Kommunisteparty sê opposisiepartye moet ‘les geleer word’

Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SA Kommunisteparty
Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SA Kommunisteparty

Komende kort op die hakke van die minister van sport, Fikile Mbalula, se uitspraak dat die opposisie in Suid-Afrika Hitleriaanse “fasciste” sou wees, het die kommunistiese leier Blade Nzimanda Saterdag gesê dat die opposisie ‘n “harde les geleer moet word”.

“Gebruik 7 Mei om die Demokratiese Alliansie ‘n harde les te leer. Hulle sê dat hulle ten gunste van werksgeleenthede is maar was teen die plaaswerkers in die Wes-Kaap,” het hy aan die Nasionale Unie van Mynwerkers se nasionale fabrieksvloerverteenwoordigersraad in Boksburg gesê.

Hy het ook na die DA as “‘n party van arbeidsmakelaars” verwys. “As die DA na Cosatu- of Luthuli-huis ‘n optog hou, is die party swart, maar in die parlement is hulle wit.”

Nzimande het ook teen Julius Malema en sy belastingwanbetaling uitgevaar. “As jy die SA Inkomstediens R16 miljoen skuld, hoeveel miljoene het jy nie opgevreet nie? Hulle het meer as R100 miljoen opgevreet,” meen hy.

“Sommige mense dra duur horlosies en klere maar het nog nooit vir ‘n dag in hul lewens gewerk nie.”

Na hofdokumente skuld die EVV-leier Julius Malema R16 miljoen plus rente nadat hy in gebreke gebly het om tussen 2006 en 2010 opgawes in te dien.

In 2010 het die SAID Malema oor sy versuim om belastingopgawes in te dien gekontak.

Dit het Malema 18 maande geneem om na verskeie pogings van die SAID sy agterstallige opgawes in te dien.

Malema het ook in gebreke gebly om die Ratanang-trust vir belastingdoeleindes te registreer en die SAID het dit namens hom gedoen.

Sy regspan het die Hoë Hof te Pretoria in Februarie versoek om sy sekwestrasiesaak uit te stel. Die SAID het dit teengestaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.