Malema uit saal gejaag deur skare in Durban

Malema
Deel op

MalemaDie leier van die EFF, Julius Malema het Donderdag aan eie bas ervaar hoe dit voel om uitgejou te word. Voorheen was hyself die uitjouer.

Malema moes by die Howard Kollege-kampus praat as deel van sy eerste stemwerwingsbesoek aan die provinsie in aanloop tot die verkiesing.

Dit is egter die tweede keer dat die Ekonomiese Vryheidsvegters ‘n kil ontvangs in die provinsie kry.

Met Malema se besoek aan President Jacob Zuma se dorpie Nxamalala in Januarie is moes die polisie ingryp toe ANC-ondersteuners gebots het met Malema se volgelinge.

Die EFF-leier moes noodgedwonge ‘n lesingsaal by die universiteit van KwaZulu-Natal in Durban Donderdag self verlaat toe ANC-ondersteuners sy toespraak ontwrig het.

‘n Woedende Malema het buite gewag in ‘n wit Mercedes-Benz. Sy duur smaak word glo gefinansier deur ‘n Nigeriese weldoener.

Die polisie en personeellede het tevergeefs ingegryp om die situasie te kalmeer, en Malema moes noodgedwonge sy ondersteuners buite die saal toespreek.

Die polisie en die EFF-beamptes het ‘n menslike muur om Malema gevorm om verdere ontwrigting te voorkom.

Malema het ‘n man met ‘n ANC-T-hemp opgemerk en herhaaldelik vingerwysend vir hom geskree “Voertsek!”

Malema het aan die skare gesê dat sommige van die oproeriges deur die ANC gehuur is en moontlik nie eens aan die universiteit verbonde is nie.

Malema het die ANC-ondersteuners afgemaak as “Zuma se beeste wat van uit die duur kraal ontsnap het” en het gesê hulle ontwrig sy byeenkoms want hulle was bang vir die EFF .

Hy het bygevoeg dat Cyril Ramaphosa, die ANC se adjunk-president erger as Zuma is want hy het R18 miljoen vir ‘n buffel betaal.

Malema het kritiek op die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema gelewer, en gesê studente moet dit verwerp want dit skep groot skuld vir hulle.

Hy sê die EFF sal die land se minerale hulpbronne nasionaliseer om gratis onderrig te befonds.

Hy het ook gevra vir rasseverdraagsaamheid. “Wit mense is ons vriende. […] Ons beleid is om nie wit mense uit te dryf uit die land nie.”

Malema is daarna na die landelike Tafelkop buite Pinetown, waar ANC-ondersteuners hom ook ingewag en beledig het.

Hy het gesê die ontwrigting in KwaZulu-Natal sal by die polisie en die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerapporteer word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.