Totalitarisme op sielkundige vlak

Deel op
Image’n Uitdagende staat veroorloof homself enige klein misdaad, enige daad van geweld, om die indiwidu tot skande te maak. – Sigmund Freud
Deel op

Dat linksgesinde joernaliste deesdae verregaande onsin skryf oor die utopiese wortel wat voor ons neus hang, terwyl die bose, duistere verlede ons ernstig geknak het, is ’n gedagtegang waarteen ek al ’n dik vel ontwikkel het. ’n Mens wonder of sulke skrywers besef dat sulke pogings eerder wanhopig as wonderbaarlik oorkom, veral as hul stellings op uitermate swak gebaseerde argumente gebou word. Sodra hierdie skrywes egter ’n diepte-sielkundige dimensie aan politieke prosesse begin verleen, word dit weer tyd om te waarsku teen die volslae totalitarisme wat hieruit kan ontstaan.

Die nuutste poging van IOL se Heidi Holland is die soveelste probeerslag in hierdie verband. In hierdie artikel skryf sy oor die oorweldigende geestelike versteurings waar Suid-Afrikaners van alle groepe aan ly. In plaas van ’n objektiewe benadering, en om ’n ondersoek wat die beleweniswêreld van indiwidue wat met geestelike patologieë stoei te begryp, moet ons sommer weer verhale hoor oor die uitermate traumatiese apartheidsverlede en die onvermoeë om ons te versoen met die Evangelie van Nelson Mandela. Duidelik het ons hier te make met ’n neoFreudiaanse geloofswaansinnige wat God verruil het vir Oehoeroe. Selfs Marx is te gesofistikeerd vir haar. Ten minste het Marxistiese sielkunde – vreemd genoeg – briljante denkers opgelewer, ondanks die moeilike tye onder Stalin se swaar ideologiese druk.

Mevrou Holland is tipies Freudiaans in haar benadering deur te maak asof alle menslike handelinge die gevolg is van vroeë trauma. Hiermee ondermyn sy die konsep van vrye wil en keuses wat mense maak. Om dinge nog te vererger stel sy voor dat almal vir verpligte psigoterapie sessies moet gaan om hierdie probleem te verhelp. Die nadruk lê op blankes, om weereens die ou koloniale plig van opheffing van die nie-blanke rasse te bevorder, ondanks die diskriminasiemaatreëls wat tans teen blankes geld.  

Wat hierdie mevrou kennelik nie besef nie, is dat psigoterapie – hoewel belangrik – geen absolute wondermiddel is nie. In sommige gevalle geld selfs die teendeel: ’n Nederlandse kliniese sielkundige het onlangs in haar doktorale proefskrif geargumenteer dat terapie na trauma dikwels aweregs werk. Die terapeut versoek die getraumatiseerde kliënt om voortdurend terug te blik na die traumatiese insident, waardeur herstel en innerlike balans uitgestel word. Die mens se psige is oor miljoene jare heen geprogrammeer om met trauma’s om te gaan. Uiteraard is konfrontasie met ’n mens se demone uit die verlede belangrik, maar dit is nie die bedoeling om voortdurend hierdie ou koeie telkens weer op te grawe nie. Die psigiater Theodore Dalrymple het ook iets in dier voege gestel dat die algemene golf van misdaad in Europa saam gestyg het met die aantal sielkundiges en kriminoloeë.

Die gevaar van hierdie geleerdes is dat hulle voortdurend na bronne buite die direkte keusemoontlikhede van die indiwidu kyk om sy/haar gedrag te verklaar. Dit ly tot situasies waaroor Dalrymple geskryf het van ’n gedetineerde wat beskryf hoe die mes in sy slagoffer gegaan het. Die feit dat die gedetineerde diegene was wat die mes ingedruk het, het hom ontgaan. Die mes was die doener, en nie die man wat dit vasgehou het nie. Dit is hierdie soort taktieke wat skaamteloos uitgebuit word deur tiranne om hul vermeende vyande te verketter. Dit is die skuld van alles behalwe die persoon self.

Holland skryf verder dat die gevare lê onder andere by die lae-selfbeeld wat leidende figure dikwels het, dat hulle nie volwasse kan omgaan met kritiek nie en daarom neerhalend optree teen ander, wat sodoende die situasie vererger. Weereens verkeer ons in ontkenning (sug!) oor ons eie wonde uit die verlede, volgens die groot geleerde Dr. Mamphela Ramphele. Net soos politici blank Suid-Afrika voor die dubbele uitdaging sit om enersyds swartes op te hef maar andersyds gebuk te gaan onder swart bemagtiging, doen Holland dit op ’n sielkundige vlak.

