Van doppertunisme tot kommunisme en afrikanisering

Deel op
Dopper en Anglikaan deel 'n oomblik saam
Dopper en Anglikaan deel ‘n oomblik saam

deur Leon Lemmer

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar ‘n plattelandse prokureur Frederik/Frikkie/FW de Klerk wat ‘n politikus geword het. Hy het konserwatiewe geluide gemaak en op grond daarvan die partyleier geword. Chris Brink het die rektor van die Universiteit Stellenbosch geword omdat hy Afrikaans as onderrigtaal sou bevorder, maar het daarna alles moontlik gedoen om Afrikaans af te skaal (Praag 6 April). Op ‘n soortgelyke wyse is verkeerdelik gedink dat die land veilig in FW de Klerk se hande sou wees. Hy sou kragman speel en met die magte van die bose oor politieke magsdeling onderhandel.

De Klerk het aan die wit kiesers belowe die uitkoms van sy onderhandelinge sou bv eie woongebiede en eie skole wees en niemand sou sy werk verloor nie. Die blankes kon gerus slaap, want die finale ooreenkoms sou aan die blanke kiesers vir goedkeuring voorgelê word. Die boere se kaart en transport sou veilig wees. Daar is nie belowe dat boere nie vermoor sou word nie, want voortgesette wet en orde is as vanselfsprekend aanvaar. Daar sou ook ‘n oorvloed van menseregte wees en die reg op lewe is sekerlik ‘n voorvereistes vir die benutting van al die ander regte. (In die nuwe Suid-Afrika is die boere egter so veilig soos renosters.)

Volgens De Klerk sou hy as’t ware die duiwel se stert knoop. Vir wit en swart sou die nuwe Suid-Afrika ‘n wen-wen-situasie wees. Die groot pluspunte sou wees dat die land vry van rassediskriminasie en die gevaar van kommunisme sou wees. Met van die topposte wat deur geweldenaars beklee word, was die nuwe Suid-Afrika van die begin af sekerlik nie vry van geweld nie. “Geweld is lonend” is ‘n leuse wat goedskiks op die nuwe Suid-Afrika toegepas kan word. Byvoorbeeld, ‘n oudterroris het onlangs ‘n boedel ter waarde van R46 miljoen nagelaat, sonder dat hy ooit ‘n poging aangewend het om die skade te vergoed wat hy aangerig het.

Frikkie het ‘n ouer broer Willem gehad, wat nie so konserwatief soos sy kleinboet wou wees nie. Willem wou graag ‘n uitwaartse en nie-verstokte progressiewe beeld van homself skep. Hy het ‘n onderskeid tussen verligte en verkrampte Afrikaners getref en homself verlig verklaar. Verligtheid het ‘n aansteeklik aantreklike opsie vir Frikkie geword. Die skrywer André P Brink het Frikkie as student op die Potchefstroomse universiteitskampus geken en hom in ‘n Vurk in die Pad (2009) soos volg opgesom. “Sy mees opvallende eienskap was ‘n drang om mense ter wille te wees en ‘n bereidwilligheid, selfs ‘n gretigheid, om nogal laag te kruip om dit te bereik” (p 143-144) en “De Klerk [was] geslepe genoeg as politikus om die tekens van die tye en die luim in die land akkuraat genoeg te lees en daarvolgens te handel … hy het oor die vaardigheid en geslepenheid beskik om dit met styl te doen. Hy was duidelik nog oortuig daarvan dat hy kon voortgaan om die proses te kontroleer en die grense en momentum daarvan te bepaal” (p 441).

As redakteur van Rapport het Izak de Villiers FW de Klerk se grondwetlike onderhandelings eerstehands ervaar: “Volgens my waarneming [het De Klerk] nie eens geweet wat hy aan die bestuur was nie … Die ANC het met hul dreigemente en aksies en charteristiese aanvalle op alle fronte die kitaar geslaan” (Strooidak en Toring, 2009, p 205). Die verloopte Afrikaner Leon Wessels het geskryf: “Die ‘wit saak’ was verlore lank voordat die onderhandelinge begin het” (Die Onvoltooide Vrede, 2010, p 59). De Klerk het te laat tot die besef van die katastrofiese gevolge van sy dade gekom. In 1996, volgens Wessels, “flankeer FW openlik met die gedagte om teen die Grondwet te stem” (p 279). De Klerk het egter sedert 1990 die pad van “onderhandeling” (wesenlik ‘n eufemisme vir toegewings) bewandel en het ook hierdie keer toegegee. Soos De Klerk is Wessels een van diegene wat valslik beweer dat De Klerk ‘n mandaat van die blanke kiesers gehad het om in plaas van magsdeling met algehele magsoorgawe aan die swartes vorendag te kom.

