Twee dekades van demokrasie en vryheid?

Deel op
'n Halssnoermoordtoneel... Met sulke metodes het die ANC-SAKP sy mag in SA gevestig
‘n Halssnoermoordtoneel… Met sulke metodes het die ANC-SAKP sy mag in SA gevestig

deur Leon Lemmer

Verlede naweek, op 27 April, is wyd verkondig dat twintig jaar van demokrasie en vryheid gevier word. Kom ons besin, ten aanvang en agtereenvolgend, kortliks oor “demokrasie” en “vryheid”.

Eerstens, wat beteken “demokrasie” in hierdie konteks? Omdat algemene stemreg in ‘n eenheidstaat aan alle Suid-Afrikaners bo 18 jaar toegestaan is, beteken dit dat die meerderheid kiesers, sonder enige verdere kwalitatiewe oorwegings, besluit watter politieke party(e) die land regeer. Geen vereistes oor ontwikkeling/beskawing, formele onderrig, geletterdheid, ingeligtheid, insig, intelligensie, prestasie, ondervinding, ens, word gestel nie. Ten spyte van ooglopende bewyse van die teendeel, is alle burgers gelyk verklaar. Die gevolg is dat Suid-Afrika sedert 1994 aan die tirannie van die meerderheid uitgelewer is. In die praktyk kom dit daarop neer dat die lot van ons almal in die hande van swart mag is.

In hierdie opsig is daar geen sprake van FW de Klerk se beloofde magsdeling nie. In soverre swartes saamstaan, is die nie-swartes (wittes, bruines, Asiate) grootliks magteloos, bloot omdat die oorgrote meerderheid inwoners swart is; nie omdat swartes bv beter weet nie.

In baie ander lande, bv in talle Amerikaanse state, ontbeer misdadigers tydelik of permanent hulle stemreg. In Suid-Afrika is stemreg ‘n onvervreembare mensereg; ook vir misdadigers, al beteken “misdaad” dat teen die samelewing gesondig is, dus dat die heil van ‘n land in geen mate aan misdadigers toevertrou behoort te word nie. Selfs wat misdadigheid betref, word daar dus by kiesers geen kwalitatiewe onderskeid gemaak nie; heel moontlik omdat so baie van diegene wat tans hoë poste beklee, ‘n misdaadrekord het (bv eufemisties “struggle-“geskiedenis genoem) of dit amptelik behoort te hê. (Die president het die grondwetlike reg om iemand se misdaadrekord uit te vee en hy het hierdie mag al gebruik.)

Soos in die geval van Nelson Mandela is die algemene neiging om demokrasie sonder meer as iets goeds voor te hou. Demokrasie is nie noodwendig goed nie. In die konteks van ontwikkelde/beskaafde lande kan algemene stemreg tot skaflike regering lei. Tradisioneel het dit in die Westerse of eerstewêreldse lande gegeld; nie in die kommunistiese of tweedewêreldse lande nie.

In die derde- en vierdewêreld lewer sodanige demokrasie dikwels onbevredigende resultate. “Some writers have begun to distinguish between the Third World, which they confine to those developing countries with rich natural resources such as the oil-producing states of the Middle East, and the Fourth World, in which are counted all the other underdeveloped countries which have no such resources and little if any prospect of development” (The Fontana Dictionary of Modern Thought, London: Fontana/Collins, 1977, p 635).

Die toenemende onvermoë om weens bv arbeidsonrus natuurlike hulpbronne te benut, laat die nuwe Suid-Afrika die gevaar loop om vierde- pleks van derdewêrelds te word, terwyl die ou Suid-Afrika in baie opsigte eerstewêrelds was. In die ou Suid-Afrika was bv die middestede en -dorpe, asook die blanke woonbuurte, skole en universiteite, onmiskenbaar Europees. Sedert 1994 het alles feitlik onherkenbaar verander en het verval die plek van ontwikkeling ingeneem. Dit is omdat die blankes in hulle geboorteland deur verraad in eie kring ontheem is. Neem gerus waar in watter mate Europese beskawing binne twee dekades plek vir die brutalisering van die openbare lewe gemaak het. Verfynde, beskaafde Europeërs kan onmoontlik so iets vier.

