Clive Derby-Lewis een van min sonder sweem van verraad

Deel op

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Met die aksie wat Front Nasionaal tans rondom die vrylating van mnr. Clive Derby-Lewis voer, het ek ook onlangs met mev. Derby-Lewis gesprek gevoer. Sy het weer allerlei aspekte van die Konserwatiewe Party se geskiedenis opgediep en selfs beweer dat die Nasionale Party in 1987 verkiesingsbedrog op Krugersdorp gepleeg het. Ook het veiligheidspolisiemanne mede-Afrikaners so gemartel dat hulle agterna in rolstoele geëindig het. Die Nasionale Party se eerste vyand was nie die ANC of SAKP aan wie hy teen wil en dank – niks sou De Klerk en Roelf Meyer in hul selfopgelegde taak stuit nie – wou oorgee nie, maar die Konserwatiewe Party, AWB, Volksfront en ander nasionalistiese Afrikanerorganisasies regs van die destydse regering.

freecliveBetoog saam met Steve Hofmeyr, Dan Roodt en Afrikaanse partye en organisasies môre-oggend om 9:00 te Kerkplein, Pretoria! Teken die petisie vir sy vrylating.

Wat my egter bybly hiervan, is dat Afrikanerverraad oor die afgelope twee, drie dekades hoogty gevier het – ook onder sogenaamde “regses”. Dis asof die totale Afrikanerleierskap ruggraatloos geword het, en dis vandag steeds die geval! In die aangesig van ‘n naakte marxistiese aanslag op grondbesit in Suid-Afrika, poog Agri-SA byvoorbeeld angsvallig om die ANC daarvan te oortuig dat hy “grondhervorming” nog meer geesdriftig as die Zuma-bewind of selfs die SAKP of EFF steun! “Nee” bestaan eenvoudig nie in dié mense se woordeskat nie.

Dis ‘n logika van: “Solank daar nog iemand iewers oorbly wat ek kan verraai om my eie bas te (probeer) red, sal ek dit doen.” Hoe lank nog voordat mense besef dis ‘n vorm van uitgebreide, kollektiewe selfmoord, amper soos iemand wat sy ledemate een vir een afsny?

Wat ‘n mens ook al van Clive en Gaye Derby-Lewis, asook van die hele sage rondom Chris Hani mag dink (en dis baie ingewikkelder as wat algemeen aanvaar word), staan ‘n paar dinge vir my uit: Albei is intelligente, beskaafde, talentvolle politici wat ‘n baie hoë prys vir hul lojaliteit teenoor die Afrikanervolk betaal het. In die geval van mnr. Derby-Lewis, sou dit lewenslange tronkstraf, asook aanvalle in die gevangenis en onthouding van mediese behandeling behels. Blykbaar is Mandela maandeliks deur ‘n dokter ondersoek om te sorg dat hy blakend gesond in die tronk bly! In die geval van mev. Derby-Lewis, ‘n Australiër van geboorte maar wat die paspoort van haar vaderland laat vaar het om haar lot volledig by ons in te gooi en ook uitstekend Afrikaans praat, word sy al jare lank deur die owerheid geteister, by tye onregmatig gearresteer en deur George Bizos en ander belaster. Terwyl 61% van Afrikaners vir die DA, wat in wese ‘n Boerehaatparty is, stem, veg sy vrou-alleen voort om haar man vrygelaat te kry, maar ook teen die sogenaamde “grondhervorming”.

Lojaliteit en patriotisme soos dié van die Derby-Lewisse is onder Afrikaners yl gesaai. Miskien juis omdat hulle sulke atipiese Afrikaners is: mense wat nie maar net Afrikanernasionalisme in hul skoolhandboeke opgedoen het nie, maar wat ‘n bewuste keuse ten gunste van Afrikanerskap en Afrikanervryheid gemaak het.

Albei is reeds bejaard en ons eerste taak is nou om Clive uit die tronk te probeer kry, uit erkentlikheid vir sy jare lange pogings om die oënskynlik onvermydelike oorgawe aan kommunisme en radikalisme in Suid-Afrika te stuit. Hy is steeds ernstig siek en kan moontlik in aanhouding sterf! Die Waarheids- en versoeningskommissie het ‘n onreg gepleeg deur nie aan Clive Derby-Lewis en Janus Walusz, anders as byvoorbeeld die koelbloedige massamoordenaars van APLA wat die onskuldige St. James-kerkgangers tydens ‘n erediens afgemaai het, amnestie te verleen nie.

Ons kan vir Clive en sy vrou van baie dinge beskuldig, maar nie dat hulle ons verraai het nie! Onder Afrikanerleiers uit die onlangse verlede verteenwoordig dit iets van ‘n wonderwerk; juis dít maak hulle só spesiaal. Ná Verwoerd is hulle byna uniek in hul toewyding en lojaliteit aan die Afrikanersaak – terwyl die meeste ander politici omtrent by elke keerpunt teruggedeins het, self net om ‘n konsekwente standpunt te handhaaf!

In die moeilike tye wat vir ons voorlê, kan verraad en dislojaliteit nie meer geduld word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.