Die ondergang van die blanke bewind in Suid-Afrika kan terug dateer word tot ‘n daad van nepotisme in 1954. Toe Hans Strijdom eerste minister geword het, het hy Jan de Klerk, wat geen parlementêre ondervinding gehad het nie maar sy swaer was, as minister in sy kabinet aangestel. Op grond daarvan word soms beweer dat Jan se seuns, Willem en FW, uit ‘n uitgelese politieke familie kom en daarom uitmunt in politieke insig. Dit is soortgelyk aan die storie wat in Amerika oor die Kennedys versprei is. Joseph Kennedy was as die Amerikaanse ambassadeur in Brittanje in baie opsigte ‘n volslae mislukking; dermate dat algemeen besef is dat hy nie die Amerikaanse president kon word nie. Maar sy politieke loopbaan is vir propagandadoeleindes as roemryk voorgestel. Op grond daarvan het sy seuns, John/Jack, Robert/Bobby en Edward/Ted opgang in die politiek gemaak, al was hulle in baie opsigte onetiese opneukers met gevaarlik min politieke insig. ‘n Mens moet lugtig wees vir die beeld wat met politieke oogmerke van iemand geskep word.

Die geskiedenis van die universiteit op Potchefstroom het in 1905 ‘n aanvang geneem toe die kweekskool vir Gereformeerde of Dopperpredikante, wat in 1869 te Burgerdorp begin is, daarheen oorgeplaas is. In 1909 het dit ‘n universiteitskollege en in 1951 ‘n universiteit geword. Sedert 2004 vorm die Potchefstroomse kampus saam met die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampus gesamentlik die Noordwes-universiteit. Die Potchefstroomse Universiteit en daarna die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-universiteit staan tradisioneel as die Dopperhemel bekend vanweë die leidende rol wat Doppers deurgaans daar gespeel het. Jan, Willem en Frikkie de Klerk het as Doppers op die kampus spore getrap. Oor die diepte van daardie spore gaan ek my nie uitlaat nie.

FW de Klerk het in 1990 met sy inisiatiewe vir die beloofde wonderlike nuwe Suid-Afrika begin. Hy wou wegbreek van alles wat betreurenswaardig in ons verlede was. Naas geesdriftige ondersteuners was daar heldersiende skeptici wat sonder omhaal van woorde gewaarsku het: HKGK. Van die vroegste kritici was ‘n briefskrywer in Beeld (25 April en 21 Junie 1990) wat die neologisme “doppertunisme” gebruik het om na De Klerk se “kansvattende mentaliteit” te verwys. Die term “doppertunisme” word gebruik om die gedrag van De Klerk en sy meelopers te karakteriseer. Die term kan dus ook op nie-Doppers van toepassing wees. Verder sluit “doppertunisme” sekerlik nie alle Doppers in nie. Die term is wesenlik ‘n sinspeling op “opportunisme,” met ‘n dopper, De Klerk, wat hierin die leiding geneem het. Daar kan bv gesê word dat die FAK meer konserwatief en behoudend as die ATKV is, wat agteroor leun en doppertunisties met sy inklusiwiteit, geregtigheid en transformasie is.

Tydens die grondwetlike onderhandelings is daar kort-kort berig oor wonderlike “deurbrake” wat gemaak is. Aan die twee hoofonderhandelaars, Roelf Meyer van die Nasionale Party (wat eers later amptelik lid van die ANC geword het) en Cyril Ramaphosa van die ANC, is selfs ere-doktorsgrade toegeken omdat hulle glo die byna onmoontlike vermag het. Maar toe die stof van al die gunstige propaganda gaan lê het en besef is dat ongekwalifiseerde gelyke stemreg aan almal toegestaan is, is besef dat wat ook al ooreengekom is met ‘n tweederdemeerderheid deur die oorweldigende getal swart kiesers verander kon word.

