Die foute van die verlede

Deel op

groottrekdeur Daniël Lotter, Wes-Kaapse leier, Front Nasionaal

Teen die najaar van 1841 is daar geen twyfel meer by die burgers van die Boererepubliek Natalia nie: Engeland is vasbeslote om die republiek te beset en daar sal nou besluit moet word hoe die Volksraad gaan maak. Dis ‘n bitter ding om te sien hoe verdeeld die trekkersvolk is. Hulle wat die Kolonie saam verlaat het, die Drakensberge oor is, deur die smart van Bloukrans se moordnag, die hel van Italeni en Modderlaer en Gatslaer, die ellende van die moord op Retief en die uiteindelike oorwinning van Bloedrivier, hulle het nou in hulle welvaart en voorspoed weer begin slap word. Elke man het twee of drie plase, die graanoes is goed, die grond vrugbaar en die handel met die buiteland deur Port Natal floreer. Ja, die Zoeloes val plase aan, maar die Zoeloekwessie word vinnig aangespreek: Zoeloes word in reservate geplaas of teruggestuur na Zoeloeland waar die koning met ‘n ysterhand regeer. En nou val Engeland se oog op die steenkoolneerslag by Newcastle. Die vryheid is in gedrang. Oorlewing as volk, is in gedrang.

Noudat die werklike bedreiging daar is, nou moet die volk saamstaan, en nou is hulle verdeeld.

‘n Hele klomp argumenteer: Ag nouja, Engelse bewind is dalk nie so sleg nie. Hulle belowe om ons regte te beskerm en as hulle nou se hulle gaan ons tweede en derde plase vat om Zoeloes te hervestig, dan sal hulle darem seker kompenseer. Kom ons los maar ter wille van vrede. Ons werk maar saam en bid vir die beste.
Daar is ‘n klomp wat summier se: Hierdie ding gaan nie werk nie, kom ons pak op en trek terug oor die berg na die Hoogland benoorde die Vaalrivier.

‘n Handjievol besluit om teenstand te bied en stuur Andries Pretorius na Congella waar die Britse leër kamp opgeslaan het met die opdrag: Verdedig, maar moenie eerste skiet nie. Hulle is te veel. Ons staan nie ‘n kans nie.Kyk of julle hulle nie kan oortuig om van plan te verander nie. Nouja, die klaaglike mislukking van Congella en die verlies van Natalia se vryheid is anderdag se storie.

Die laaste groepie se aandeel in die verhaal is wat my altyd interesseer. Want hierdie groepie glo verbete aan buitelandse ingryping. Juis in hierdie dae arriveer ‘n skip in Port Natal. Die kaptein van die skip is ene Reuss en ook aan boord daarvan is die heer Smellekamp van Amsterdam. Hierdie twee menere is baie simpatiek teenoor die boere se saak en kort voor lank loop die gerug soos ‘n veldbrand deur die land dat Smellekamp inderdaad ‘n afgesant is van die Koning in Den Haag en Reuss is ‘n Hollandse admiraal wat die mag van Brittanje moet bepaal! Nederland sal ingryp! Ons hoef nie bekommerd te wees nie, die buiteland sal ons help.

In die lig van hierdie desperate geloof besluit die Volksraad om nie te heftig teenstand te bied nie.

Eers toe dit te laat is besef die boere van Natalia dat hulle desperate hoop op buitelandse hulp ‘n stofwolk was. Reuss en Smellekamp het saamgepraat om produkte goedkoop in die hande te kry. Inderdaad is Reuss ‘n derderangse skeepskaptein in die Handelsvloot en Smellekamp ‘n Amsterdamse winkelklerk. Nederland sou tog nie die handel en die vrede met die magtige Engeland in gedrang bring ter wille van ‘n paar Boere in Natalia, wat in die oë van die wêreld renegate is wat die Zoeloe op elke hoek en draai te na kom nie. Wat kon Koning Willem daaruit baat?

En die Engelse goewerneur sit in Port Natal. Die vrye Republiek Natalia bestaan nie meer nie….

Hierdie merkwaardige ooreenkoms met die toestand van ons volk vandag, kan nie sommer net misgekyk word nie.

