Oor krieket en kwotas

Deel op
Hierdie dames (30 Augustus 1963 in Johannesburg) is soos rolbalspelers aangetrek, maar dit was eintlik vir pistoolskiet, want hulle was bekommerd dat swartes uit die res van Afrika die land sou aanval en wou paraat wees. Tussendeur was daar 'n pouse vir tee en toebroodjies.
Hierdie dames (30 Augustus 1963 in Johannesburg) is soos rolbalspeelsters aangetrek, maar dit was eintlik vir pistoolskiet, want hulle was bekommerd dat swartes uit die res van Afrika die land sou aanval en wou paraat wees. Tussendeur was daar ‘n pouse vir tee en toebroodjies.

deur Leon Lemmer

Tydens apartheid het die Indiese regering jaarliks in die Verenigde Nasies oor Suid-Afrika se rassebeleid gekla en strafmaatreëls voorgestel. Later het onafhanklike Afrika-lande saam in dié koortjie gesing. Plaaslik was die verweer dat Indië met sy kastestelsel nie die vinger na ons moet wys nie, want hier is geen onaanraakbares nie. Verder is Afrika-lande se binnelandse ellende en agterlikheid met die (relatiewe) voorspoed van en ontwikkeling in Suid-Afrika gekontrasteer.

Die onaanraakbares (Dalits) was die laagste van die laes in die Indiese kastestelsel, wat ruim voorsiening vir uitgeworpenes (“outcasts”) gemaak het. Die Indiese subkontinent was lank ‘n Britse gebied (die Raj, 1858-1947) wat so belangrik geag is dat die regeringshoof die status van onderkoning (“viceroy”) gehad het. Met onafhanklikheid in 1947 is diskriminasie teen Dalits verbied, maar hierdie gevestigde praktyk het uiteraard nie dadelik tot ‘n einde gekom nie. Regstellende aksie het gevolg, wat van die onaanraakbares bevoordeeldes gemaak het. Meer as 16% van die kolossale Indiese bevolking is Dalits en ‘n half miljoen van hulle het ‘n heenkome in Brittanje gevind.

‘n Vorige Britse Konserwatiewe Party eerste minister, John Major (1990-1997), het ‘n boek geskryf, More than a game: The story of cricket’s early years (London: Harper, 2008, 433p). Die boektitel is ontleen aan Thomas Hughes (1822-1896) se roman, Tom Brown’s schooldays (1857), waarin Tom van krieket sê: “It’s more than a game. It’s an institution” (p 174). Soos dit ‘n politikus betaam, beweer Major: “Of all empires, the British was the most benevolent and bequeated the most enduring legacies” (p 357).

Robert Mugabe het in 1991 van krieket gesê: “It civilises people and creates gentlemen” (p 8). Mugabe het óf nooit krieket gespeel nie óf sy stelling is vals. Samuel Johnson (1709-1784) het krieket in sy woordeboek (1755) gedefinieer as “a sport of which the contenders drive a ball with sticks in opposition to each other” (p 66). Vanweë die tradisionele Britse beleid van rassesegregasie kon Indiërs voor onafhanklikheid nie lid van ‘n krieketklub vir Europeërs word nie (p 194).

Indiërs was self nie vry te pleit van rassediskriminasie nie. “Inter-racial rivalry was fierce … Both Parsees [Zoroasters/Mazdaists] and Hindus restricted membership of their clubs to the upper-classes. Low-caste Indians were not welcome. Snobbery and exclusivity were not solely the prerogative of the British” (p 195). ‘n Uitsondering is met Palwankar Baloo (1876-1955), ‘n onaanraakbare, gemaak omdat hy ‘n uitstekende draaibalbouler was. Hy is as lid van ‘n Hindoe-klub toegelaat, “although caste taboos meant that he was left to eat and drink outside the pavilion. Indian caste restrictions mirrored Victorian social exclusion in an extreme form” (p 198). Baloo is nooit toegelaat om kaptein van ‘n span te wees nie.

In die Wes-Indiese Eilande is krieket van die begin van die 19de eeu deur klubs gespeel wat eksklusief vir wittes was (p 204). ‘n Kritikus het dit “illiberalism” genoem (p 206). Hulle eerste buitelandse kriekettoer was na die VSA en Kanada in 1886. Die Wes-Indiese span het uitsluitlik uit wit spelers bestaan (p 205). ‘n Aktivis, Pelham Warner, het daarop aangedring dat “any touring side going to England must include ‘four or five’ black players” (p 206). In 1900 is vyf swartes (p 207) en in 1906 ses swartes (p 208) in die toerspan ingesluit. Deesdae is die span heeltemal swart en geen aktivis opper beswaar nie. Major veroorloof hom die volgende opmerking: “Warner’s brave and far-sighted advocacy of racial inclusion is a refreshing example of the kind of enlightened attitudes that allowed Britain to rule its Empire with dexterity, and to give up its colonial possessions so deftly when the time arose” (p 206).