Hoe sien Danny Titus die 1994-verkiesing? “Die regse mobilisering en bomme kon dit nie keer nie, die brutale geweld en slagtings ook nie” (LitNet 30 April). Hy assosieer (blanke) regses met geweld; nie die ANC en PAC wat by uitnemendheid gewelddadige “bevrydingsbewegings” was nie. Hy verwys na die “naakte rassisme” van die verlede. Hy skryf oor “meneer Mandela” en “Madiba” sonder enige sweem van distansiëring; wél met duidelike, ongekwalifiseerde bewondering. Hierdie prulteks is waarskynlik in werktyd gekraam. Dit kom ampshalwe van die hoof van kultuur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Daardie kultuur was eens Afrikanerkultuur. Deesdae is die ATKV tot hoogstens ‘n Afrikaanse kultuur-instansie getransformeer. Maar waarom sou Titus oor die wondere van die nuwe Suid-Afrika skryf sonder enige verwysing na Afrikaans of die Afrikaanse kultuur? As dít is hoe die ATKV ontaard het, dra dit by tot die gevoel van ontheemding van Afrikaners.

In die konteks van derde- en vierdewêreldsheid kan demokrasie ‘n destabiliserende onding wees. “In 2005, the United States declared it was abandoning its policy of supporting stability at the expense of democracy and that it would now support the democratic aspirations of all people” (Humphrey Hawksley, Democracy Kills: What’s so Good about the Vote? London: Macmillan, 2009, p 2). Demokrasie word dus deur Westerse lande en veral die VSA verabsoluteer, selfs al sou dit teen die belange van minder ontwikkelde lande indruis. “To them, it seemed to be more about creating a mirror of our own societies than solving the problems of the developing world” (p 6). “Much evidence indicates that voting to appoint a government in the developing world can lead to war, disease and poverty” (p 1).

Aan die einde van sy boek vestig Hawksley by implikasie die aandag op die kolossale onnoselheid van Suid-Afrika se skielike (1990-1994) oorgang na ‘n demokratiese bestel: “Building institutions to make a country safe for democracy should be counted in decades not years. The Allies waited ten years after the Second World War before returning sovereignty to Germany and seven years for Japan. It could easily take Bosnia a quarter of a century from the end of its war in 1995” (p 382). In die ou Suid-Afrika is swartes wat aan die regering deelgeneem het, bv op plaaslike vlak, sover moontlik sistematies deur veral ANC-aktiviste uitgemoor. Dit was vir ANC-kamerade ‘n prestige-saak om die politieke mag in die land oor te neem en Suid-Afrika dan sonder enige ondervinding van regering te bestuur, vandaar die klaaglike mislukking. Waaroor ernstig besing moet word, is: Behoort ons trots op ons jong demokrasie te wees? Lyk die regeringsrekord sedert 1994 belowend?

Tweedens, wat beteken “vryheid” in die nuwe Suid-Afrika? Die kern van wat tans plaaslik onder vryheid verstaan word, is dat die land vry van apartheid is. Maar implisiet hierin is die eintlike rede vir die feesviering dat die land van die blanke bewind bevry is. Europese beskawing het plek vir afrikanisering gemaak. Is dit iets waaroor gejuig moet word? Is die bewese rekord van Europa oor baie eeue nie veel beter as dié van Afrika nie? Kan hieruit nie maklik afgelei word dat daar sedert 1990/1994 agteruit geboer is nie?

Onder vryheid verstaan die ANC en sy meelopers dus bevryding van sowel apartheid as blanke oorheersing. In die plek van verpligte rasseskeiding het egter nie vryheid gekom nie maar gedwonge rasse-integrasie. Daar het ook baie ander soorte onvryheid oorgebly. Die land is bv nie bevry van rassediskriminasie nie. Aanstellings en bevorderings word oogluikend op rassistiese en seksistiese gronde gedoen; dermate dat dienslewering deurlopend agteruitgaan. In die grondwet word rassediskriminasie uitdruklik toegelaat, mits dit teen blankes gepleeg word. Die ANC-regering kan glad nie op ‘n nie-rassistiese grondslag funksioneer nie. Regstellende aksie, swart bemagtiging en nie-wit (veral swart) bevoordeling is die kern van die ANC-regering se beleid, wat nie sonder rasseklassifikasie en -diskriminasie uitgevoer kan word nie.

