Afrikanerpartye verder gemarginaliseer in verkiesing

Deel op

afrikanerleadersMet 27% van die stemme wat getel is, kon geen Afrikaanse party in die verkiesing hond haaraf maak nie. Front Nasionaal het tot dusver slegs 1 142 stemme kon verwerf met ‘n platform ten gunste van kulturele selfbeskikking, behoud van Afrikaanse skole en die uiteindelike herstel van Afrikanersoewereiniteit. Die VF Plus het insgelyks geen vooruitgang gemaak nie en lyk asof hy bloot sy huidige stembasis gaan behou, nadat die party hom nader aan multikulturalisme geposisioneer het. Tot dusver het die VF Plus 44 869 stemme aangeteken.

Die DA lewer ‘n stewige vertoning en staan tans op 1 057 350 stemme, oftewel 28,3%. Die ANC het 2 169 454 stemme ontvang, wat gelyk aan 58,1% van die stemme is. Na verwagting sal die ANC se aandeel verder styg soos wat stemme uit verafgeleë landelike gebiede inkom. Die Ekonomiese Vryheidsvegters van Julius Malema is die mees suksesvolle nuwe party in die verkiesing, met 154 481 stemme, oftewel 4,14%.

In die lig van die hoë stempersentasie in die verkiesing van 72,62%, behoort die kwota stemme wat ‘n party nodig het om ‘n setel te verkry ook te styg. In die 2009-verkiesing was die kwota stemme vir een setel 44 000. Indien dit tot 50 000 styg, sou dit beteken dat van die kleiner partye nog verder sal uitsak en dis selfs geen uitgemaakte saak dat Mamphela Ramphele van Agang ‘n setel gaan kry nie. Ook die Vryheidsfront Plus mag sy aantal parlementêre setels sien terugsak van vier tot drie of selfs twee, afhangend van hoe die tellery van hier af vorder.

In die Wes-Kaap se provinsiale verkiesing het die VF Plus ook verder teruggesak en nadat 56% van die stemme getel is, het die VF Plus slegs 6 709 stemme ontvang, oftewel 0,67% van die totaal. Weereens behoort die VF Plus geen provinsiale setel in die Wes-Kaap, waar die DA koning kraai, te ontvang nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.