Verkiesingsamptenare is van hulle stemlokaal op Nigel aan die Oos-Rand verwyder nadat stemmateriaal by die huis van ‘n party-agent gehou is.
Na afloop van die eerste dag van spesiale stemme, het die joernalis Aldrin Sampear getwiet dat die stemmateriaal wat gekonfiskeer is deur die SAPD deur ‘n vrou by name “Swazi” gehou is.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê personeel in wyk 77 het die verkiesingsprotokol oortree.
Twiets van Radio 702 het “Swazi” as ‘n ANC-agent voorgehou.
Die OVK-materiaal is glo by ‘n huis van ‘n DA-agent in Wyk 77 gekry volgens bronne op Twitter.
Die OVK het nie genoem van watter party die agent was nie, maar het bevestig dat personeel in Wyk 77 verkiesingsprotokol oortree het deur die gebruik van die huis van ‘n party-agent om stemmateriaal oornag tussen spesiale stemdae te hou.
Die OVK het gesê die stemmateriaal is van die perseel verwyder en na ‘n nabygeleë polisiestasie vir bewaring geneem.
Suid-Afrika se vyfde nasionale en provinsiale verkiesing sal gehou word op 7 Mei en die OVK verwag dat 25.390.000 geregistreerde kiesers hul stemme in 22 263 stemlokale in die land sal uitbring.