Zuma verbreek stilswye oor Nkandla

Deel op

nkandla-residencePresident Jacob Zuma het uiteindelik sy stilswye oor die Nkandla-verslag verbreek nadat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela bevind het dat hy onregverdig daardeur bevoordeel is

Die OB het verklaar dat Zuma ‘n billike bedrag uit sy eie sak moet terugbetaal vir die opgraderinge.

Die president het gesê hy het nooit die multi-miljoen randse verbeteringe aan sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal versoek nie.

 Zuma het in sy eerste openbare reaksie op die verslag, sy regeringsamptenare vir die besluit verantwoordelik gehou.

Die president het tydens ‘n verkiesingsveldtog in Gugulethu op die Kaapse Vlakte gevra waarom hy moet betaal vir iets waarvoor hy nie gevra het nie.

‘n Plaaslike nuuskanaal het oor die president se reaksie berig.

Hy het ook gesê die rasse-en armoedeverdeling tussen wit en swart in die Kaapse Skiereiland bly steeds ‘n probleem.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het na ‘n vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) in Kaapstad ‘n verklaring uitgereik, in wat beskou word as ‘n beskermingsring om die president.

Mantashe het Zuma verdedig oor die bevinding van die OB, dat Zuma onregverdig voordeel getrek het uit van die veiligheidsopgraderings aan sy privaatwoning.

Hy het gesê diegene wat werklik daaraan skuldig is dat hulle te hoë pryse gevra het, sal deur die Spesiale Ondersoek-eenheid ontbloot word.

Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega moes haarself opnuut verdedig teen beskuldigings dat sy die parlement mislei het oor die opgraderinge.

Sy het die ANC in die verleentheid gestel omdat sy in die regering se Nkandla-verslag aan die Nasionale Uitvoerende Komitee gesê het die swembad by President Jacob Zuma se woning is vir brandblussingsdoeleindes.

Phiyega sê sy is onskuldig.

Die ANC sal intussen vanmiddag ‘n mediakonferensie hou oor die afgelope naweek se nasionale uitvoerende komitee-vergadering in Kaapstad.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.