Die land is ook geensins van kommunisme bevry soos FW de Klerk valslik in die vooruitsig gestel het nie. Destyds het De Klerk goeie raad in die wind geslaan en dit wys geag om met terroriste te onderhandel, al het hulle geweier om geweld af te sweer. Die gevolg was dat elke keer wanneer die ANC en sy meelopers nie hulle sin gekry het nie, hulle met die hervatting van hulle terreurbedrywighede gedreig het. Weens hierdie afdreiging is die grondwetlike onderhandelings deurlopend gekenmerk deur toegewings aan die kant van De Klerk en sy onderhandelaars.

Die gevolgtrekking wat hieruit deur die massa gemaak is, is dat geweld/misdaad lonend is. Die ANC se geweldstradisie word tot op hede voortgesit en steeds word die een sukses na die ander behaal, bv tydens of na stakings en diensleweringsbetogings. Dit is dus nog ‘n prominente voorbeeld van onvryheid in die nuwe Suid-Afrika: Die land is nie vry van geweld nie; dit is veel eerder toenemend ‘n gewelddadige misdaadnes.

Is ons vry om die landsvlag van die ou Suid-Afrika in die openbaar te laat wapper? As ek so ‘n vlag na ‘n sportbyeenkoms neem, sal ek nie net dadelik verwyder word nie, maar heel moontlik permanent verbied word om verdere sodanige byeenkomste by te woon. Die land is ook nie vry van korrupsie nie, ens. Behoort al hierdie soorte onvryheid gevier te word?

Maar kom ons kyk hoe instansies wat met Afrikaans gemoeid is en dus sensitief vir Afrikanerbelange en Europese beskawing behoort te wees tydens hierdie twintigjarige viering van demokrasie en vryheid gereageer het. Ek bepaal my aandag (benewens die ATKV-verwysing hierbo) by twee instansies, die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM) en die Afrikaanse Taalraad (ATR), soos gesimboliseer deur Michael le Cordeur as boosdoener.

Le Cordeur is die ondervoorsitter van die ATM en die voorsitter van die ATR. Wannie Carstens is die voorsitter van die ATM en die ondervoorsitter van die ATR. Hierdie twee mense kan dus by uitstek verantwoordelik vir die manewales van hierdie twee instansies gehou word. Carstens is nie ‘n Dopper nie, maar daar is ‘n sterk streep doppertunisme (Praag 13 April) en kastraatmentaliteit (Praag 1 en 8 September 2013) by hom.

Die publiek is uitgenooi om “20 jaar van vryheid” op Sondag, 27 April, by die ATM te vier. Die tema was: “Suid-Afrika: ‘n beter plek om in te leef – ons storie is ‘n goeie storie” (Die Burger, 25 April, p 13). Deel van die program was ‘n uurlange praatjie deur “Drakenstein Transformasie.” Waarop dit neerkom, is dat die ATM hom propagandisties aan die kant van die ANC en sy meelopers skaar; dat wat die afgelope twee dekades gebeur het, volgens hom goed is. Die ATM is egter veronderstel om Afrikaans te bevorder, terwyl die ANC-regering alles in sy vermoë doen om Afrikaans te benadeel. Hoe bring die ATM die kloutjie by die oor?

Volgens die webwerf wil die ATM Afrikaans inklusief in ‘n meetalige konteks by al die bevolkingsgroepe bevorder. Die ATM maak hiermee ‘n bespotting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat hom ten doel gestel het “om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land” (AP Grové, Letterkundige Sakwoordeboek vir Afrikaans, Kaapstad, Nasou, 1964, p 30). Uit die GRA-leuse spreek onverdunde Afrikaner-nasionalisme. Die GRA was sowel ‘n Afrikaans- as ‘n Afrikaner-gesentreerde onderneming. Soos by die ATR is daar by die ATM egter ‘n opvallende skuheid om hom openlik by die (nie-verloopte, dus egte/ware) Afrikaners en Standaardafrikaans te skaar.

