Goldstone-kommissie gaan dood van Dag Hammarskjöld na 50 jaar oopkrap

Deel op
Tshombe
Tshombe

‘n Sweedse diplomaat en die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Dag Hammarskjöld, is na die ontploffing van sy vliegtuig op 18 September 1961 in die destydse Noord-Rhodesië (tans Zambië) dood.

‘n Internasionale kommissie wat bestaan ​​uit die voormalige regters Sir Richard Goldstone en Sir Stephen Sedley, is onlangs – in Februarie 2014 – deur die Verenigde Nasies saamgestel. Dié kommissie het die Verenigde State van Amerika intussen versoek om verskeie geheime dokumente rakende die kwessie vry te stel.

Hammarskjöld was op pad om Moïse Tshombe, wat die rebelle in koper-ryk Katangaprovinsie gelei het, te ontmoet.

Katanga wou destyds van die sentrale regering van die Kongo onder Patrice Lumumba afstig. Hy het vroeër die Kongo se onafhanklikheid van België verseker.

Tshombe, wat in ‘n tronk in Algiers in 1969 gesterf het, is deur Belgiese sakebelange ondersteun en hy het ‘n huursoldaatweermag op die been gebring wat die Verenigde Nasies se pogings om die Kantangaprovinsie – ook bekend as Shaba – as deel van die sentrale regering van die Kongo te behou, uitgedaag het.

Een dokument wat reeds vrygestel is, is ‘n kabel van die Amerikaanse ambassadeur in die Kongo, Ed Gullion. Die diplomaat identifiseer daarin die huursoldaat wat in alle waarskynlikheid die vliegtuig van die sekretaris-generaal van die VN afgeskiet het as Jan van Risseghem.

Suid-Afrika is ook destyds van betrokkenheid by die ramp beskuldig, omdat ‘n “wit suprematistiese netwerk” glo die sluipmoord beplan het. Hammarskjöld het egter baie vyande gemaak, veral die Europese koloniale moondhede, asook Rusland.

Suid-Afrika het Katanga se onafhanklikheid destyds gesteun.

Die Britse Hoë Kommissaris Cuthbert Alport het die vlug op die lughawe ingewag toe die vliegtuig elders naby Ndola in vlamme neergestort het. Omdat Altport by die lughawebestuur daarop aangedring het dat Hammarskjöld elders heen gevlieg het, is die soektog ure lank vertraag.

Die wrak van die vliegtuig is eers na langer as vyftien ure opgespoor, maar ooggetuies by die ramp sê daar was binne enkele ure reeds mense wat die toneel gefynkam het.

Angel-Saksiese diplomate was glo bekommerd oor die verlies aan mag van die groot moondhede in Afrika nadat Hammarskjöld ‘n militêre operasie in die Kongo teen die advies van Washington en Londen gemagtig het.

In Suid-Afrika is die SAIMN-dokumente met betrekking tot die dood van Dag Hammarskjöld op ‘n uiters vreemde manier gehanteer. Aartsbiskop Tutu het afskrifte van die dokumente in die openbare domein in 1998 vrygestel.

Hy het in ‘n persverklaring gesê dat die oorspronklike aan die destydse minister van Justisie, Dullah Omar oorhandig is. Maar hierdie oorspronklike dokumente het intussen verdwyn, sodat dit nou onmoontlik is om vas te stel of, soos daar beweer word, dit vervalsings is.

Twee van Hammarskjöld se topvolgelinge, Conor Cruise O’Brien en George Ivan Smith, is albei oortuig dat die sekretaris-generaal se vliegtuig afgeskiet is deur huursoldate wat vir Europese nyweraars in Katanga gewerk het.

Hulle glo dat die Britte gehelp het om Operasie Morthor onder leiding van Hammarskjöld te kelder. In 1992 het die twee ‘n brief aan die Guardian gestuur waarin hulle beweer dat die vliegtuig “per ongeluk” afgeskiet is.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.