Wat in die Wes-Indiëse Eilande gebeur het, word in die nuwe Suid-Afrika vordering met transformasie en met die toepassing van die kwotastelsel genoem. In volgende rondtes moet daar elke keer meer (en in elk geval nie minder nie) nie-wittes in die span wees, anders word dit as ‘n terugwaartse stap beskou. Demografie word gou bygesleep, wat in die nuwe Suid-Afrika beteken dat alle sportspanne eintlik 80% (of minstens Fikile Mbalula se 60%) swart moet wees. Hieruit moet nie afgelei word dat spanne 20% nie-swart moet wees nie. Die openingswedstryd in die plaaslike 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi is gespeel sonder ‘n enkele wit Suid-Afrikaanse speler op die veld. Daar word suiwer rassisties verwag dat die getal nie-wit (en veral swart) spelers in ‘n sportspan progressief meer en die getal wit spelers al hoe minder moet word. As ‘n span een keer ‘n nie-wit (en veral swart) afrigter gehad het, moet die volgende een ook nie-wit (en verkieslik swart) wees, anders word dit as ‘n terugwaartse stap en as ‘n transformasieramp bestempel.

Die blanke Ray Jennings, wat jare lank as paaltjiewagter en kolwer met eer in die nasionale krieketspan diens gedoen het, het minder as twee maande gelede as afrigter groot sukses behaal deur die Suid-Afrikaanse onder-19-krieketspan tot sege in die Wêreldbekertoernooi te lei. By sy terugkeer was sy vergoeding nie, soos verwag kon word, dat hy outomaties in sy pos heraangestel is nie. Nee, hy is aan die vernedering onderwerp dat hy heraansoek om sy pos moet doen. Erger, sy aansoek was nie suksesvol nie.

Immer transformerend het Krieket Suid-Afrika (KSA) Lawrence Mahatlane as afrigter aangestel; ‘n mens wat slegs pigmentasiegewys bo Jennings uitgestyg het. Daarby het KSA die grenselose vermetelheid gehad om amptelik te verklaar “dat dit heeltemal onregverdig sal wees om te sê dat politiek ‘n rol daarin gespeel het” (Die Burger, 24 deser, p 28). KSA sou dit myns insiens nie waag om ‘n swarte te behandel soos met Jennings gedoen is nie. Van blankes word eenvoudig verwag om na die groter prentjie te kyk. Daardie prentjie is nie swart-en-wit nie. Daar word veronderstel dat wittes daarmee vir lief mee moet neem dat die prentjie eintlik net swart is.

Christo Buchner onderskei hom van ander sportjoernaliste deur nie altyd polities korrek te wees nie. Oor Jennings se ontslag skryf hy dat dit “verregaande is … om te wil beweer politiek het geen rol in die besluit gespeel nie .” Buchner lys dan sommige van Jennings se afrigtingsuksesse. “Sou die gerug ook waar wees dat Jennings uitgewerk is omdat hy enkele jare gelede nie die seun van ‘n senior krieketadministrateur, wat deel is van die sogenaamde Kaapse kabaal, gekies het vir die o.19-span nie, sal dit net nóg ‘n aanklag wees teen administrateurs wat eie belang bo dié van die spel plaas” (Die Burger, 25 deser, p 19).

Mahatlane is die soort afrigter wat KSA behaag, want “hy wil die ontwikkeling van die spel ‘n prioriteit maak … ‘Ek kan identifiseer met die uitdagings wat daar is om swart spelers na vore te bring'” (Die Burger, 25 deser, p 20). Opvallend is Mahatlane se gebruik van die geliefkoosde ANC-woord “uitdaging.” In sport word die term “ontwikkeling” met swartes geassosieer. Dít word ‘n prioriteit gemaak pleks van om te wen. Mahatlane se aandag is op swart spelers toegespits. Wit spelers word glad nie genoem nie.

Die gewraakte Engelse krieketspan uit 1968 waarvan die toer afgestel is. Die gekleurde speler Basil d'Oliviera sit voor, heel links.
Die gewraakte Engelse krieketspan uit 1968 waarvan die toer na Suid-Afrika afgestel is. Die gekleurde speler Basil D’Oliviera sit voor, heel links.

Na die oorlye van Basil D’Oliveira (1931-2011) is tot vervelens toe melding gemaak van hoe sleg hy deur die “apartheidsregime” behandel is. Hy was van Indies-Portugese oorsprong, het in Kaapstad krieket gespeel, maar in 1960 na Engeland uitgewyk. In 1968 is hy as ‘n plaasvervanger vir die Engelse toerspan na Suid-Afrika gekies. Die Vorster-regering het hom egter toegang geweier en die Engelse het toe die toer afgelas. In die nuustydskrif Time (4.12.2011) het Trevor Manuel na D’Oliveira se dood uitgevaar teen die “oppressive apartheid regime” en die UDF/ANC-slagspreuk herhaal: “No normal sport in an abnormal society.”

