SA en Guinee teken verdrae na Ebola versprei

Deel op

ebolaSuid-Afrika en Guinee sal voorts gesamentlike navorsing onderneem om die uitbreking van dodelike siektes in albei lande te voorkom en te bekamp.

Die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane en haar Guinese eweknie, Francois Fall het gister in Pretoria 8 bilaterale ooreenkomste onderteken.

Dit volg nadat ‘n uitbreking van die dodelike Ebola-virus in Guinee reeds meer as 100 lewens geëis het. Guinee het ‘n bevolking van 12 miljoen, ‘n versameling van 40 etniese groepe.

Die siekte het nou na van Guinee se buurlande versprei.

Ebola kry selde ‘n kans om te reis en te versprei omdat die siekte vinnig uitwoed, maar is tans in die hoofstad Conakry, met 2 miljoen inwoners wat naby aan mekaar in krotbuurte woon.

Kommerwekkend is dat dit net ‘n kort afstand van ‘n internasionale lughawe is, en vrese dat dit globaal kan versprei is geopper.

Verskeie medici sê dit is moontlik, maar onwaarskynlik. Die meeste pasiënte met Ebola kom uit klein gehuggies in die bos en onderneem nie internasionale reise nie.

Met Ebola is daar ‘n inkubasietydperk van twee tot 21 dae. Dit is die tyd wat dit neem om die simptome te ontwikkel nadat iemand blootgestel is.

Met ‘n internasionale lughawe naby, kan ‘n geïnfekteerde aan die ander kant van die wêreld wees voordat hy hoofpyn , koors, moegheid en gewrigspyn, die vroeë simptome van ‘n Ebola-infeksie ervaar.

Die diarree en bloeding kom later. Hikbuie beteken dat dit veels te laat is, want die diafragma is onherstelbaar aangetas.

Dit is ‘n vinnige, doeltreffende en bloedige moordenaar. Die sterftesyfer is hoër as 50% en in sommige uitbrekings 90%.

Die meeste pasiënte sterf van skok binne 10 dae. Van die 112 sterftes tans is 14 mediese personeel omdat net ‘n mikroskopiese hoeveelheid bloed die virus oordra.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.