Wat mettertyd baie duidelik geword het, is dat FW de Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en (feitlik) al die ander blanke onderhandelaars ruggraatloos ‘n pad van toegewings geloop het. Die punt wat ek wil stel, is dat hierdie doppertunisme in 2014 steeds vaardig op die universiteitskampus in Potchefstroom is. Soos in die geval van die Reitz-insident aan die Universiteit Vrystaat is ‘n onbenullige verskynsel in Potchefstroom, die beweerde gebruik van ‘n Nazi-saluut, opgeblaas tot iets waarmee gepoog is om daardie kampus en veral die kampusbestuur te diskrediteer. Pleks van vas te staan, is doppertunisties aan die ANC se propagandadruk toegegee. Pleks van Dan Kgwadi se aanwysing as rektor te hersien, is hy toegelaat om vroeër beheer oor die universiteit te verkry. Kgwadi is op rekord dat hy die Potchefstroom-kampus wil verswart en verengels. Daarmee gaan die laaste wesenlik Afrikaner- en Afrikaanse kampus van die aardbol verdwyn. Soos aan die Universiteit Stellenbosch (Praag 6 deser) moet apatiese blanke Afrikaanssprekendes hiervoor verantwoordelikheid aanvaar.

Maar kom ons toets die hedendaagse praktyk aan ‘n spesifieke verwagting wat De Klerk geskep het, naamlik dat die nuwe Suid-Afrika vry van rassediskriminasie en die gevaar van kommunisme sal wees. Die aangewese plek om dit te toets is by hoër onderwys. Daar is die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Blade Nzimande, die minister en nog ‘n kommunis, Gwebs Qoonde, is die direkteur-generaal. Sover bekend het daar nog nooit besware teen hierdie twee kommuniste uit die universiteitsektor opgeklink nie. Maar dit toon ten minste duidelik aan dat anders as wat De Klerk in die vooruitsig gestel het, die nuwe Suid-Afrika nie vry van die gevaar van kommunisme is nie. Ek sal Nzimande nie die “verantwoordelike minister” noem nie, want hy was glo in 1976 so onverantwoordelik om die biblioteek van die Universiteit Zoeloeland af te brand. Sedertdien het sy deuntjie verander: “Destruction of property … is totally unacceptable and should never be tolerated” (politicsweb 1.10.2012).

Malegapuru Makgoba is die rektor van die Universiteit KwaZulu-Natal (UKZN). Hy en Nzimande is albei Zoeloes en albei glo aan toordokters. RW Johnson het hulle “two Frankenstein’s monsters” genoem (The African University? The critical case of South Africa and the tragedy at the UKZN, Cape Town: Tafelberg, 2012; slegs elektronies beskikbaar; geen bladsynommers nie). Albei “hitched a ride on Zuma’s Zulu caravan.” Terwyl Afrikanerkultuur en -nasionalisme deur Russel Botman soos ‘n onding aan die Universiteit Stellenbosch uitgeroei word, word Zoeloekultuur en -nasionalisme sienderoë aan die UKZN vertroetel. Die ideaal is dat Zoeloe en Engels teen 2016 in gelyke mate (dus 50-50) in die administrasie en onderrig gebruik moet word. “The real political point of all this is not actually to achieve anything worthwhile for the Zulu language but to browbeat and bully the non-African faculty.” Alle studente sal bv ‘n kursus in ‘n Afrikataal, Afrikaans uitgesluit, moet slaag voordat hulle kan gradueer.

Volgens Nzimande is die UKZN die universiteit wat “die meeste gedoen het om met ‘diskriminasie-kwessies te worstel'” (Die Burger, 24.01.2013, p 12). Waarvan Nzimande en Makgoba klaarblyklik hou, is dat kennis van Zoeloe aan die UKZN as ‘n uitsluitingsmeganisme vir blanke, Indiër- en bruin studente en personeel gebruik kan word; iets wat Afrikaans aan geen universiteit mag doen nie. Nzimande het dit reeds in 1996 onomwonde gestel “dat hy gekant is teen die bestaan van Afrikaanse skole en universiteite … dat taal gebruik word om wit skole te waarborg (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria, Protea Boekhuis, 2013, p 65, ook p 167). Maar dit is baie duidelik dat Zoeloe aan die UKZN ingevoer word met die spesifieke doel om nie-swartes uit te sluit. Die idee is klaarblyklik dat kennis van Zoeloe swart (veral Zoeloe) -studente en -personeel van mededinging met die drie ander etniese groepe moet vrywaar. Daarmee word eintlik erken dat swartes nie akademies op gelyke voet met die ander etniese groepe kan meeding nie.

