VF+, Solidariteit bevestig hul verbintenis tot transformasie

Deel op
Flip Buys
Flip Buys

Die minister van sport, Fikile Mbalula, het gesê ʼn kwota van 60% swart spelers in sekere nasionale sportspanne waar Afrikaners verteenwoordig is, sal nie voor die verkiesing afgedwing word nie.

Mabalula het nadat hy Woensdag met die vakbond Solidariteit, die burgerregte-organisasie AfriForum en die Vryheidsfront Plus ontmoet het, klaarblyklik begin bekommer oor eenheid in die ANC.

Dit wil voorkom asof die VF+ en Solidariteit sekere toegewings oor transformasie aan die minister belowe het wat hom van plan laat verander het.

Alhoewel Solidariteit tydens die vergadering ‘n petisie met 52.000 handtekeninge aan Mbalula oorhandig het, het vorige petisies weinig invloed gehad om die doelwit van verswarting te keer.

Die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport Anton Alberts het trouens na die vergadering verklaar dat ontwikkeling die sleutel is tot die verwesenliking van transformasie in sport.

Hy het daarmee die VF+ se verbintenis tot transformasie beklemtoon.

Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar sportboikotte teen spelers geld en waar ‘n minderheid “uitgetransformeer” word met die volle samewerking van partye wat sogenaamde minderhede verteenwoordig.

Lande waar openlike menseregtevergrype hoogty vier, burgeroorlog woed, diktature heers en kindersoldate opgelei word, neem die afgelope eeu heeltemal ongehinderd deel aan alle byeenkomste.

Die sporte wat in Suid-Afrika uitgesonder word, is veral sporte waaraan Afrikaners deelneem en presteer.

Nie Solidariteit of die VF+ het hierdie onverkwiklike toedrag van sake verwoord of aangespreek nie, maar hul verbintenis tot “ordelike” transformasie bevestig sonder om die belaglike beginsel of die wenslikheid van algehele verswarting in gewilde wit sporte te toets.

Dit is in alle waarskynlikheid die rede waarom Mbalula bes gegee het om die verswarting van sport tot na die verkiesing uit te stel.

“As ontwikkeling behoorlik gedoen is en die regering stort die behoorlike finansiële bydraes in die regte plekke, sal sportsterre natuurlik ontwikkel en daar sal genoeg talentvolle sportlui in die toekoms wees, ongeag hul velkleur,” het Alberts gesê.

In wese het Alberts dus die toewysing van fondse aan blanke kinders ge-veto.

Die vakbond Solidariteit het onderneem om enige kwota in sport in die howe te toets. ‘n Woordvoerder van Solidariteit, sê die partye het ooreengekom het om verdere samesprekings oor kwotas en transfomasie te voer en daarmee het die vakbond ook duidelik die onverkwiklike beginsel van transformasie aanvaar.

Mbalula het voorheen gesê daar moet dringend ’n transformasieplan opgestel word om veral die grootste sportsoorte te verswart.

Prof. Somadoda Fikeni, die voorsitter van ’n spesiale afvaardiging wat handel oor die transformasie in sport in Suid-Afrika, het die voorstel gedoen.

Hy is deel van ‘n afvaardiging van Belangrike Persone wat die transformasie in sport glo ondersoek, maar duidelik op politiek fokus eerder as sport.

Fikile Mbalula, die minister van Sport en Ontspanning, het in 2012 die sogenaamde “afvaardiging” saamgestel om druk toe te pas oor sporttransformasie.

Die afvaardiging het ook in ’n verslag opgestel met redes waarom transformasie nie na wense vorder of toegepas word nie.

Behalwe vir Fikeni, bestaan die afvaardiging ook uit persone soos Ria Ledwaba, ’n sakevrou, Silas Nkanunu, ’n voormalige president van SA Rugbyraad, prof. Tim Noakes, ‘n sport wetenskaplike, dr. Willie Basson, Peter de Villiers, en Sam Ramsamy, die huidige president van die SA Olimpiese Komitee.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.