Agter elke man, staan ‘n ingeligte vrou

“Kate Hudson en haar man gaan dalk skei,” roep ek van voor die televisie vir manlief wat voor sy rekenaar sit. “Goed so, haar man is maar 'n snaakse karakter, deurmekaar met dwelms en hy lyk nie te goed nie!” roep hy terug. Ek is verbaas. “Wow, jy weet baie van die tweetjies,” sê ek en skud my kop in ongeloof. Ek het gehoop hy weet wie Kate Hudson is – na ek al herhaaldelik haar naam genoem het terwyl ons na iets oor haar kyk – maar sulke onmiddellike herkenning en stortvloed van inligting is raar.

Miskien moet ek 'n raps meer agtergrond oor manlief gee. Sy belangstellings in rolprente en aktrises is skraps. Hy slaap dwarsdeur tagtig persent van die flieks wat ons kyk en as hy wakker bly tot aan die einde is dit 'n teken dat die fliek aan te beveel is! Byna daagliks moet ek verduidelik wie  Tom Cruise en wie Brad Pitt is, hy verwar kronies die twee. Hy ken slegs 'n paar sterre op die naam, omtrent net Nicole Kidman (sy is vir hom baie mooi, maar nou te maer) en Jessica Simpson (al is sy dalk nie so slim nie, dink hy sy is oulik). O ja, en hy ken vir Paris Hilton as gevolg van haar oor-blootstelling deur die media. Nou, op die Saterdagoggend weet hy dadelik van wie ek praat as ek Kate Hudson se naam noem. Ongelooflik!

Die Sondag kuier ons by vriende en ek vertel hoe ingelig hy is. “Wie is die vrou?” vra buurman. “Sy is 'n blonde model met 'n man wat met dwelms deurmekaar  is,” sê manlief dadelik. So kom ons toe agter hy is eintlik besig met Kate Moss, die model, en is toe glad nie so ingelig nie!  Na ons breedvoerig verduidelik het, sê hy: “Ag, miskien geld dieselfde kommentaar vir hulle ook: Hollywood is Hollywood, almal is op dwelms!”

Die kennis van watter rolprente ons al gesien het en wat goed sal wees om te sien, moet ek altyd onthou. Sy gunstelingakteurs moet ek menigmaal uitwys. “Onthou jy,” sal ek sê, “dit is die ou wat in 'Beautiful minds' gespeel het.” En dan gaan daar gewoonlik darem 'n lig op. Ek is ook die een wat  die name van die flieks wat vir hom goed was, onthou. My wederhelf is nou maar eenmaal nie op die rolprentbedryf ingestel nie. Hy gee net te min om, om sy kosbare geheue daaraan te wy. Hy lees liewer graag 'n boek en kyk dokumentêre films oor dinge wat saak maak. As hy dan ook die dag positief oor 'n rolprent voel, is dit gewoonlik gebaseer op ware gebeure.

Van wêreldsake weet manlief meer as ek. Die ekonomie maak vir hom definitief meer sin. In 'n gesprek oor oorlogvoering, rugby en krieket is hy altyd die fundi. Hy weet van pype, motors en huisplanne, maar iewers in die spektrum van alle kennis het ek ook 'n plekkie om te vul – agter sy blad staan ek stewig en kry my eie toekenning vir ingeligtheid, al is dit nou net vir 'n paar oomblikke se vermaak. Die vrou agter mý wederhelf is beslis 'n ingeligte fliekvlooi!

санкт-петербург

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.