
Die Ekonomiese Vryheidsvegters sê hy sal koalisies met ander partye oorweeg, mits hulle die EFF se beleid oor grondonteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van myne omarm.
Die EFF se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, Nazier Paulsen sê die party is oorgehaal om die oorsake van ongelykheid, naamlik eiendomsreg en grondbesit, uit te skakel.
Hy meen die EFF sal in dié provinsie goed vaar en minstens 22 setels in die provinsiale parlement inpalm.
Intussen het die EFF se leier min gesig gewys in die Wes-Kaap. Julius Malema het voorheen nie opgedaag by ‘n verkiesingveldtog in Kaapstad nie.
Malema was nie by ‘n nuuskonferensie ‘n week of wat gelede in Manenberg nie.
Manenberg is ‘n berugte bendetuiste en een van die oorsake van die Wes-Kaap se besonder hoë misdaadsyfer.
Malema het ook nie vroeër in Mfuleni opgedaag nie.
Sameroeper Nazier Paulsen het Malema se afwesigheid verdedig en gesê dit bewys dat die EFF nie ‘n “eenman-party” is nie.
Paulsen het gesê die premier van die provinsie het ook al geweier om in Manenberg op te tree.
‘n Manenbergse gemeenskapswerker het haar teleurstelling uitgespreek oor Malema se afwesigheid.
“Dit is hoe die woord versprei het dat Julius Malema self hier gaan wees, nie sy voetsoldate nie,” het sy gesê.