Die vraag kan gevra word: Is die nuwe Suid-Afrika ‘n normale samelewing? Is dit waar, soos die ANC so graag en so dikwels beweer, dat ons nou ‘n nie-rassige samelewing het? Is swart bevoordeling en die gevolglike wit benadeling normaal? Is sport- en ander kwotas normaal? Is dit wys om die doel van mededingende plaaslike en internasionale sport te verydel deur te verwag dat minder verdienstelike swart spelers suiwer op grond van ras of kleur bo meer verdienstelike wit spelers ingesluit moet word? Dit is ‘n waarheid soos ‘n koei dat mense as indiwidue en as groepe verskil. Waarneming dwarsoor die wêreld toon dat party groepe in sommige sportsoorte beter as ander vaar: swartes in bv hardloop en boks, wittes in bv tennis en swem. Dui die sosiogeniëring van die ANC op normaliteit of ideologiese irrasionaliteit?

Oor die Indiese gene van D’Oliveira is daar meer te sê. In Engeland was daar ‘n Indiese krieketspeler, KS Ranjitsinhji (1872-1933), wat in 1896 uit die Engelse span vir die eerste toets teen Australië gelaat is omdat geredeneer is dat hy nie ten regte Engeland kan verteenwoordig nie (Major, p 318). In hierdie verband was daar ook druk van die Britse regering. Toe hy wel vir die tweede toets gekies is, het hy sportief verklaar dat hy sal speel mits die Australiese span nie beswaar het nie. Hulle was tevrede en hy het vir Engeland gespeel. Hierdie billikheid het in die geval D’Oliveira ontbreek. In 1899 was daar weer ‘n poging om Ranji uit die Engelse span te hou. Major noem die voorsitter van die keurkomitee “pig-headed” (p 328).

Oor die Kaapse afkoms van D’Oliveira is daar ook meer te sê. Charles Lawrence het in 1868 ‘n krieketspan bestaande uit uitsluitlik Australiese inboorlinge na Engeland gebring vir wedstryde teen klub- en graafskapspanne. Hulle “amused spectators with exhibitions of how to throw a boomerang” (p 221). In 1878 het die eerste amptelike Australiese krieketspan Engeland besoek. Die toeskouers was verbaas dat dit ‘n eksklusief wit span was (p 226).

Vir Suid-Afrika se eerste kriekettoer na Engeland in 1894 is Krom Hendricks, ‘n bruin snelbouler, as spanlid gekies. Die Britsgebore eerste minister van die Kaapkolonie, Cecil Rhodes (1853-1902), het Hendricks se insluiting geveto “on the spurious grounds that he didn’t want Hendricks to be subjected to insulting native stereotyping, such as the endless requests for demonstrations of spear-throwing that had beset the Australian Aboriginal tour of England a quater of a century before. He was quoted as saying, ‘They would have expected him to throw boomerangs during the lunch interval’ … Rhodes’s real intention was to enable an all-white team to travel, and Hendricks was excluded” (p 202).

Wit Suid-Afrikaanse rugbyspanne was in die apartheidsera nie in Nieu-Seeland welkom nie, maar eksklusief Maori-spanne word in die nuwe Suid-Afrika toegelaat. Die verskil is glo dat eersgenoemde politiek- en laasgenoemde kultuurgebaseer is. In die vorige eeu het internasionale sportliggame venynig met woord en daad teen wit Suid-Afrikaanse sportspanne te velde getrek. Deesdae is daardie selfde liggame stil oor diskriminasie teen wit sportmanne. Daar word met verskillende mate gemeet.

Die jongste is dat die bruin en gewese Springbok-vleuel, Chester Williams, “glo Suid-Afrika kan transformasie aanhelp met ‘n aparte span soortgelyk aan die Nieu-Seelandse Maori’s” (Die Burger, 23 deser, p 18). Dit is die ou storie: wittes moet inklusief wees en mag nie ‘n aparte span vorm nie. Nie-wittes, daarenteen, mag eksklusief wees deur wittes uit te sluit. Apartheid word ‘n misdaad teen die mensdom genoem as dit wittes bevoordeel. As soortgelyke rassediskriminasie ter bevoordeling van nie-wittes toegepas word, ontvang dit goedkeuring en lof. Dan word na rassediskriminasie met mooi woorde soos “regstelling” en “bemagtiging” verwys. Die gediskrediteerde woord “apartheid” word dan nie gebruik nie.

Die voorafgaande toon dat daar heelwat skynheiligheid in die politiek en sport is, dat rasse-segregasie nie ‘n Afrikaner-uitvinding is nie, dat rassediskriminasie nie net by wittes voorkom nie, asook dat raskwotas in sport en die geval D’Oliveira nie uniek is nie. As aktiviste oor meer agtergrondinligting beskik het, kon hulle verkieslik minder oor ‘n geval soos D’Oliveira gekraai het. In die bedryf waarin aktiviste hulle bevind, word woord en daad egter nie maklik deur feite gekniehalter nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.