Afrikaans is myns insiens die kerneienskap van die Afrikaner. Die ATM is veronderstel om die heil van hierdie Afrikaner-kleinood te bevorder. Die dwaasste manier om dit te doen, is om ANC-gedienstig te wees. Wat soek die ATM ongevraagd op die terrein van ideologie en politiek as hy daardeur klaarblyklik strydig met die beste belange van Afrikaans en Afrikaners handel? Afrikaners behoort weer beheer oor hierdie belangrike deel van hulle erfenis, die ATM, te kry.

Waarmee die voor- en ondervoorsitters van die ATM en ATR, Wannie Carstens en Michael le Cordeur, besig is, is om Afrikaans los van Afrikaner-nasionalisme te probeer maak. Hulle verwag van Afrikaners om vry van hulle eie nasionalisme sonder meer by ‘n geafrikaniseerde nuwe Suid-Afrika in te skakel. Met die oog hierop word Afrikaans gereduseer tot ‘n taal van versoening; dus om ‘n polities korrekte en ANC-gedienstige funksie te vervul. Pleks daarvan behoort Afrikaans erken te word as die onontbeerlike middel waarmee uitdrukking aan die kern, die siel, die kultuur, die identiteit,van die Afrikaner gegee word. Deur die nasionalistiese onafhanklikheidstrewe van Afrikaners te verwerp, word die deur vir die sloping en uiteindelike vernietiging van agbare Afrikaans oopgelaat. Dit is waarom die ATM en die ATR geen woord rep oor die besoedeling van Afrikaans met Engelse woorde nie en waarom selfs sover gegaan word om eerder ‘n mengeltaal soos Kaaps te bevorder.

Laat ek wat hier gebeur met ‘n konkrete voorbeeld illustreer. John Kannemeyer noem in sy biografie oor JM Coetzee dat “the Coetzees of his father’s generation, an Afrikaans riddled with English words” gebesig het (JC Kannemeyer, JM Coetzee: A Life in Writing, Johannesburg: Jonathan Ball, 2012, p 51). Dit het gebeur omdat die Coetzees afsydig teenoor Afrikaner-nasionalisme en -patriotisme, dus wat uit die “volksmond” kom, gestaan het. Dit is dan wanneer ongetemde verengelsing van Afrikaans plaasvind. Die tragedie is dat dit presies is wat by implikasie tans deur sowel die ATM en die ATR nagestreef word.

Soos sy gewoonte is, is Michael le Cordeur se jongste artikel op drie plekke gepubliseer: die ATR-webtuiste, LitNet en Die Burger (26 April, p 11). Ek gebruik laasgenoemde teks. As drie instansies ‘n teks publiseer, impliseer dit seker dat dit goed is. Kom ons kyk watter pêrels die outeur uitrol.

Die hele teks is so naïef pro-Mandela soos kan kom. Daar word 8 keer na “Mandela” verwys (veral aan die begin) en 11 keer word die troetelnaampie “Madiba” gebruik (veral namate die teks vorder en Le Cordeur emosioneel opgesweep raak). Le Cordeur noem Mandela “ons geliefde Madiba,” ‘n “grootse staatsman” en verwys na “die byna histeriese reaksie” na sy dood. Hy onderskei “tussen ‘n vryheidsvegter en ‘n terroris.” Hy regverdig dan Mandela se gedrag met die bekende verskoning “dat die gewapende stryd as ‘n laaste uitweg gekies is.” Daarom verkwalik Le Cordeur, met ‘n uitroepteken, iemand wat Mandela ‘n terroris genoem het.

Maar die terroris-betiteling is nie so vergesog soos Le Cordeur probeer voorgee nie. Dit is immers maklik voorstelbaar dat mense vir vryheid kan veg sonder om hulle tot gewelddadige, misdadige terrorisme te wend, wat onskuldige mense in die slag laat bly en ‘n land afbreek pleks van opbou. Nie net is hierdie nie-gewelddadige vryheidsvegtery voorstelbaar nie, dit is en word wydverspreid in die praktyk aangetref. Daar is baie mense wat nie die geweldsopsie kies nie. Mandela was vry om geweld of nie-gewelddadigheid te kies. Niemand het Mandela gedwing om geweld te kies nie. Desnieteenstaande verwys Le Cordeur na Mandela se “versoenende boodskap;” iets wat Mandela eers begin predik het toe hy in sy doel, naamlik politieke magsoorname deur die swartes, geslaag het.

