Die geheime oorlog teen geloof, deel 2

Deel op

religieDeur Joseph Secreve.

As ons ’n kykie neem in die wêreld van vandag is dit moeilik om te ontken dat belangrike konflikte langs die breuklyne van geloof plaasvind.

Die Moslembroederskap, Taliban en waarskynlik nog ’n rits ander ekstremiste is besig om die Midde-Ooste te destabiliseer, die moraliteit van die Christelike Weste het die laaste twintig jaar ernstig agteruitgegaan, die Jode word beskuldig van sameswering teen die Weste en die Ooste, en die Jesuïete word beskuldig dat hulle eintlik die boosdoeners is wat die Jode stilletjies inspan. Die Ismaelimoslemleier, die Aga Khan word beskuldig dat hy die werklike kwaadstoker in die Moslemwêreld is, en die Sabbateaanse Jode word beskuldig van die vyandige effekte van Sionisme.

Met ander woorde, globaal beskou is die wêreld ’n puinhoop wat sy geloofstelsels aanbetref.

Aangesien dit nou eenmaal menslike natuur is om chaotiese situasies te ontrafel om te sien of daar nie dalk ’n metode agter hierdie malligheid skuil nie, sal dit ’n goeie idee wees om dit nou toe te pas.

Ek gaan myself nou gevaarlik begewe binne die wêreld van komplotdenkers en kan daarom nie met sekerheid stel of ek werklik hieragter staan nie, maar die toeval waarmee sommige gebeurtenisse plaasvind maak dit die moeite werd om te bespreek.

’n Vooraanstaande negentiende eeuse Vrymesselaar en Jesuïet, ’n sekere Albert Pike, het volgens sommige bronne ’n brief geskryf na die Italiaanse rewolusionêr Giuseppe Mazzini. In hierdie brief, gedateer 15 Augustus 1871, het hy planne gesmee vir drie wêreldoorloë. Aldrie oorloë moes mekaar komplimenteer om saam ’n hoër doel te bereik.

Die Eerste Wêreldoorlog se doel sou wees om die tsaar in Rusland te vernietig, en daarmee gepaardgaande die Ortodokse Slawiese kerke af te breek. Kommunisme sou die nuwe ideologie word wat stadigaan buurlande sou insluk en sodoende onder beheer te kry.

Die Tweede Wêreldoorlog se doel sou wees om ’n Sionistiese aanwesigheid in die Midde-Ooste te skep. Daarmee gepaardgaande moes kommunisme sterk gemaak word om ’n bedugte teenstander te word van Christendom in die Weste. Sodra die tyd reg is, sou kommunisme in al sy volle kragte die Weste oorweldig. Dit mag ’n verklaring bied hoekom Truman en Churchill gehelp het om omliggende lande by die Sowjet Unie in te lyf.

Die Derde Wêreldoorlog se doel sou wees om Sionisme en Islam teen mekaar uit te speel. Dit is die bedoeling dat albei hierdie partye die stryd moet verloor om vir nog verdere verdeeldheid en verwarring te sorg by hul onderdane. Die uiteindelike wenner moet ateïsme en nihilisme wees. Hierdie stryd moet dus so lank moontlik uitgerek word sodat mense fisies, geestelik, spiritueel en ekonomies volledig uitgeput raak dat hulle hul geloof afsweer, en uit desperaatheid enige godsdiens sal aangryp wat “vrede” belowe.

As die toeval met die werklikheid vandag nie so opvallend was nie, sou dit nie die moeite gewees het om hierdie skrywe van Pike te noem nie. Origens word hierdie brief deur offisiële instansies ernstig in twyfel getrek en baie van hulle ontken dat daar ooit soiets geskryf was.

Die Islamitiese lande in die Ooste is nog uiters onstabiel, met eindelose aanslae wat verder help om mense te traumatiseer en wanhopig te maak, en daar het al gerugte rondgegaan dat ons hier met ’n voorloper van die Derde Wêreldoorlog te make het.

Die probleem is egter dat terwyl almal se aandag afgelei is deur die Midde-Ooste, het Rusland stilletjies opgang gemaak wat sy geloofsituasie aanbetref. Omdat die Russe steeds gelowiger begin word het na die val van kommunisme, kan ’n mens stel dat die doelstellings van die Eerste Wêreldoorlog eintlik besig is om ongedaan te raak.

Die ortodokse geloof het een van die vinnigste groeiende gelowe ter wêreld geword as gevolg van die Russe wat hierna teruggryp, en die belydenis hiervan het ondertussen ’n gevoelige snaar geraak by die Russe. Dit sien ons met die Pussy Riot-insident asook met die walgkunstenaar Marat Guelman wat in Krasnodar ’n stewige paar klappe van die bewoners moes trotseer en uit hul stad weggejaag was oor sy godslasterlike kitsch wat hy as kuns probeer verkwansel het. Om die waarheid te sê, sal dit my nie verbaas as die Russies-ortodokse patriargaat agter die skerms besig is om die verstrooide bloedlyne na te speur om te sien of hulle die tsareryk weer kan herstel nie.

