteng kry, volgens ‘n Ipsos-opname van vroeg in April. Slegs 29,2% het aangedui dat hulle vir die DA in Gauteng sal stem.

Desnieteenstaande het die DA aan kiesers vertel dat hulle ‘n goeie kans staan om in Gauteng te wen.

Die ANC-woordvoerder en Nasionale Uitvoerende Komiteelid Jackson Mthembu het gesê daar is tans geen sprake van ‘n koalisie nie.

Die EFF-leiers het Woensdag ook gesê hulle sal nie oorweeg om ‘n koalisie in Gauteng aan te gaan nie.

Hoewel stem glad verloop het in die belangrikste gebiede, was die verkiesing nie sonder voorvalle nie. Die OVK het gesê dat 97 mense, insluitende verkiesingsbeamptes, in hegtenis geneem is vir ongerymdhede.

Zindzi Mandela se man, voormalige MK-soldaat Molapo Motlhajwa, is in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om die polisie te dwing om hom in ‘n operasionele kiessentrum in Noordwes toe te laat.

‘n Woordvoerder van die polisie, brigadier Thulane Ngubane het gesê die verdagte wat gewapen was, het daar opgedaag in ‘n SANW-voertuig.

In Bekkersdal aan die Wes- Rand, het betogers klippe na die polisievoertuie gegooi en OVK-tente op die vooraand van die verkiesing aan die brand gesteek.

Meer as 40 mense is in hegtenis geneem in verband met ‘n brand by ‘n stemlokaal in die Mandlazini-gebied naby Richardsbaai aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

Die groep van 300 het Dinsdag saam oproerig geraak en die gemeenskapsaal, wat as stemlokaal gebruik sou word, aan die brand gesteek.

Kiesers moes onder polisietoesig hul kruisies trek en die wat nie wou stem nie, het buite die stemlokaal die stemmers gekoggel.

Die stemtellery by al agt stempunte in Lorraine en omliggende gebiede buite Tzaneen in Limpopo is afgehandel nadat die stemmery meer as vier ure vertraag is toe die polisie en die OVK-beamptes nie die stemlokale weens oproer kon bereik nie.

Min kiesers het op stemdag opgedaag. Die situasie in die gebied het Donderdag na kalm teruggekeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.