Bevry ons van rugby!

Deel op

skoppensboer

deur Skoppensboer

[followbutton username=’skoppensbo3r’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Skoppensboer lees ook netnou op praag die artikel oor die nuwe rassekwotas wat die geagte minister van sport, Fikile Mbalula wil afdwing. Daar moet nou 60% swart spelers wees. “Onrealisties!” roep die rugbyskrywers in die koerante uit.

Nou wonder Skoppensboer by sigselwers: Rugby, vriend of vyand? Daai Amerikaanse joernaliste van die Financial Times, Patti Waldmeir, het mos in haar boek Anatomy of a Miracle oor die De Klerk-regering se netjiese kapitulasie aan die ANC geskryf: “Afrikaners swopped apartheid for rugby and they thought they had made a good deal.”

Baie Afrikaners sal seker hul erfgrond, familieplase, voorstedelike huise, asook Versamelde Werk van Langenhoven wat heel bo buite bereik op die boekerak staan, vir rugby verruil. Sommer hul vrouens ook, as dit daarop aankom.

Maar is rugby die prys werd? ‘n Amerikaner het eenkeer vir Skoppensboer gesê om ‘n seiljag te besit, is soos om met ‘n reënjas onder ‘n stort te staan en honderddollarnote op te skeur. Dis ‘n duur plesiertjie.

Is daardie paar oomblikke van gewoonlik drankbenewelde ekstase as die Springbokspan ‘n drie druk of met ‘n skop deur die pale slaag die miljarde rande wat Afrikaners in hul gunstelingsport stort, werd? Want die rugbystadions wat oral in die land pryk en deesdae al hoe meer vir sokker gebruik word, is nie met staatsgeld gebou nie. Nee, dit was kaartjieverkope en skenkings en borgskappe wat dít alles tot stand gebring het.

Geld uit die volk se sakke. Wat nou onder die heerskappy van Fikile Mbalula ressorteer. En al die brandewyn-en-coke-drinkende, hardebaardrugbybase spin deesdae soos klein katjies rondom Mbalula se voete, nie waar nie?

Wat het rugby-administrateurs en Agri-SA in gemeen? Albei is amper méér ten gunste van rassetransformasie as die ANC self! Agri-SA wíl die boere se grond deur “opkomende boere” laat oorneem. Trouens, hulle bied selfs aan om daarmee te help. Net so bestee die rugbybase miljoene van hul Afrikanerondersteuners se geld om swart skool- en klubspanne op te lei, ten einde rugby binne die afsienbare toekoms te verswart.

Elke rugbyspeler kry trane in sy oë as hy die onderbroekvlag sien wapper. Die draers van die Groen en Goud sing Oom Kosie Sukkel in Afrika met stemme wat van emosie bewe!

Daarom dink Skoppensboer dat ‘n swart Springbokspan met ‘n halwe blanke speler wat die demografie van die land weerspieël, onvermydelik is. Dis dan wat almal uit die diepte van hul harte begeer en al jare lank bepleit.

Laat die Blou Bulle maar dan die Swart Bulle in pienk truie word. En laat die Stormers of die Cheetahs onderskeidelik Xhosa- en Sotho-sprekend raak. Ten minste sal dit ‘n verandering wees ná soveel Afrikanerspelers wat al hul Afrikaans voor die kameras vergeet.

Maar dink net aan die bedekte voordeel vir Afrikaners. Die miljarde rande wat ons stadions en seisoenkaartjies en bier en vervoer en parkeerplek en petrol en wat nog bestee het om Rugby te aanbid, sal skielik ‘n ander heenkome vind. Dalk kan ons daarmee Afrikanerbesighede begin om vir ons mense werk en welvaart te skep. As ons net vyf persent van die fondse wat rugby opslurp aan die Afrikaanse kultuur bestee, sal ons weer operasterre, vol teaters, asook weekliks nuwe Afrikaanse films of boeke hê! Nuwe Afrikaanse media op die internet. Beurse vir studente.

Pleks van die Engelse sport rugby, kan ons gerus weer atletiek begin doen waar mense teen tyd of afstand of hoogte meeding en dit moeiliker is om kwotas in te voer. Of ons kan die skermkuns of skaak of yshokkie begin beoefen. Gholf. Niemand het nog ooit vir Ernie Els of Retief Goosen aangesê om swart te word nie. Sporte waarin die ANC-kaders ewe min as in Afrikaanse kultuur belangstel, want daar is nie groot somme geld wat vloei en in die vorm van salarisse of fooie afgeskep kan word nie. Daar is wel groot geld vir beroepsgholfspelers, maar dié word gewoonlik buite die land verdien.

En wat van ‘n eie Afrikaner- Olimpiese Komitee wat by die IOK aansoek om lidmaatskap kan doen? Dan is ons mos vir goed van Fikile Mbalula en sy politieke inmenging in sport ontslae.

Ook op skool is die rugbykultuur ongesond. Vele middelmatige onnies wat hul onderrig afskeep, het al as amateurrugby-afrigters jare by skole geslyt. En die hoofseun is mos gewoonlik die kaptein van die rugbyspan. Net soos die eerste span een en almal prefekte word en daardie skrander, skraal outjies wat dalk eendag ‘n Microsoft kon begin of die atoombom weer kon uitvind, afgeskeep en ontmoedig word.

En dan: vanaf ouderdom 13 is al die skoolseuns al op stereoïdes, drink proteïenaanvullings, bou spiere en doen kragoefeninge, alles in die hoop om die eerste span te haal.

Jare later gaan hulle vroeg dood, as hulle nie met krukke moet loop van al die knie-operasies wat hulle moes ondergaan nie. En die stampe en skoppe teen die kop wat hulle opdoen, lei in vele gevalle tot harsingskudding, breinskade en wat nog.

Moontlik het breinskade jou in in die verlede vir ‘n politieke loopbaan in die Nasionale Party gekwalifiseer. Was FW de Klerk ooit ‘n rugbyspeler? Of Pik Botha?

[followbutton username=’skoppensbo3r’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.