Hyundai se antwoord op die brandstofkrisis

Deel op

10:20:51 Hyundai het groot planne met die motortjie wat die Getz gaan vervang. Die motor sal die i20 genoem word. Aanhangers van Hyundai kan maar begin nader skuif, die i20 gaan in die helfte van 2009 sy verskyning maak en sal dalk moontlik kort daarna plaaslik beskikbaar wees.

Deel op

Die i20 se enjin word die Kappa-enjin genoem. Dit is nou wel net ‘n 1,2-litereenheid, maar gaan 60 KW en 115 NM te lewer. Die enjin is oor ‘n tydperk van 48 maande ontwikkel spesifiek met die doel om die meeste uit elke druppel brandstof te tap en die beperking wat deur die Euro 4-riglyne bepaal word te haal. Brandstofverbruik is ‘n skrale 5 liter/100km en die CO2-gasse is slegs 119g per km, baie indrukwekkend. Die feit dat hierdie Kappa-enjin slegs 82,4 kg weeg, dra tot die goeie verbruiksyfers by.

SLK met 'n glasdak

Gaan Mercedes die nuwe SLK met sy glasdak een van die dae bekendstel? Wel, die motor is ‘n ruk terug tydens die Europese winter opgemerk waar die manne van Mercedes hom getoets het. Nou onlangs is hy weer in die woestyn in Amerika opgemerk, waarskynlik om hoë temperature te toets. Net die tyd sal leer.

Audi R8 V10

Image

Audi R8 V10

Audi het uiteindelik besluit om ‘n V10-weergawe van hulle R8 te bou. Die feit dat die enjin baie hoog kan luier, bevestig dat hierdie nie die V10-dubbelturboenjin van die RS6 is nie. Die enjin is geheel nuut met sowat 368 Kw onder jou regtervoet. Die nuwe Audi R8 V10 sal van 2009 af in regterhandstuur gebou word en wie weet, dalk sien ons hom nog plaaslik voor die aanbreek van die sokkerwêreldbeker.

Lamborghini verklaar groot winste

Die manne van Lamborghini spog al te lekker dat hulle die sukkelende supermotor se winste met ‘n derde verbeter het. Hulle skryf die sukses toe aan beter produkte, groter winsgrense en natuurlik hoër verkoopsyfers. Die Lamborghini Gallardo is dan ook die maatskappy se topverkoper. Die nuwe Batman-fliek het ook bygedra tot die verkoopsyfers. Hierin speel die bekende Christian Bale die rol van Bruce Wayne wat met ‘n  Murcielago LP640 rondrits. Lamborghini se winste het op 35 miljoen euro’s oftewel R350 miljoen vir die eerste helfte van 2008 te staan gekom.  Dit is net kort van die 47 miljoen euro’s wat alle verkoopsrekords in 2007 laat spat het. Lamborghini het 1309 motors tot dusver vir 2008 gebou. Dit is sowat 5,6 persent meer as in 2007.

Jaguar XFR

Image

Jaguar XFR: 3,8 sek. van 0-100, maar topspoed beperk tot 250

Ek het gewonder wanneer gaan Jaguar die warmer weergawe van sy XF loslaat. Wel, hier is hy nou, die XFR, met nie minder nie as 368 KW uit sy 5.0-liter-V8 met superaanjaer. Die super-Jag is gemik om  teen motors soos die BMW M5 en Mercedes E63 AMG mee te ding. Klein veranderings aan die wielboë en kantskorte en laer vering laat die kat uit die sak. Voorlangs is die luginlate groter en daar is ook ‘n kragbult op die enjinkap. Jaguar gee verrigtingsyfers van 3,9 sekondes van 0-100km/h aan, en ja 3,9 sekondes, jy lees reg. Die topsnelheid is soos van ouds by 250 kpu beperk. Daar is ook ‘n nuwe wieltolbeheerstelsel wat al daardie krag sal moet dophou. Die XFR word tydens die Franse Motorskou in Oktober bekendgemaak.

Renault Alpine-sportmotor

Image

Nuwe Renault Alpine

Onthou u nog die Renault Alpine-sportmotortjies van die sewentigerjare? Wel, Renault het besluit om die sportmotornismark weer vierkantig aan te vat met ‘n motor wat gegrond sal wees op die Nissan 350Z. Aangesien daar al klaar ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Nissan en Renault bestaan, kan hierdie net ‘n sukses wees. Beide se reeks deel verskeie onderstelle en ander tegnologie. Niks is nog bevestig nie, maar so 'n motor kan so vroeg as 2010 al hier wees.

мойка оборудованияалександр лобановский супермаркет класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.