Dan Roodt: Volksmoord en die tweede revolusie

Deel op

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Redelik onlangs was daar ‘n openbare debat in Suid-Afrika oor die ANC/SAKP se tweede revolusie. Binne die marxistiese doktrine, is daar altyd twee opeenvolgende revolusies, waarvan die tweede gewoonlik meer radikaal en bloedig as die eerste is.

Só was dit ook in Rusland waar daar in 1905 ‘n eerste revolusie plaasgevind het en daarna, in Oktober 1917, die tweede en kommunistiese revolusie. Tydens kommunistiese revolusies in die twintigste eeu, is 100 miljoen mense uitgemoor. Hierdie syfer is bereken deur ‘n groep Franse navorsers wat “Die swart boek van kommunisme” (Le livre noir du communisme – crimes, terreur, répression, Robet Laffont, 1997) gepubliseer het.

Vele van die kommunistiese volksmoorde was ook etnies van aard. In Kambodja is veral etniese Chinese deur die Khmer Rouge uitgemoor. In Rusland was dit Christelike Russe, aangesien die leiers van die Oktober-revolusie hoofsaaklik Jode was. (Lenin was geen Jood nie, maar sy vrou, Nadesjda Kroepskaja, was blykbaar Joods.) Solsjenitsin het beweer dat Jode onder Stalin vervolg is, maar dat hulle tydens die aanvanklike Bolsjewistiese oorname massamoorde op Russe gepleeg het of laat pleeg het. Jode was ook oorverteenwoordig in die gevreesde Tsjeka of geheime polisie.

Volgens een van die skrywers van Die swart boek van kommunisme, Stéphane Courtois, het die volgende getalle mense in kommunistiese lande gesterf:

USSR: 20 miljoen dood
China: 65 miljoen dood
Viëtnam: 1 miljoen dood
Noord-Korea: 2 miljoen dood
Kambodja: 2 miljoen dood
Oos-Europa: 1 miljoen dood
Latyns-Amerika: 150 000 dood
Afrika: 1,7 miljoen dood
Afghanistan: 1,5 miljoen dood

Die direkteur van Genocide Watch, dr. Gregory Stanton, het op besoek aan Suid-Afrika sy kommer uitgespreek oor die invloed van kommunisme, ‘n ideologie wat al so dikwels in verskeie lande tot volksmoord gelei het. Die huidige ambassadeur van die VSA by die Verenigde Nasies, Samantha Power, het self ‘n boek oor volksmoord geskryf: A problem from hell: America and the age of genocide (2002). In die hoofstuk oor Kambodja lees ons:

All told, in the three-and-a-half-year rule of the Khmer Rouge, some 2 million Cambodians out of a populace of 7 million were either executed or starved to death.”‘ National minorities were special targets of the regime. The Vietnamese minority was completely wiped out. Of the 500,000 Muslim Chain who lived in Cambodia before Pol Pot’s victory, some 200,000 survived. Of 60,000 Buddhist monks, all but a thousand perished.

Wat egter in Samantha Power se boek opval, is die gebrek aan enige daadwerklike optrede deur die VSA en die res van die internasionale gemeenskap terwyl die volksmoord in Kambodja plaasgevind het. Almal het verkies om te maak asof hulle dit nie raaksien nie. Selfs ná die volksmoord en toe ‘n nuwe regering in die land deur die Viëtnamese aan bewind gestel is, het Westerse diplomate en VN-amptenare verseg om die term “volksmoord” te gebruik vir die miljoene mense wat daar omgekom het.

‘n Afrikaanse roman deur P.J. Haasbroek, Die jaar nul, het die toestand in Kambodja tydens die Rooi Khmer-revolusie baie goed uitgebeeld. Dikwels is fiksie ‘n beter manier om gebeure in die werklikheid of selfs vrae oor die werklikheid aan te bied as koue, joernalistieke feite. Omdat dit ook tot ons emosie en estetiese gevoel spreek, plaas dit die leser binne ‘n situasie terwyl die lesers andersins die blote inligting binne ‘n oordadige stroom kommunikasie sou konsumeer.

Ook toe die Hoetoe’s die Toetsi’s in Rwanda op ‘n massaskaal uitgewis het deur hulle met pangas dood te kap, het die VSA met sy magtige weermag met gevoude arms gestaan en toekyk.

Gustav Venter se romans wat oor die afgelope jaar of wat tot stand gekom het, eers Die amigdala van Alrina Smal en toe sy Bodem-reeks, praat op ‘n gefiksionaliseerde manier oor ongemaklike aspekte van die Suid-Afrikaanse werklikheid: rassegevoelens, rassekonflik, geweld en volksmoord. Ek glo sterk daaraan dat die mens nie net rasioneel is nie; dinge soos intuïsie, groepsbewussyn (Jung se kollektiewe onderbewuste) en -vrese speel beslis ook ‘n rol. So word die tydsgees gevorm, deur rasionele ontledings, maar ook deur vae vrese en voorspooksels wat onnoembaar mag wees, maar daarom nie minder ter sake nie.