Aan die een kant wil sy ’n samelewing sien van mense met ’n gesonde selfbeeld, maar tegelyk wil sy hê almal moet voortdurend met hul getraumatiseerde verledes omgaan. Met ander woorde hulle moet leer dat faktore buite hulself hul gedrag bepaal. Die hoeksteen van ’n gesonde selfbeeld is juis beheer neem oor jou eie lewe, en jouself bo jou trauma’s en ellendes stel. Ek dink nie dat Holland se geliefde Robert Mugabe ’n probleem op daardie gebied het nie, anders as wat sy voorgee in haar treurige psigoanalitiese verklaring vir sy landonteiening.

Bowendien is dit gewoonweg prakties onuitvoerbaar om veertig miljoen mense kwalitatief te beraad. Sulke massa-aksies is al in die verlede geprobeer, dat mense hul mees persoonlike pyne voor groepe moes voordra, maar dit het hul trauma’s in baie gevalle net vererger.

As mevrou Holland so oortuig is van die meriete van haar gevallestudie, wonder ek waarom die selfmoordsyfer onder swartes in die post-apartheid tydperk verdriedubbel het. Geleerdes meen dat hierdie selfmoord tendens as gevolg van verstedeliking en indiwidualisering van die swart gemeenskap is. Ek dink ons moet nie wanhoop en uitsigloosheid as oorsake afskryf nie. Mevrou Holland meen verder dat die migrante arbeidsisteem tydens apartheid gesorg het vir die afbreek van gesinstrukture onder swartes. Hoewel daar seker ’n mate van waarheid hierin skuil, verklaar dit nie waarom die swartes in die townships met meer onluste en maatskaplike afbreek gekonfronteer was as swartes in die tuislande nie, terwyl in die townships swart gesinne juis bymekaar gewoon het.

Oor haar troeteldiktator Mugabe skryf sy dat hy diep teleurgesteld was met Engelse blankes omdat hulle hom dieselfde regte beloof het as die Engelse self as hy hulle gewoontes sou oorneem, maar desondanks het hulle liewer Ian Smith as staatshoof gesien. Hierdie het blykbaar Oom Robert so swaar psigologies aangetas dat hy wraak geneem het op sy Engelse landbouers. Hoekom hy dit eers twintig jaar later gedoen het, en nieteenstaande ’n gereelde klant was van Harrods in Londen, laat sy agterweë. Sy noem ook niks van die tientalle duisende Mathebele’s wat hy kort na aantrede in die tagtigerjare uitgemoor het nie.  

Origens het een van die wêreld se mees invloedryke politieke leiers, ons eie Generaal Jan Smuts sy beleid vir Suid-Afrika koelkop benader, ondanks sy woede oor Rhodes se rol in die Jameson inval en die feit dat hy sy tweeling babakinders aan die dood moes afstaan so kort voor die Boereoorlog. Behalwe Smuts se laakbare rol tydens die mynwerkersopstande, was hy in baie opsigte die teenoorgestelde van ’n Mugabe.

Hierdie prul psigoanalise van Holland baan die weg vir ’n totalitarisme op sielkundige vlak, en help uiteindelik verder om mense weerlose instrumente van die oppermagtige staat te maak. Die bekende Russiese skrywer Aleksandr Solzjenitsin het ’n opstel geskryf, in Engels vertaal as ‘Candle in the Wind’, waarin hy die ideale Sowjetburger voorgestel het as iemand wat oor geen karakter, swak wilskrag en byna geen beheer oor haar emosies gehad het nie. Dit lyk onheilspellend eens met die ideale mens in Holland se Oehoeroe-heilstaat (of liewer helstaat).

Van alle volkere in Afrika, het die Afrikaner gelukkig een eienskap wat sal veroorsaak dat Holland se Freud-vir-beginners benadering nie al te soepel sal werk nie: Die Argentynse skrywer/filosoof Jorge Luis Borges het gestel dat anders as die Europeër, identifiseer die Argentyn nie met die staat nie. Ek dink ons kan dieselfde sê van Afrikaners. ’n Afrikaner is nie iemand wat met die staat identifiseer nie. Die staat moet met hóm identifiseer. Vandaar vermoed ek kan die Afrikaner nooit saamstaan nie.

Botsende waardes soos hierdie het maar bitter min uit te maak met die diepte-psigoanalise, en is juis verfrissend vir ’n goeie demokratiese bestuur. Holland haak kennelik nog vas in die postkoloniale roes van die sewentiger jare en dink sy kan ’n verskil maak aan Afrika se oneindige siklus van tirannie.

Miskien moet sy die twak wat sy skryf maar neerlê en die wyse aanhaling van daardie ander getraumatiseerde held, Idi-Amin ter harte neem: ”You came to Africa to play White Man with the natives, but we are real!”
  

насосной станцииФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.