Ma en 2 kinders kritiek na gasbottel ontplof

Deel op

gas-explosion’n Ma van twee is in ’n kritieke toestand in die hospitaal nadat ’n gasbottel van ’n braaier Maandagmiddag in Amberfield ontplof het, het die Centurion News berig.

Die gesin was glo besig om vleis te braai toe ’n 9kg gasbottel in die agtertuin ontplof het, het Johan Pieterse van Tshwane nooddienste gesê.

Die voorval het omstreeks 16:00 plaasgevind. Mense in die omliggende area het ’n harde slag gehoor. Volgens Sean Palmer, het sy gordyne geruk van die skok.

Die 44-jarige vrou het ernstige brandwonde opgedoen en haar seun en dogter, albei in hul laat tienerjare, is ook ernstig beseer. Hulle is per ambulanse na Unitas-hospital geneem.

Die man was glo in die huis en het geen beserings opgedoen nie, het Pieterse bevestig.

Volgens Pieterse is die oorsaak onbekend, maar die vervaardiger van die gasbottel sal moontlik ondersoek instel. “Die regulasies op gas is baie streng,” het hy bygevoeg.

Volgens Braam Kruger van Emer-G-Med nooddienste, het die gasbottel gelek en die gas het glo onder die houthuisie ingeloop.’n Vuur het eers binne in die houthuisie ontstaan voordat die gasbottel ontplof het.

“Die pa was in die huis, besig om die brandweer te bel. Ons vermoed die ma en kinders het intussen die vlamme in die houthuisie probeer blus toe die gasbottel ontplof het,” het Kruger gesê.

Volgens Pieterse is daar verder geen skade aan die huis gerig nie. Die houthuis, waar die gasbraaier gestaan het, is egter beskadig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.