Duitse film ‘Barbara’ lewer subtiele kritiek op Westerse waardes

Deel op
Nina Hoss in 'Barbara'
Nina Hoss in ‘Barbara’

Een van die mooiste films wat ek in ‘n lang tyd gesien het, is Barbara (2012) deur die Duitse regisseur Christian Pezhold. Die fliek het ‘n baie interessante gegewe, want dit speel rondom 1980 in die DDR (kommunistiese Oos-Duitsland) af.

Die hoofkarakter waarna die film vernoem is (gespeel deur Nina Hoss), is ‘n dokter wat as straf vir haar aansoek om na die Weste te gaan na ‘n klein plattelandse dorpie vanaf Berlyn verplaas word. Intussen koester sy ‘n geheime plan om na die Wester te ontsnap en ontvang ook geld van haar Wes-Duitse minnaar wat haar twee keer tydens die film in sy splinternuwe Mercedes-Benz kom sien.

André (Ronald Zehrfeld) en Barbara eet saam in die kafeteria van die hospitaal waar albei as dokters werk
André (Ronald Zehrfeld) en Barbara eet saam in die kafeteria van die hospitaal waar albei as dokters werk

Daar is lang stiltes in die film en die kyker drink die mooi, rustige, plattelandse tonele behaaglik in. Barbara se vernaamste vervoermiddel is ‘n fiets, maar soms word sy ook deur haar kollega André (Ronald Zehrfeld) in sy klein Trabant-stasiewa opgelaai. Mettertyd ontwikkel daar ‘n onuitgesproke band tussen die twee wat natuurlik die reeks keuses wat vir Barbara voorlê verder kompliseer. Gaan sy die land in die geheim verlaat en vir André en haar pasiënte by die hospitaaltjie in die steek laat? Is haar eie versugting na ‘n vryer en materieel beter lewe in Wes-Duitsland die moeite werd, gegewe die idilliese en sinvolle lewe van diens aan haar medemens wat sy by die hospitaal verrig?

Sulke vraagstukke word egter nie in die rolprent verwoord of eksplisiet uitgebeeld nie; die kyker maak sy eie afledings soos wat die verhaal sy loop neem. In een toneel waar sy haar Wes-Duitse minnaar in ‘n hotel vir buitelanders ontmoet, wys ‘n ander DDR-meisie vir haar ‘n katalogus met juweliersware in die Weste. Die oppervlakkige en vulgêre manier waarop die meisie haar sug na verbruikersgoedere uitspreek, staan in sterk kontras met die meer menslike problematiek waarin Barabara gewikkel is: om lewens te red, kinders gesond te maak en om af en toe ‘n boek te lees of na Beethoven oor die radio te luister.

Omdat Oos-Duitsland stilgestaan het wat otnwikkeling en modes betref, voer die film ‘n mens eintlik dekades ver terug en nie net na 1980 nie. Die meubels, boustyle en binneversiering van die woonstelle voel eerder asof die horlosie na die 1930s of 1940s teruggedraai word. Nie dat die DDR as ‘n utopie aangebied word nie: Barbara word wel dopgehou deur ‘n agent van die Stasi en sy word gereeld op vernederende wyse deursoek vir Wes-Duitse geld of ander tekens dat sy ‘n ontsnapping beplan.

Die uiteindelike wending wat die film neem word deur ‘n rebelse jong meisie, Stella (Jasna Fritzi Bauer), veroorsaak. Sy moet harde plaaswerk doen in ‘n soort arbeidskamp waar sy boonop swanger geraak het. Barbara kom dit tydens ‘n mediese ondersoek agter en ontferm haar oor die meisie.

Die film is werklik aangrypend en genees ‘n mens van enige stereotipes oor die voormalige DDR. Net soos ons in Suid-Afrika deur die laat bekendstelling van televisie in die land teen die ergste Westerse dekadensie en oppervlakkigheid beskerm is, het die Ystergordyn Oos-Europeërs op hul beurt afgesonder van die globale Amerikaanse kultuur met sy multikulturalisme, asook die verval van nasionale kulture en identiteite. Trouens, die Amerikaanse kommentator John Morgan het onlangs juis hierdie punt gemaak as hy sê:

Whatever one may think about the Soviet Union, for half a century the Iron Curtain prevented Cultural Marxism and the worst excesses of liberalism from penetrating into the East. Thus, those societies remained ethnically cohesive and retained a strong sense of national identity, and even their religious institutions, while officially suppressed, only grew in strength by being cast into a dissenting role. Those are the factors upon which any sense of a national or ethnic culture must be founded.

Dit val insgelyks op hoe Duits alles in die DDR was: die eenvoud, outydse styl en die klem op ‘n kultuur van wetenskap, lees en klassieke musiek – teenoor die popkultuur van Wes-Duitsland wat veel meer aan Engels en Amerikaanse invloed blootgestel was. Miskien is dít juis die punt wat die regisseur met Barbara wil maak: sonder om nostalgies oor kommunisme te raak, kan ons leer by die spontane, natuurlike en byna boerse identiteit wat die mense in die DDR gehad het.

Die feit dat sowel Barbara as Stella die stelsel opponeer, veroorsaak dat veral Barbara tot ‘n sterk sin vir haar eie identiteit en individuele lot kom – ongeag die ideologiese of ekonomiese stelsels wat haar in die verdeelde Duitsland omring. Dit sluit natuurlik aan by wat Morgan hier bo sê: dat die Ystergordyn mense tegelykertyd teen Westerse dekadensie beskerm het, maar hulle ook die geleentheid gebied het om in hul afkeer van kommunisme hul eie kultuur en nasionale identiteit te herbevestig.

Die film het verskeie benoemings en toekennings ontvang en kan sterk aanbeveel word. Dis eenvoudig ontroerend en verruklik. Op IMDb ontvang dit ‘n punt van 7,2 uit 10 deur kykers, maar ek sou dit ‘n 9 uit 10 gee.

PRAAG-lede kan as deel van ons nuwe Kineklub ‘n gratis aflaaiskakel vir die fliek ontvang deur ‘n epos aan inlig@praag.org te stuur, met “Kineklub” in die onderwerpreël. Afhangend van u internetspoed, sal u dit binne ‘n uur of twee kan aflaai om tuis te kan kyk.

Hier is die voorprent: 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.