Gegewe die geskiedenis van kommunisme met sy vele vele volksmoorde en totalitêre bewinde in die twintigste eeu, is dit net redelik om vrees vir kommunisme te koester. Of ten minste daarvoor versigtig te wees. Want die kommunistiese ideaal van absolute gelykheid kan net met grootskaalse ontwrigting en massamoord tot stand kom.

Niemand kan die punt voorspel waar geweldsmisdaad, plaasmoorde – gepaardgaande met konstante onluste soos ons tans in Suid-Afrika ervaar – eenvoudig omkantel in volskaalse volksmoord nie. Die inploffing van die samelewing soos dit in Bodem I en II beskryf word, met die verval in ‘n apokalips soos dié van Kambodja of Rwanda, is egter in ons land móóntlik. En dit op sigself is ‘n skrikwekkende gedagte wat ons aan die dink behoort te sit.

Soos ek ook vandeesweek in die Business Day geskryf het in ‘n brief wat op die Engelse praag te lese is:

Despite segregation, there was no hatred in the old South Africa and people generally got on well. Today, there exists real hatred between groups, as exemplified by xenophobic violence and farm murders. South Africa ’s sadistic culture of violence with its rampant crime, including child rape, was fostered by the lawlessness of people’s war and surely not by apartheid.

Die skokkende sadisme van plaasmoorde kan net deur etniese vyandigheid en rassehaat verklaar word. Apologete vir die revolusie soos Steven Friedman, waarop ek in dié Engelse stuk geantwoord het, probeer “apartheid” daarvoor blameer. Volgens hom is die land en veral sy mense deur apartheid “beskadig”. Maar met dieselfde logika, hoeveel te meer is Suid-Afrika nie oor die afgelope 20 jaar “beskadig” deur die ongekende geweld, marteling, diefstal, roof, korrupsie en algemene waardekrisis en -verval nie?

In Suid-Afrika bestaan daar die gevaar dat kommunistiese volksmoord deur die appèl op “apartheidskade” geregverdig kan word! Indien Suid-Afrikaanse kommuniste, soos hul eweknieë in soveel ander lande, in elk geval van plan is om etniese suiwering en volksmoord teen Afrikaners van stapel te stuur, bied hul noukeurige apartheidskonstruk mos die ideale regverdiging daarvoor, nie waar nie? Feitlik die hele amptelike, eensydige “geskiedenis van apartheid” soos dit tans daar uitsien, is deur lede van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en die akademiese historici in hul dampkring opgestel.

Die vraag is nou nie meer óf daar ‘n tweede revolusie gaan plaasvind nie, maar wanneer. Selfs die linksliberale koerante in die Naspersgroep wat tot dusver die rol gespeel het om vir Afrikaners ‘n idille van die “Suid-Afrikaanse demokrasie” te skep, begin hul tans oor die radikale planne vir grondgryp uitspreek.

Meer as tien jaar gelede het ek in my destydse Rapportrubriek geskryf dat Suid-Afrika op ‘n Zimbabwe afstuur. Toe was Tim du Plessis, die destydse redakteur, maar baie skepties en dis in Naspersgeledere afgelag. Die gemiddelde Naspersredakteur se kennis van die SAKP en die marxisme, dus van die revolusionêre logika wat by ons werksaam is, is uiters beperk. Marx en Engels het gepraat van die politieke revolusie wat deur ‘n maatskaplike revolusie gevolg word. By ons is dit effens aangepas en die eerste revolusie was insgelyks ‘n politieke revolusie, die oorname van die staat deur die ANC en SAKP, met die tweede, ekonomiese revolusie wat voor die deur lê.

Vandag skryf die einste Rapport egter in ‘n voorbladartikel die volgende:

“Nuwe voorstelle vir grondhervorming – waarvolgens alle kommersiële boere gedwing gaan word om die helfte van hul plase aan hul plaaswerkers te gee – sal landbou in Suid-Afrika vernietig en moontlik tot hongersnood lei, sê kritici van dié plan.

Dié radikale nuwe voorstelle is vervat in ’n dokument getiteld “Finale beleidsvoorstelle vir die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” wat die afgelope week in Rapport se besit gekom het.”

Die kombinasie van ‘n tweede revolusie, grondgryp, die voorspelde hongersnood en rassehaat weens twintig jaar se apartheidspropaganda wat deur die SAUK en ander massamedia uitgesaai is, mag tot ‘n apokalips van die Bodem-tipe lei.

Ons sal moet besef dat geen ander moondheid of internasionale instelling hom hoegenaamd aan ‘n Bodemtoestand, dus groter wanorde en geweld, selfs massamoorde en volksmoord in Suid-Afrika, gaan steur nie. Dit mag nie eens mediadekking verkry nie, behalwe om te sê dat “dit ons eie skuld is vanweë apartheid of omdat ons nie gou genoeg van ons huise, plase en ander besittings afstand gedoen het nie”.

Intussen tik die tydbom van die revolusie rustig voort.

Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.