As posthumaniste eis ons Clive Derby-Lewis se vrylating!

Deel op

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Dames en here, vriende en simpatiseerders met Clive, asook lede van die media wat hier teenwoordig is,

Deur vandag hier te vergader om die vrylating van Suid-Afrika se beroemdste oorblywende politieke gevangene te eis, is geen politieke daad nie.

Dit mag na ‘n paradoks lyk. Ná alles is Clive gesoute politikus, staatsman en leidsman van die konserwatiewe beweging in Suid-Afrika

Ons sê: Laat Clive vry! Laat hom nóú vry! Dis die regte ding om te doen!

Wat motiveer ons om dít te sê? As ons nie in die naam van die politiek praat ten behoewe van ‘n konserwatiewe politikus, ‘n voormalige burgemeester van Edenvale en volksraadslid van die Konserwatiewe Party, nie, op grond van watter diskoers of etiek versoek ons sy vryheid?

Ons grond ons appèl op drie dinge: geregtigheid, tesame met God of Christelike medemenslikheid, asook beskaafde waardes. In dié land van haat en geweld, van onverdraagsaamheid en wraaksug, waar mag so dikwels reg is, sal vele sulke beginsels uitjou. Vir so ‘n beroep op die rede en op redelikheid, sal hulle ons as regs tipeer. Of fasciste. Of boerse Boere. Maar ons verwerp alle etikette en slagspreuke.

Net soos wat ons nog ‘n enkele tronkuur vir Clive verwerp, so verwerp ons die gevangenis van taal, van fasiele propaganda. As iemand ons hoegenaamd wil etiketteer, moet hulle ons posthumaniste noem. Die mens is nie ons god nie, net soos wat humanisme nie ons godsdiens is nie!

Clive moes nooit in die tronk gewees het nie, wat nog te sê 21 jaar lank! Soveel ander het klakkeloos kwytskelding ontvang: Aboobaker Ismail, die outeur van die Kerkstraatbom, wat tydens ‘n gruweldaad net ‘n hanetree van hier, 19 mense vermoor en 200 vermink en beseer het. Ook die aanvallers van APLA wat in Julie 1993 goedsmoeds tydens ‘n erediens by die St. James-kerk in Kaapstad ingebars en 11 onskuldige burgerlikes doodgeskiet het, het klakkeloos kwytskelding van die Waarheids- en versoeningskommissie ontvang. Albei gevalle is oorlogsmisdade wat deur die Geneefse Konvensies verbied word!

Kort ná sy bewindsoorname het Nelson Mandela amnestie aan 9000 geharde misdadigers toegestaan, net soos FW de Klerk in 1991 ongeveer 4000 veroordeelde misdadigers vrygelaat het.

Net Afrikanergevangenes moes in die tronk bly sit, waaronder Clive Derby-Lewis die skreiendste geval is, hy wat self niemand gedood het nie!

Is dit geregtigheid? Is dit ewewigtigheid?

Ons weet dat daar in die naam van die mens en van gelykheid tydens die twintigste eeu 100 miljoen mense doodgemaak is. Veral die marxisme-leninisme was vir hierdie reeks volksmoorde verantwoordelik. As ons dus vra dat Clive om menslikheidsredes, as ‘n bejaarde, ernstig siek man vrygelaat moet word, weet ons amper by voorbaat dat ons versoek op dowe ore gaan val. Die mensaanbidder is juis nie “menslik” in daardie sin nie, maar by uitstek wreedaard, met ‘n hart van klip. Vandaar ons beroep op ‘n Hoër Gesag en op Christelike vergiffenis. Indien daar nog ‘n greintjie Christelikheid in Suid-Afrika oor is, vra ons nederig en nou ter elfder ure, dat dit op ons arme Clive uitgestort sal word.

Die derde beginsel waarop ons ons as posthumaniste beroep, is dié van beskaafde norme en waardes. Ons weet dat daar lande bestaan waar gevangenes mishandel en verwaarloos word, waar hulle mediese sorg ontsê word. Hulle kan selfs in die tronk vermoor word, hetsy deur ‘n bewaarder, hetsy deur ‘n medegevangene.

Sulke onbeskaafde lande word deur die internasionale gemeenskap verwerp of gewantrou.