Myns insiens is dit duidelik dat rassisme hier ‘n rol speel. Toe Makgoba die rektor van die UKZN geword het, was die meeste dosente afkomstig van die Universiteit Natal wit en daarby manlik, terwyl baie Indiërdosente aan die Universiteit Durban-Westville verbonde was. “Makgoba compared the white males who made up the largest proportion of his academics to supernatural apes” (RW Johnson, South Africa’s Brave New World, London: Penguin, 2010, p 587). Wit mans, volgens Makgoba, “were badly in need of ‘treatment and a proper African rehabilitation’. Indeed, he declared, only when they ate, talked, sang and danced like Africans did they have any hope of being readmitted to the human race. This was nothing less than a declaration of a sort of racial war against non-Africans” (Johnson, 2012). Sou die Menseregtekommissie sonder om ‘n bohaai op te skop blankes toelaat om ongestraf soortgelyke uitlatings oor swartes te maak?

Die lakmoestoets vir die rasgebaseerde greep wat die kommuniste van die departement hoër onderwys en Makgoba op universiteite het, is die “race equity index.” “Equity” beteken billikheid, regverdigheid, onpartydigheid. Wat hier as “equity” voorgehou word, is dat die jongste sensusdemografie (2011) wat betref ras en geslag in sowel die studente as personeel van universiteite weerspieël moet word. As die Suid-Afrikaanse bevolking sê 80% swart is, is die ideaal dat sowel die studente as personeel aan elke universiteit 80% swart moet wees. Dit maak nie saak as die bevolking van die Wes-Kaap sê 50% bruin is nie. Volgens die nasionale demografie is daar sê 10% bruines, gevolglik is die “race equity index” vir bruines vir elkeen van die Wes-Kaapse universiteite 10% en nie 50% nie. Hierdie 10% bruines geld ook vir al die ander universiteite.

Die verskil tussen swart en nie-swart is dat daardie universiteite wat demografies te min swartes het aan staatsubsidie gaan inboet. Amptelik is verklaar dat die befondsing van ‘n universiteit afhang van “the proportion which an institution has of students of disadvantaged background” (Kapp p 222). Oor daardie universiteite wat demografies te veel swartes het, bv meer as 80%, sal geen kommunistiese of ANC-haan kraai nie; hulle sal eerder by nog hoër subsidiëring baat. Dat dit vir die ANC-regering in die eerste plek om swartes gaan (en nie om die ander drie etniese groepe nie) is tot sy ontnugtering by Russel Botman tuisgebring toe die Portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys die Universiteit Stellenbosch besoek het. Dit is toe baie duidelik gemaak dat neo-swartes soos Botman en ander bruines nie as werklik swart deur die ANC-regering erken word nie (Kapp p 181).

Die spel waarmee die ANC-regering besig is, is kwantiteitgebaseerde sosiale manipulering. Die beginsel waarvan uitgegaan word, is dat kwalitatiewe oorwegings nie mag geld nie. Ingevolge doppertunisme geld ongekwalifiseerde algemene stemreg in die nuwe Suid-Afrika. Dit word misbruik as amptelike erkenning dat alle kiesers gelyk en eenders is. Maar daar is etniese redes wat dit vir die ANC-regering moontlik maak om sommige groepe te bevoordeel (veral swartes) en ander (veral wittes) te benadeel. Van die hoogste tot die laagste vlak word mense uitruilbaar geag. Sonder dat daar ‘n opmerklike verlies aan bv insig, kundigheid, arbeidsaamheid, ens, sou wees, kan swartes glo die hoogste poste beklee en in dieselfde mate as bv wittes uitmuntend presteer. In die nuwe Suid-Afrika ervaar ons daagliks die onbetwisbare waarheid van Lemmer se Wet: Vir elke pos en veral vir dié wat reuseverantwoordelikhede dra en buitensporige vergoeding meebring, is daar ‘n leërskare swartes wat daarop aanspraak maak. Die vergoeding is die aas; nie die verantwoordelikhede nie. Mits jy swart is, is jy ten koste van die land as’t ware op jou Nkandla geregtig.