Mandela was so verknog aan geweld dat hy dit nooit afgesweer het nie. Hy het graag op kenmerkende wyse sy gebalde vuis in die lug rondgeswaai, maar vir sikofante soos Le Cordeur is hy ‘n vredesikoon. Ronnie Kasrils noem dat Mandela persoonlik die ANC se besluit om die Bhisho-slagting aan te hits, bekragtig het (Die Burger, 1 deser, p 11). Hierdie gebeurtenis het op 7 September 1992 plaasgevind, dus meer as twee jaar na Mandela uit die tronk vrygelaat is. 29 mense is gedood. Dit toon dat selfs na die gevangenisstraf van 27 jaar, waaroor Le Cordeur kla, Mandela steeds nie tevrede was dat hy genoeg dood en verwoesting gesaai het nie. Dit staan uiteraard vir Le Cordeur vry om iemand soos Mandela te bewonder as dit met sy moraliteit versoenbaar is. Wat ek ontken, is Le Cordeur se reg om die ATR as voertuig vir die propagering van sy persoonlike politieke oortuigings te misbruik. Dit kan onmoontlik bevorderlik vir die heil van Afrikaans wees.

Mandela wou selfs hê dat 14-jariges moet kan stem. Hier was sy uitgangspunt heel moontlik die bekende feit dat veertienjariges uitstekende terroriste kan wees. As sulke jeugdiges kan help om die (kommunistiese) ideaal van politieke verandering te bewerkstellig, is dit uit hierdie oogpunt onbillik om hulle stemreg te ontsê. Soos sy geliefde Mandela, is Le Cordeur ook radikaal gesind. Nadat sy skool, die Hoërskool Bergrivier in Wellington, in 1976 afgebrand is, het Le Cordeur net die hoogste lof vir hierdie terreurdaad gehad. Feitlik al sy mede-opvoedkundiges sal sodanige onbeskaafde gedrag as anti-opvoedkundig beskou; dat dit teen die grein van opvoeding gaan; dat dit iets is wat nie met opgevoedheid versoenbaar is nie.

‘n Mens moet nie oorspronklike denke by Le Cordeur verwag nie. Twee keer verwys hy na ons “jong demokrasie.” Ons word opgeroep om van demokrasie en nasiebou ‘n sukses te maak. Ons moet “die spoke van die verlede [dus apartheid, die slegte wittes] verjaag en as ‘n nasie begin saamstaan.” Le Cordeur betreur die feit dat dit die eerste “Vryheidsdag” is wat ons sonder Mandela moet vier. Hy doen aan die einde van sy teks ‘n beroep dat ‘n nuwe Mandela moet “ontluik” of “opstaan,” klaarblyklik om die goeie vorige een te (probeer) vervang.

Reëlreg teen wat ek hierbo oor vryheid geskryf het, haal Le Cordeur goedkeurend iemand aan wat beweer dat Mandela 27 jaar in die tronk was “sodat ons kan vry wees.” Hy noem natuurlik nie dat Mandela sy tronkstraf aansienlik kon verkort het as hy bereid was om geweld af te sweer nie. Pleks daarvan borduur Le Cordeur soos volg voort: Mandela “het ons geleer om saam met hom te droom van ‘n nuwe Suid-Afrika waarin almal vry kan wees en elke mens hierdie land sy eie kan noem.” Vir wittes is dit steeds ‘n droom en dit sal ‘n droom bly so lank daar bv rassisties teen hulle gediskrimineer word en hulle geen sekerheid oor bv hulle eiendomsreg en selfs hulle reg op lewe het nie.

Wat ek buitengewoon narsisties vind (dus as ‘n uiting van selfliefde), is dat Le Cordeur homself tot ‘n navolgenswaardige toonbeeld verhef. Hy het al verskeie kere vertel hoe goed hy was om ‘n swarte te help om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Nou doen hy ‘n beroep op ons gewone of mindere siele om iets soortgelyks te doen. Le Cordeur se gebaar sal by my groter trefkrag hê as sy filantropie of ubuntu’s wittes insluit. Dit sal mos in ooreenstemming wees met die “inklusiwiteit” waartoe die ATM en die ATR hulle geroepe ag.

