
Cope sal as die grootste verloorder in Dinsdag se verkiesings uittree. Dit lyk asof die party ‘n aansienlike aantal setels in die parlement en verskeie provinsiale wetgewers gaan verloor.
Nog syfers wat ingekom het toon dat die EFF die derde grootste party nasionaal gaan wees. In Noordwes lyk dit tot dusver of die EFF die amptelike opposisie sal wees.
Na die verkiesings in 2009 was Cope die derde grootste party in die parlement met 30 setels. Indien die huidige neiging voortduur, sal Cope se steun van sewe komma vier twee persent in die vorige verkiesing daal tot minder as ‘n persent in vanjaar se verkiesing.
As die stemtellery korrek is, lyk dit asof die DA steeds die amptelike opposisie in al die provinsies sal wees, behalwe in die Wes-Kaap.
Na oproer deur seisoenale werkers van De Doorns in die provinsie in 2012 – wat voor die deur van die ANC gelê is – het kiesers teen die regerende party gestem.
Dit wil dus voorkom asof die onrus die DA in die Wes-Kaap bevoordeel het.
Volgens die stempatroon tans sal die ANC die hoofopposisie in dié provinsie bly.
Die ANC loop tans nasionaal voor met ‘n derde van die stemme wat getel is. Nege-en-twintig politieke partye het aan vanjaar se verkiesing deelgeneem.
Provinsiale uitslae van die verkiesing begin nou instroom en in Gauteng is 15 persent van die stemme getel. ‘n Kort rukkie gelede het die ANC ver voorgeloop, gevolg deur die DA en dan die EFF in die derde plek.
Daar is tans sowat 1% van die stembriewe wat bederf is.
Die ANC kan setels in Mpumalanga verloor maar sal volgens aanduidings steeds ‘n tweederde meerderheid behou in die provinsie.
Die ANC het in die 2009 verkiesing 27 van die 30 setels in die provinsie bekleë, maar nog nooit minder as 80-persent van die stem gehad nie. Die stempersentasie in die provinsie is tot dusver net meer as 73 persent.