FN-lede dreig om kommunistiese vlag voor DKD te verbrand

Deel op
Embleem van die nuwe politieke party
Embleem van die nuwe politieke party

Front Nasionaal het sy wanhoop uitgespreek oor die departement van korrektiewe dienste se gesloer met Clive Derby-Lewis se mediese parool.

“Ons kom nou naby aan die 21-dae-ultimatum wat aan die departement van korrektiewe dienste gestel is tydens ons betoging op 12 April. Tot op hede het mnr. Clive Derby-Lewis nog nie enige mediese ondersoek deur die departement ondergaan nie,” sê dr. Dan Roodt, onderleier van die party. “Daarom gaan ons weereens ‘n memorandum aan die departement oorhandig op Vrydag 2 Mei om 12:00 by sy hoofkwartier in die Poyntons-gebou in Pretoria.”

‘n Stille betoging deur partylede wat plakkate dra, sal gehou word. Sekere partylede dreig om ‘n kommunistiese vlag te verbrand. “Ons begryp dat die hamer-en-sekel ‘n simbool van die Nasionale Demokratiese Revolusie is en deur Nelson Mandela en Joe Slovo gebruik is,” sê Roodt. “Maar sekere van ons lede is keelvol oor die onregverdige verlenging van Clive Derby-Lewis se straftydperk, dus is humeure besig om kort te raak.”

Terselfdertyd sal die party die eerste gebied in Pretoria verklaar wat vir kulturele selfbeskikking kwalifiseer. Afrikaans sal as die oorheersende kulturele, handels- en openbare taal in dié eerste “taaleiland” herstel word. Die plaaslike taal Afrikaans ly tans onder diskriminasie en marginalisering onder die ANC-bewind.

“Dis ongelukkig dat ons die term ‘taaleiland’, na die Duitse Sprachinsel, moet gebruik, maar in stryd met die SA grondwet is ons taal tot die status van ‘n dialek verlaag in ‘n openlik kolonialistiese, imperialistiese, verengelste Suid-Afrika,” sê Roodt. “In Johannesburg en in Kaapstad verwys vele mense beledigend na Afrikaans as ‘n “spreektaal” en ‘n “kombuistaal”. Drastiese stappe is nou nodig om die taal te bewaar, waaronder territoriale oplossings.”

Sowel die verdere aanhouding van Derby-Lewis, ‘n siek ou man, as die ondergang van Afrikaans is te wyte aan die misbruik en sentralisering van mag in die hande van slegs enkele mense in Suid-Afrika, verklaar die party.

“Ons gaan nie stilsit terwyl ‘n gerekende konserwatiewe denker soos Clive Derby-Lewis weens laakbare aanvalle en verwaarlosing in die tronk sterf nie. Insgelyks sal ons nie toelaat dat Afrikaans tot uitsterwing gedwing word deur beide die regering en groot sake nie,” sê Roodt.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.