Daarom vra almal van ons wat vandag hier byeen is, die dringende vraag aan hierdie owerheid: Is Suid-Afrika nog ‘n beskaafde land? En: Kan hy dit oor sy hart kry om ‘n konserwatiewe gevangene vry te laat?

Kerkplein, Pretoria, 12 April 2014

Naskrif by my toespraak en die betoging van gister

Wat my gister opgeval het, is hoeveel van die sprekers soos Steve Hofmeyr, Andries Breytenbach, Hannes Engelbrecht en ander na kommunisme verwys het. Dis seker nie toevallig nie, want Clive Derby-Lewis verkeer in die gevangenis as gevolg van sy beweerde aandeel in die sluipmoord op ‘n kommunistiese terroris, Chris Hani.

Elders vandag skryf Leon Lemmer in sy weeklikse, voortreflike rubriek hier op praag: “In die vorige eeu het heldersiende blankes tereg teen die rooi gevaar en die swart gevaar gewaarsku.”

Hy kon ook ‘n ander slagspreuk van PW Botha bygevoeg het: die totale aanslag. Tans is die aanslag van die huidige orde op Afrikaners juis totaal. Ons word op alle vlakke van ons menswees en identiteit aangeval: polities, ekonomies, sielkundig, ideologies, godsdienstig, taalkundig. Selfs sport word nie ontsien nie en so pas het die minister van sport, Fikile Mbalula, strenger rassekwotas aangekondig, maar ook alle opposisie teenoor die ANC-bewind as “fascisties” afgemaak.

Vandaar dus my gebruik van die term “posthumanisme” gister, wat aan die Franse filosofie van die 1970s en 1980s ontleen is. Uit Frankryk het die skerpste kritiek op kommunisme gekom, wat die wortels van kommunistiese wreedheid en totalitarisme tot in die denke en taalgebruik van Marx, Engels en Lenin nagespoor het. Die Franse filosoof, Alain Finkielkraut, het ‘n boek teen totalitêre ideologieë geskryf met die titel, Au nom de l’humanité (In die naam van die mens), wat ook in Engels as In the name of humanity vertaal is. Daarin sinspeel hy ook op die feit dat die ergste massamoorde, volksmoorde en ander vergrype nie meer soos in die dae van die godsdiensoorloë in Europa op grond van godsdienstige idees of verskille gepleeg nie, maar ter wille van “die mens”.

In Suid-Afrika het ons sedert 1994 gesien hoe spesifieke (swart)-mense soos die Mandelas (Nelson en Winnie), Tutu en Chris Hani verafgod word. By die dosyne word boeke oor hulle geskryf en Hollywoodfilms oor hulle gemaak. Ook die swartman as sodanig word verafgod as synde “meer moreel, meer bejammerenswaardig en daarom meer verdienstelik as die blanke”. Hierdie mens-as-afgod-idee is afkomstig uit drie denkstrome:

  1. die teologie van die revolusie wat die marxisme met die Christendom versoen het en waarvoor vele revolusionêre teoloë (soos emiritusbiskop Tutu) voorspraak maak, en wat van Christus ‘n soort “Ché Guevara van die armes” maak;
  2. die kommunisme en liberalisme wat tradisie, godsdiens en alle metafisiese beskouings verwerp en daarom die mens as enigste oorblywende god op die troon plaas;
  3. die wetenskap en die tegniek wat die illusie skep dat die mens volkome in beheer van sy omgewing en sy lotgevalle is en dat hele samelewings deur wetgewing, rasstellende aksie en sosiogeniëring omvorm of “getransformeer” kan word.

Die Afrikanerbeweging van die vroeë twintigste eeu was ‘n tradisioneel nasionalistiese beweging wat merendeels in stryd met Britse kolonialisme en imperialisme verkeer het, maar wat mettertyd ook deur die kommunisme gekonfronteer is. Uiteindelik moes Afrikaners deur onderlinge verraad en verdeeldheid die knie voor die Suid-Afrikaanse Kommunsteparty buig. Nelson Mandela was self lid van die Kommunisteparty en benewens Joe Slovo en Chris Hani, hul grootste held. Die oorblywende Afrikanernasionalistiese mediagroep, “Nasionale Pers” of Naspers, is self tot Mandela-aanbidding bekeer.

