Die riksdaalder was in 1806 nog 4 sjielings (4s. of 4/-) werd, maar deur die beleid van verskeie goewerneurs, wat onder meer telkens nuwe note laat druk het, het die waarde daarvan gedaal tot 1s. 5½d. in 1825. Die waarde van die Hollandse munte is in 1825 vasgestel op 1s. 6d. vir die riksdaalder asook die Kaapse gulden, 1s. 2d. vir die stuiwer en 2¼d. vir die skelling. Daar was heelwat ontevredenheid onder die Kapenaars, want hulle het gemeen dat die waarde van die ou geld veels te laag vasgestel is. Die riksdaalders is geleidelik aan sirkulasie onttrek, maar dit het baie lank nog as 'n waarde-eenheid gedien. Tot in die 1960erjare het party Afrikaners van 1s. 6d. as 'n "daalder" of "daler" gepraat. Die uitdrukking "'n bietjie dik vir 'n daalder" leef vandag voort in die betekenis van "te duur" of "te erg".
Daar was 12 pennies in 'n sjieling, en twintig sjielings in 'n pond; die kroon was 5 sjielings, die floryn 2 sjielings, die sikspens 6 pennies en die trippens of tiekie 3 pennies. Die afkortings vir die pond was £, 'n L vir die Latyn librae met 'n strepie deur die L, vir sjielings s (solidi) en vir pennies d. (dinarii). Dit het die Suid-Afrikaanse geldstelsel gebly tot in 1961 toe dié geld deur die desimale stelsel vervang is. Toe die Boererepublieke in die 1840er- en 1850erjare tot stand kom, is die riksdaalder, skelling en stuiwer aanvanklik as rekeneenhede gebruik, maar teen 1852 was die Britse stelsel ook daar gevestig.
So ingeburger was die Britse geldname, veral die halfkroon, in die Afrikaanse kultuur dat dit opgeneem is in uitdrukkings soos: "Hy het 'n halfkroon opgetel" (Hy het geval) of "Jy skuld my 'n halfkroon" (Jou gulp is oop) en "ook 'n stuiwer in die armbus gooi" (ook saampraat). Oulap, ou benaming vir 'n pennie, is nog te vinde in die ou gesegde: "'n Oulap se rooi maak mooi".