My grootste beswaar teen Le Cordeur se skrywe is dat hy sy uitgesproke pro-ANC-propaganda in die naam van sy ATR-voorsitterskap bedryf: “As voorsitter van die Afrikaanse Taalraad ag ek dit my plig om die naasbestaandes van Madiba verskoning te vra dat 99,9% van alle negatiewe, en soms blatante rassistiese kommentaar, in Afrikaans gespreek is. Dit maak al ons werk om Afrikaans as ‘n taal van versoening te bevorder, ongedaan.” Myns insiens behoort die ATR onverwyld teen die blatante politiekery van sy voorsitter op te tree.

Soos gebruiklik het Le Cordeur dit teen “die stereotipe dat Afrikaans deur sommige steeds as ‘n witmanstaal gesien word.” In die voorwoord by Christo van Rensburg se So Kry Ons Afrikaans (Pretoria: LAPA, 2012), spreek Le Cordeur die hoop uit dat “die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem [ge]smoor” sal word (p 10). Wat Le Cordeur in woord en daad doen, is om ‘n wig tussen Afrikaners en Afrikaans te probeer indryf. Dit behoort nie geduld te word nie.

Wanneer Le Cordeur met swartes en die ANC saamspan ten behoewe van “ons jong demokrasie” en “nasiebou,” en wanneer hy “inklusiwiteit” by die ATM en ATR bedryf, gaan dit om eenheid, uitgaande van die veronderstelling dat daar in eenheid krag is. (“Eendrag maak mag.”) Wanneer Le Cordeur egter by Afrikaans kom, dan predik hy verskeidenheid, noem hy Standaardafrikaans “maar net een van die variëteite van Afrikaans” en probeer hy alles in sy vermoë om Engels-besoedelde Kaaps te bevorder. Hier breek hy dus die moontlikheid van eenheid af, wat realisties net in Standaardafrikaans gevind kan word.

Le Cordeur se vyandigheid teenoor en/of geringskatting van Standaardafrikaans is myns insiens geleë in die feit dat dit die trotse produk van hoofsaaklik blanke arbeid is. Terselfdertyd verduidelik Le Cordeur se etnisiteit sy fanatieke voorkeur vir Kaaps, wat egter geen skild teen toenemende verengelsing bied nie. Hy behoort hom ten minste van Kaaps te distansieer in soverre onnodige Engelse woorde gebruik word. Inklusiwiteit moet grense hê. Byvoorbeeld, dit lê sekerlik op die weg van die ATM en die ATR om hulle vir ordentlike oftewel Standaardsafrikaans op kykNET, RSG en in Afrikaanse koerante, tydskrifte, boeke en op webwerwe soos LitNet te beywer.

Wat by Le Cordeur ontbreek, is ewewig. Hy gee gemaklik erkenning aan die hoofsaaklik swart “vryheidsvegters” wat die nuwe Suid-Afrika tot stand gebring het. Waarom nie insgelyks erkenning gee aan Afrikaners wat tereg op Standaardafrikaans as een van hulle prestasies aanspraak kan maak nie? Aanvaar die historiese feit dat die arme slawe nie Afrikaans in ‘n kits in die kombuise van wittes geskep het nie. Die slawe het Nederlands bloot skeef en krom gepraat. Dit kan een van die faktore wees wat aanleiding tot die ontstaan van Afrikaans gegee het, maar dit was nog nie Afrikaans nie; hoogstens voor- of proto-Afrikaans.

Die nuwe Suid-Afrika is polities grootliks ‘n ANC-produk waarvoor Le Cordeur net lof het. Standaardafrikaans is ‘n prestige-produk van hoofsaaklik Afrikaners, waaraan Le Cordeur gerus welwillende erkenning kan gee. Hy en sy etniese groep behoort met die nodige dankbaarheid van Standaardafrikaans gebruik te maak. Iemand sonder hierdie elementêre erkentlikheid hoort nie in die ATR nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.