Pure gif teen wit boere met nuwe grondgrypvoorstelle

Deel op

plaasAgri-Noordwes en die Afrika-boerevereniging van Suid-Afrika het hulle stemme by ‘n aantal ander landbou-organisasies gevoeg teen die regering se jongste grondgrypvoorstelle.

Die betrokke dokument heet Final Policy Proposals for Strengthening the Relative Rights of People Working the Land, en fokus op die “uitbuiting” van swart arbeid.

Ingevolge die voorstelle kan plaaswerkers op kommersiële plase die helfte van die plase besit. Dit sal beteken dat die helfte van alle plase in die land verniet aan swart plaaswerkers gegee sal moet word.

Die staat het reeds wetgewing in plek om grond sonder vergoeding te onteien en eienaars sal waarskynlik geen vergoeding kan verwag nie, ook omdat die staat nie oor die fondse beskik om daarvoor te betaal nie.

Dié voorstelle sal uiteindelik die einde van wit grondbesit beteken en voedselvoorsieng ten nouste raak. Suid-Afrikaners kan dus uitsien na opstande, voedseltekorte en hongersnood.

Dit stel die volgehoue plaasaanvalle en -moorde deur georganiseerde bendes ook in ‘n nuwe lig, aangesien dit soortgelyke druk verteenwoordig om wit eienaars van hul grond te vervreem deurdat die owerhede afsydig teenoor die verskrikking bly.

Die woordvoerder van die departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Linda Page het die jongste voorstelle verdedig en gesê dit is belangrik dat mense besef dit is ‘n “konsep-voorstel” en dat “raadpleging” met alle rolspelers sal plaasvind.

Page sê daar is talle standpunte wat die grondgrypvoorstelle ondersteun sodat ‘n “konsensus” binne bereik is.

Die Suid-Afrikaanse regering het reeds 9,4 miljoen hektaar grond sedert 1994 as deel van sy grondhervormingsprogram aan swartes uitgedeel.

Bonnie Ramaila, ‘n woordvoerder vir die Departement van Prestasiemonitering en -evaluering in die presidensie, het bevestig dat die Departement van Prestasiemonitering se landelike vorderingsverslae toon dat baie meer grond uitgedeel is as wat die Departement van Landelike Ontwikkeling aandui.

President Jacob Zuma het in ‘n toespraak van die regering se prestasie na 20 jaar verklaar dat meer as 9 miljoen hektaar grond wel uitgedeel is.

In Zuma se staatsrede vroeër vanjaar het hy egter beweer dat 4,2 miljoen hektaar grond oorgedra is aan swart Suid-Afrikaners en ‘n bykomende 80.000 grondeise, wat sowat 3,4 miljoen hektaar grond beslaan, afgehandel is.

Dit is slegs tot ‘n totaal van 7,6 miljoen hektaar, minder as die werklike 9,4 miljoen hektaar. Dié syfer is deur die departement van Landelike Ontwikkeling aan die president voorgehou as korrek.

Ontleders sê dit behels ‘n verskil in oppervlakte van 1,8 miljoen hektaar – so groot soos die hele Gautengprovinsie – en word klaarblyklik doelbewus onderspeel om die emosies van swart kiesers op te jaag om die grondgrypvoorstelle te ondersteun.

Die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti , het syfers oor grondoordrag by ‘n vroeëre geleentheid ook verkeerd weergegee toe hy aan die parlement in Februarie verlede jaar vertel het dat slegs ‘n totaal van 5,5 miljoen hektaar oorhandig is.

Die departement van Landelike Ontwikkeling se syfers is duidelik verouderd en word nie deeglik byhgehou nie, want die 7,3 miljoen hektaar merk is reeds in September 2012 verbygesteek.

Byna al hierdie plase is ook reeds tot niet deur wanbestuur, diefstal en grootskaalse korrupsie.

Die departement se woordvoerder, Page, het geen idee wat die werklike oordragsyfers is nie en het by navraag prontuit gesê sy weet nie, en sy weier om kommentaar te lewer.

Sy sou die syfers intussen “verifieer”, maar is klaarblyklik steeds in die duister oor die mees basiese en noodsaaklike inligting betreffende die sogenaamde grondhervormingsprogram

Ten spyte van haar kommerwekkende onkunde het sy die jongste pogings om ‘n Zimbabwiese grondgryp in Suid-Afrika te herhaal, as ‘n regverdige proses aan die media probeer voorhou.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.