Front Nasionaal verwerp DA se pseudo-taalpatriotisme

Deel op
Vanoggend se debat op Radio Pretoria: v.l.n.r. Francois Cloete (Front Nasionaal), Anchen Dreyer (DA) en Pieter Mulder (VF Plus)
Vanoggend se debat op Radio Pretoria: v.l.n.r. Francois Cloete (Front Nasionaal), Anchen Dreyer (DA) en Pieter Mulder (VF Plus)

“Afrikaners in die DA verteenwoordig gedekultureerde jingo’s wat deelneem aan die etniese reiniging van Afrikaanse straat- en plekname, veral in die Wes-Kaap. Die party is volledig tot anglosentriese idees verbind en kyk na ons land se geskiedenis deur die oë van Britse neomarxiste.” Só sê dr. Dan Roodt, onderleier van die Front Nasionaal, in reaksie op ‘n debat wat vanoggend op Radio Pretoria gevoer is en waarin me. Anchen Dreyer van die DA haar party se verbintenis tot “veeltaligheid” probeer verdedig het.

Volgens Roodt “verstaan die DA onder ‘veeltaligheid’ eintlik Engelseentaligheid en die voorsetting van die Brits-koloniale hegemonie in Suid-Afrika. Die party gebruik slegs Engels as voertaal. In Kaapstad het die DA Afrikaanse name voor die voet na ANC-name verander, onder meer dié van mnr. Coen Steytler, wat ontdaan was van politieke konnotasies en bloot ‘n bydrae tot die infrastruktuur van Kaapstad gemaak het.” Ander naamsveranderings wat deur die DA voorgestel is, is: Andries Pretoriusstraat na Orangestraat, Coen Steytlerlaan na Walter Sisululaan, De Waal-rylaan na Phillip Kgosana-rylaan, D.F. Malanstraat na David Poole-straat, Frans Conradie-rylaan na Acrestraat, Hans Strijdomlaan na Albert Luthuli-laan, Hendrik Verwoerd-rylaan na Beyers Naudé-rylaan, Hertzog Boulevard na Nelson Mandela Boulevard, Jan Smutsstraat in Athlone na Dullah Omar-rylaan en Jan Smutsrylaan in Simonstad na Fred Carneson-rylaan, Oswald Pirowstraat na Christiaan Barnard-rylaan en Nico Malanstraat na David Rabkinstraat.

Front Nasionaal het gister aangekondig dat hy teen Vrydag ‘n eerste gebied in Pretoria gaan bekendmaak wat as ‘n Afrikaanse taaleiland afgebaken sal word. Soortgelyk aan Québec en Vlaandere, sal die taaleiland bedeel word met spesiale regte om Afrikaans van ondergang te red. Die party sal hom op beide die SA grondwet en die internasionale reg beroep om dié eerste stap na kulturele selfbeskikking te neem.

“Afrikaans verkeer in ‘n krisis,” sê Roodt. “Sowel die DA as die ANC werk daaraan mee om ons taal uit te wis en van Engels die enigste openbare, tegniese, handels- en kultuurtaal te maak. Reeds tydens die sogenaamde Kodesa-onderhandelinge het die DP, die DA se voorganger, Engels as enigste amptelike taal voorgestaan en sedertdien was daar kwalik verandering in die party se vyandigheid jeens Afrikaans en die Afrikaanse kultuur.”

Tydens ‘n vorige radiodebat op RSG het dr. Roodt die DA, ANC en EFF as “Boerehaatpartye” bestempel. Volgens hom “verteenwoordig Boerehaat die enigste konsekwente ideologiese standpunt van die DA. Die party val rond tussen neomarxisme, Slovoïsme (na Joe Slovo, die SA kommunisteise leier), sosialisme, grondgryp en ‘n soort lippediens aan ‘liberalisme’ waaronder die DA eintlik neomarxisme, nasionalisering en meedoënlose rasstellende aksie verstaan.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.