
Die leier van die IVP, Mangosuthu Buthelezi het die veldtog “Sidikiwe Vukani! Vote No” van Ronnie Kasrils veroordeel.
Kasrils wil Suid-Afrikaners aanmoedig om hul stembriewe in die 7 Mei-verkiesing te bederf of vir oppossisiepartye te stem.
Buthelezi het Kasrils se manewales as uiters onverantwoordelik bestempel.
Buthelezi het by ‘n IVP-saamtrek naby Vryheid in die noorde van KwaZulu-Natal dié besluit veroordeel.
Hy het gesê talle mense het hul lewens opgeoffer sodat alle Suid-Afrikaners mag stem, en gemaan dat kiesers hulself benadeel indien hulle dié reg geringskat.
Die voormalige adjunk-minister van gesondheid, Nozizwe Madlala-Routledge is deel van die veldtog vir bedorwe stembriewe.
Kasrils voer aan dat dit uit protes teen korrupsie in die regering is, maar sy beweegrede klink onoortuigend aangesien hyself deel was van die skepping van die korrupte ANC.
Die geen-stem veldtog is Dinsdag bekend gestel.
Kasrils het aan John Robbie tydens ‘n onderhoud op 702 gesê dat hy kiesers afraai om ANC sowel as DA te stem.
President Jacob Zuma het ook sy verbasing oor die veldtog uitgespreek.
Zuma het tydens ‘n besoek aan die Nelson Mandelabaai-metro gesê hy is verbaas Kasrils ‘n saak kan ondersteun wat mense hul stemreg ontneem, aangesien hy self deel was van die stryd vir swart stemreg.