Net soos Afrikaners voorheen tussen Nat en Sap, of KP en NP verdeel is, heers daar vandag ‘n nuwe verdeeldheid tussen die oorblywende “stoere Boere” of Afrikaners en die liberale Mandela-akoliete. Maar selfs binne die oorblywende Afrikanerbeweging wat hom op allerlei maniere teen die huidige bestel verset, loop daar ‘n bars tussen die tradisionele Calvinistiese nasionaliste en ‘n meer sekulêre, postmoderne groepering wat hulle op ‘n “Afrikanertradisie-in-wording” beroep.

Danie Goosen het in sy boek “Die nihilisme” (Praag, 2007) die intellektuele grondslag vir ‘n nuwe godsdiensbelewing en ‘n nuwe metafisika gelê wat tot baie Afrikaners behoort te spreek. Volgens Goosen sou die mensaanbidding van die liberale en kommuniste juis ‘n vorm van nihilisme en verval wees. Hy beveel ‘n terugkeer na die idees van die Middeleeuse filosowe soos Duns Scotus, Thomas Aquinas en Willem van Ockham aan.

Globaal, veral in Wes-Europa, maar ook in Rusland, is daar egter ‘n sterk nuwe politieke en intellektuele beweging wat sy wortels in die Duitse denke van die vroeë twintigste eeu het en wat veral deur Nietzsche beïnvloed is. Nietzsche was by uitstek die filosoof wat ingesien het dat die Europese verlies aan ‘n godsdiensbeskouing (die sogenaamde “dood van God”) tot ‘n aanbidding van die mens sou lei, met die gevolge wat ons vandag wêreldwyd, maar veral in Suid-Afrika, beleef. Wanneer die mens, en veral die swartmens, op die troon van God geplaas word, kan daar net funeste gevolge wees.

Van Wyk Louw vra iewers die vraag: “Het ons ooit gemak in ons situasie verwag?” Daar was oomblikke in die sestiger- en sewentigerjare toe Afrikaners hulle wel verbeel het dat hulle ten einde laas gemaklik was, om nie van ‘n gemaksone te praat nie! Dit was egter van korte duur, want vandag bevind ons ons binne ‘n stryd om voortbestaan, ‘n oorlewingstryd met donker magte wat oral om ons opgestapel word.

Net om te oorleef, sal ons ‘n konstante stryd moet stry. Teenoor die totale aanslag, ons totale weerstand. Dit geld op alle gebiede: veiligheid, ekonomies, kultureel, talig, intellektueel, akademies, godsdienstig, filosofies. Soos die Spartane van ouds, wat van kleins af vir oorloë en stryd moes oefen, sal ons moet besef dat ons nie vir ‘n oomblik kan laat slaplê nie. Die swakheid van die gemaksugtige De Klerk-geslag is meedoënloos deur ons vyande uitgebuit tot op hierdie punt waar ons as vreemdelinge in ons eie land beskou word wie se bates na willekeur afgevat mag word, as ons nie soos diere afgeslag word nie.

As konserwatiewe posthumaniste wat nie meer die oppergesag van die mens – selfs die mens in groot getalle en as jillende skares of kiesers – bokant ons erken nie, sal ons ons eie toekoms skep, volgens ons eie tradisies en as organiese volkseenheid wat op selfbeskikking en eie soewereiniteit geregtig is.

Al bestaan die Afrikanerbeweging vandag oënskynlik uit ‘n klein groepie mense, sal die werklikheid van ons omstandighede binnekort groot getalle mense begin wakkermaak. Aan hulle moet ons ‘n omvattende plan en strategie bekendstel wat niks minder as ‘n konserwatiewe revolusie – om nou daardie Oostenrykse term van honderd jaar gelede te gebruik – tot gevolg sal hê nie.

Sodra Clive Derby-Lewis vrygelaat is, moet die volgende doelwit gestel word. En daarna die volgende en die daaropvolgende. Totdat ons van oorheersing vry is en uiteindelik daardie vryheid kan smaak waarna ons voorouers so lank moes streef, kaalvoet oor die Drakensberge.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.