Nou wonder ’n mens: Is hierdie “inval” van Rusland in die Krimgebied – wat eintlik hoegenaamd geen inval is nie – nie dalk ’n poging om Rusland te intimideer en op soortgelyke wyse te belaster soos wat ons tydens die apartheidjare meegemaak het nie? Eers was dit die missielafweer langs die Poolse grens, toe volg die Pussy Riot-sage, daarna die sogenaamde anti-gaywetgewing tydens die Olimpiese Winterspele, en nou met Obama wat dreigende taal jeens Rusland besig oor hul demokratiese referendum wat hulle gehou het terwyl hyself ’n onwettige marionetregering in Oekraïene bewerkstellig het.

Ons eie ervaring in Suid-Afrika het ons daarop gewys dat daar dikwels meerdere redes is om ’n sekere land te laat wankel, hetsy geostrategies, hetsy minerale of ideologiese belange. Suid-Afrika se mineraal- en kapitaalbelange was ’n belangrike rede gewees om die NP regering uit die saal te lig, maar tegelyk het dit ook ’n ideologiese doel gedien, naamlik om die Westers-gesinde kulture wêreldwyd te ondermyn ten gunste van die derde wêreld. Blykbaar het die kommuniste so lank gelede as 1953 planne beraam om van Mandela ’n afgod te maak; iets wat onder die ingewydes as “Plan M” bekendgestaan het.

Die geskiedkundige James Billington se boek Fire in the Minds of Men: Origins of the Revolutionary Faith, word allerweë beskou as een van die mees gedetailleerde werke wat nog ooit verskyn het oor proletariese rewolusies en geloof. Hierin beskryf hy onder andere hoedat die jong rewolusionêre hulself Promethiane genoem het, verwysend na die Griekse god Prometheus, wat vuur van die gode gesteel het om aan die mens te gee. Die Promethiane het hulself soortgelyk as gode gewaan wat oor die mensdom sou hoed, en interessant genoeg is die Prometheus standbeeld in New York se Rockefeller Plaza ’n huldeblyk aan hierdie vurige jong geeste – en nou weet ons sommer ook wie hulle gefinansier het.

Ons het gesien hoe die mitologiese Mandela wêreldwyd die groot Promethiaan geword het van ons tyd, met rockgroepe, strokiesboeke, en natuurlik Hollywoodfilms wat sy lewe besing, soortgelyk aan Sowjetlektuur en operas waarin Lenin en Marx as die groot bevryders opgehemel was. Die soortgelyke denkstrome is ’n goeie aanduiding dat dieselfde invloede heimlik werksaam is.

Dit is belangrik om die volgende te onthou: Iemand wat te streng gelowig opgevoed is het ’n ruggraat maar geen ledemate nie. Iemand wat te ongelowig opgevoed is het ledemate maar geen ruggraat nie. Die een is ’n hark en die ander ’n jellievis. Die beste kompromis sou wees om sowel ’n ruggraat as ledemate te ontwikkel om ’n gebalanseerde lewensvisie te ontwikkel. ’n Stewige ruggraat en stewige ledemate komplimenteer mekaar en is saam die beste manier om waaksaam te wees teen die subtiele kragte wat die mens wil verswelg. Ons noem dit wysheid.

Ons kan immers ’n belangrike les leer uit die mite van Prometheus. Hy was ook die god van ongewenste nagevolge gewees, en verklaar hoekom Mary Shelley se roman Frankenstein se subtitel die moderne Prometheus geheet het.

Net soos Frankenstein se monster baie sterk en slim maar tegelyk afskuwelik was, sien ons hierdie analoog in Suid-Afrika en ander Westerse lande wat nou ten onder gaan: Goeie wetgewings, ekonomie, demokrasie ensovoorts maar tegelykertyd vulgêr, lelik, karakterloos, identiteitloos en nihilisties tot die dood toe. Sonder ’n gesonde volksgees is hierdie eksterne stelsels gedoem om iewers in die toekoms te misluk.

Ons moet die kragte wat geloof wil wegvat nie geringskat nie. Dit is gevaarlik, dreigend, uitputtend en te primitief om die hele menslike belewenis sin en rigting te gee. Dit haal die slegste uit mense en reduseer hulle tot (kudde)diere.

Gelukkig is ons belangrikste volksbesit nie stoflik nie, maar immaterieel. Karakter, deug, versigtigheid en wilskrag is die bronne waarin ons heil lê. As ons hierin volhard is die stryd teen ons Promethiane al grotendeels gewen.

Soos Rusland vandag vir ons geleer het, kan hulle ons uiteindelik slegs oorwin as ons dit toelaat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.