Petrol of diesel? Deel 2

Deel op
Die Ford EcoSport
Die Ford EcoSport

Met sportnutsvoertuie soos die Hyundai iX35 en VW Tiguans wat so gewild is, maar nou al bykans aan die R400 000-merk raak, is die volgende twee motors dalk net die oplossing vir al die vroulike bestuurders tussen ons. Tot onlangs toe was daar nie ‘n groot verskeidenheid kompakte, bekostigbare sportnutsvoertuie nie. Die oorspronklike RAV4 was vir ‘n klein rukkie juis dit; nie so hard soos die Suzuki SJ nie en heelwat groter. Later was dit eintlik net die Daihatsu Terios en in ‘n mindere mate die Suzuki Jimny wat aan die vereistes voldoen het. Die Nissan Juke het bygekom, maar was so anders en het ‘n meer sportiewe gevoel as ‘n die van n mammamobiel. Nou is daar meer van dié rygoed beskikbaar met die koms van die Ford EcoSport.

Die Nissan Juke
Die Nissan Juke

Ons het Ford se EcoSport 1.5 Ambiente en Nissan se Juke 1.5 dCi Acenta+ onder hande gehad. Ons doen nog steeds die vergelyking tussen petrol en diesel.

Wat soek ‘n mens in ‘n kompakte sportnutsvoertuig? Ryhoogte om effens hoër as die verkeer om jou te sit, grondvryhoogte om by die skool op die sypaadjie te kan klim sou daar nie genoeg parkering wees nie, ruimte vir ten minste drie kinders met hul skooltasse en ‘n ekonomiese voertuig, want om elke dag in die verkeer te wees. kan duur raak. Nog ‘n vereiste is betroubaarheid.

Die Ford EcoSport se paneelbord
Die Ford EcoSport se paneelbord

Albei die motors word standaard verkoop met ‘n 100 000km-plus-vervaardigerswaarborg en onderskeidelik ‘n 3-jaar- 90 000km-diensplan vir die Juke en 4-jaar- 60 000 km-diensplan vir die Ford. Brandstofverbruik by die Ford is 6,5l/100km en uitlaatgasse van slegs 154g/km word deur die 1.5-liter-petrolenjin gelewer. Nissan se 1.5-liter-dieseleenheid lewer 4,2 l/100km en 109g/km se uitlaatgasse. Die twee enjins is so naby aan mekaar dat dit weereens in die regte lewe byna geen verskil gaan maak nie. Op ‘n rit vanaf Pretoria na Pietersburg het beide die voertuie teen dieselfde spoed en met bagasie gelaai 34 liter brandstof verbruik. Dus op die teerpad in die wind maak dit regtig nie ‘n verskil nie. Die EcoSport se petrol- 1,5-liter-viersilinderenjin lewer 82 KW en 132 Nm se wringkrag, die 1.5-diesel-Juke lewer 81 KW en 260 Nm se wringkrag.

Beenruimte agter in die Ford EcoSport
Beenruimte agter in die Ford EcoSport
Beenruimte agter in die Nissan Juke
Beenruimte agter in die Nissan Juke

Wat die binneruime van die motors betref, lyk en voel die Ford se binneruim net beter aanmekaar gesit as dié van die Nissan. Daar skort niks met die Juke se kwaliteit nie, maar die Ford is net soveel beter. Ruimte binne die Ford is ook baie slimmer benut as in die Juke. Ons kon byvoorbeeld glad nie ‘n groot koelboks vir ons piekniek agter in die Juke kry nie: die vorm van die agterdeur verhoed dit net eenvoudig.

Paneelbord van die Nissan Juke
Paneelbord van die Nissan Juke

Die beenruimte agter in beide die kompakte motors is knap vir volwassenes, maar meer as voldoende vir kinders tot en met 14 jaar. Bestuursposisie in die Ford is ook heelwat beter as in die Juke en agter die stuur van die Juke voel dit die heel tyd asof die motor se neus te hoog in die lig loop. Die breë hoë ligte sit vanuit die bestuurder se oogpunt amper hoër as jy. Dit is ‘n snaakse gevoel en iets om aan gewoond te raak. As ‘n mens voor die Juke ry, lyk die twee groot ronde ligte, wat voor in die neus van die Juke gemonteer is, ook baie aggressief en baie uitheems in jou truspieël. Die EcoSport aan die ander kant, vertoon modern en sag op die oog, maar tog is daar iets wat effens uit verhouding is, dit is asof die wielbasis te lank is of die motor te nou is. So wat voorkoms aanbetref, sal jy of dol verlief wees op die motor of glad nie van hom hou nie. Persoonlik het my oog makliker op die Fordjie geval.

Beide motors voldoen aan al die kenmerke wat ‘n ma in ‘n motor soek. Watter een sal ons koop? Wel, teen R205 000 is die Ford EcoSport R63 000 goedkoper as die Nissan Juke teen R268 000. Die Juke is anders en staan uit, maar die Ford is meer prakties en lyk meer soos ‘n tradisionele sportnutsvoertuig.

Ons dink ma se Ford EcoSport sal glad nie sleg langs pa se Ranger in die motorhuis lyk nie!

Ford EcoSport 1.5 Ambiente

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 36 uit 40

Nissan Juke 1.5 dCi Acenta

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 2 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 3 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 29 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.