Die konkreetste bewys van die mag van kommunisme in die nuwe Suid-Afrika en ‘n toonbeeld van onverbloemde rassediskriminasie is die brousel genaamd “race equity index” wat Nzimande en Makgoba opgedis het (Nicola Jenvey, “Race equity index for universities stirs controversy,” University World News Global Edition, Issue 294, 1.11.2013). Die oorsigkomitee oor transformasie

“found that it could take 43 years to achieve racial balance among staff in universities and proposes new admissions policies and funding penalties against untransformed institutions. The report submitted to the parliamentary portfolio committee on higher education late [October] also calculated that it could take more than a dozen years before student enrolments mirrored national demographics … Nzimande … announced the oversight committee last January and called on it to report, among other things, on discrimination in higher education, and to advise him on policies and strategies to combat discrimination and promote positive institutional cultures for staff and students.” Nzimande is dus eerder in ideologie as akademiese gehalte geïnteresseerd.

“The study showed South Africa’s previously advantaged institutions had poor equity indices, but scored well as high-level knowledge producers. Correspondingly, universities of technology and several formerly disadvantaged institutions produced ‘little research, but have a good equity profile’ …North West University Rector Dr Theuns Eloff slammed the report, arguing that the index could not be used as a departure point since crucial factors like the regions that universities served were not taken into account … other factors equally essential but ignored were the quality of higher education offered and sub-standard school education. Some regions also had higher concentrations of certain race groups. Correspondingly, the current equity index approach would land institutions like the historically disadvantaged University of Venda in trouble as it had too few white students, or the University of the Western Cape for having too many mixed-race students.”

Tydens die parlementêre komiteebesprekings het dit geblyk “North West University was the only institution that had questioned the study.” Dalk verklaar dit die veldtog wat sedertdien deur die ANC en sy meelopers, soos Adriaan Basson en Hannelie Booyens, teen die Potchefstroom-kampus gevoer is. Universiteit Stellenbosch (US) “had welcomed the study as a tool showing how bad its situation was and how it could plan to improve.” ANC-kameraad Russel Botman gryp dus hierdie sotlike anti-akademiese voorstelle aan as ‘n instrument wat hy kan misbruik om die US verder en vinniger te verswart en verengels en by implikasie blankes en Afrikaans in selfs groter mate te benadeel.

Reeds in 2004 het Makgoba geweet daar is mense “saying restructuring was a front for an ‘exclusivist Africanisation agenda and the inevitable drop in academic standards … there are people who question the capacity of the restructuring process alone to bring about real transformation in our higher education institutions.'” Met ander woorde, die tyd vir ANC-dwang om te konformeer (bv finansieel, of die oorname van ‘n universiteit deur ‘n ANC-kornuit as administrateur) het heel moontlik aangebreek. Daarom sluit Jenvey se artikel af met hierdie sin: “Can these be considered as prophetic words nearly a decade later?”

Die uitgangspunt van die transformasieproses is klaarblyklik foutief. Soos Allan Bloom tereg opmerk behoort dit te gaan om “better education for the best people” (The Closing of the American Mind: How higher education has failed democracy and impoverished the souls of today’s students, London: Penguin, 1988, p 49). Nzimande, Makgoba en baie van die ideoloë in die ANC is met ras en geslag gepreokkupeer. Die genoemde ondersoek het baie duidelik getoon: Hoe minder getransformeer ‘n universiteit is, des te beter die akademiese prestasie daarvan. Nou wil die ANC-regering juis om rassistiese en geslagsredes versnelde transformasie en al hoe erger verlaging van onderrig- en navorsingstandaarde hê.

Sedert 1994 het die ANC-regering skoolonderrig in die afgrond in bestuur. Hy is vasbeslote om dieselfde met universiteite te doen. In die vorige eeu het heldersiende blankes tereg teen die rooi gevaar en die swart gevaar gewaarsku. Ek voorsien rampspoed soortgelyk aan dié van onderwys by grondhervorming. Onderwystransformasie gaan die gees van inwoners al hoe meer verarm. Grondhervorming gaan hongersnood vir inwoners se liggame meebring. Moontlik sal dít die uiteindelike resultaat van doppertunisme wees, wat op sy beurt die gevolg van ‘n enkele nepotistiese wandaad in 1954 is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.