Daar is vandag ook die mense wat se: Kom ons gaan liewer saam met die stroom. Dalk gaan dit nie so erg nie. En as ons nou bietjie moet toegee, nouja, hulle sal darem seker nie alles afneem nie. Kom ons stem maar DA, dan vat ons maar die kans. Die geskiedenis van Natalia het bewys dat dit nie ‘n opsie was nie. Toe die Zoeloes eers toegelaat is om plase oor te neem en in massas tussen die Boere te vestig, was die moord en bloedvergieting iets vreesliks. Die wetgewing wat dit toegelaat het, was niks anders as die grondhervorminsgwet wat hedendaags deur die ANC en die DA voorgestaan word nie. Andries Pretorius se eie gesin is van hulle plaas verdryf deur die Zoeloe en sy vrou, Christina het kaalvoet oor die berg voor ‘n span osse gevlug met haar kind se lyk in die wakis!

Dié wat gese het pak op en trek, vir hulle was daar ook nie vrede nie. Nie ‘n halfeeu later nie, was hulle die slagoffers van die Anglo Boereoorlog. Ons kan nie almal buiteland toe padgee nie. Wat van ons ouers en familie en vriende wat nie kan saamgaan nie? Wat van ons erfreg? Wat van alles wat ons hier gebou het? Buiteland toe verhuis, is nie vir ons almal ‘n opsie nie. Inderdaad staan ons tog in niemand se pad wat dit wil doen nie, maar ons moet ook dink aan die wat nie kan nie.

Dan is daar diegene wat se: Maak beswaar, bied teenstand, maar moenie te veel geraas maak nie. Dit is die wat vandag se: Kom ons gaan saam met die beleid van die VF+. Maak beswaar teen alles, maar doen dit suutjies. Haas jou langsaam…Daardie benadering het by Congella gely tot ‘n nederlaag waar die besetter bo-oor die Boere gehardloop het en die meeste van hulle te voet en ongewapend tuis aangekom het. Gaan lees maar weer die geskiedenis van Dick King.

En nou: Die vaste geloof in die buiteland…ons het vandag vriende oorsee. Maar dis gewone mense of klein groeperinge. Die boodskap word doodgedruk. Ek het self in November van 2012 ‘n lang verslag gestuur aan die Ierse Minister van Buitelandse Sake oor die stand van plaasmoorde. Die Ierse Oireachtas (Parlement) in Dublin het ‘n verduideliking van die Suid-Afrikaanse ambassadeur gevra. Sy antwoord was te verwagte:

Hierdie Boere/Afrikaners sal enigiets aanvoer om apartheid te regverdig en hulle aandeel daaraan te ontken. Dis ‘n splintergroepie wat nie bereid is om verantwoordelikheid te neem vir hulle historiese aandeel en verpligting tot heropbou en ontwikkeling van die land nie. Die verre meerderheid van hulle ondersteun deur hulle stem die eenheidstaat en glo in die demokrasie van die nuwe Suid-Afrika.

Einde van die gesprek, want dis presies wat die wereld wil hoor. En ons kan nie die teendeel bewys nie, want ons verskaf aan die ANC die koeëls waarmee hulle ons skiet!

En solank as wat ons vir die DA stem en nie elke moontlike konstitusionele weg volg om ons selfbeskikking te bekom nie, is dit wat die buiteland gaan bly glo. Deur aanhoudend DA te stem, erken ons dat ons tevrede is daarmee om deel te wees van die eenheidstaat, dan kan ons nie voor die wereld gaan staan en sê: Ons het alles probeer, nou moet julle help! nie. Ons kan nie met die mond skreeu om selfbeskikking as ons met die vingers stem vir die eenheidstaat nie.

Ons volk staan nou in 2014 presies waar ons Natalse volksgenote in 1841/1842 gestaan het. Gaan ons uit hulle foute leer? Kom ons wees eerlik: Die enigste plan wat nie in daardie jaar op die tafel gelê is nie, is hierdie een: Goed, neem Natalia en gee vir die Zoeloes grond, maar gee vir ons proporsioneel wat ons toekom en laat ons in vrede. Die ander, wat nou weer ter tefale is, het toe nie gewerk nie. Waarom sou dit nou?

Vanjaar is hy op die tafel. Front Nasionaal het hom daar gesit.

Dit sou dom wees om dit nie te probeer uitvoer nie.

Sluit aan by Front Nasionaal, die politieke party wat vir Afrikanervryheid veg. Dis gratis!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.