China vertel Merkel dat Krim hulle nie raak nie

Deel op
Rasmussen, Merkel, Obama
Rasmussen, Merkel, Obama

Met Duitsland as ‘n belangrike handelsvennoot van China, het samesprekings tans tussen Merkel en die Chinese president Xi rondom ekonomiese kwessies gehandel.

China het tydens die mediakonferensie herhaal dat hulle neutraal staan teenoor die kwessie in die Krim en dat dit hulle nie raak nie.

China oorweeg egter tans ‘n plan om die hele wêreld met ‘n netwerk van toesigsatelliete te dek.

Meer as 50 waarnemingsatelliete kan binne twee jaar in ‘n wentelbaan om die aarde wees, het die South China Morning Post berig. Dit sal die land se satelliettoesigvermoëns op ‘n gelyke voet, of groter as die van VSA plaas.

China sê die VSA se onvermoë om uitsluitsel te gee oor die verdwyning van die Maleisiese vlug MH370, noodsaak dié stap.

Tydens die Sino-Germaanse gesprekke het Duitse motorvervaardiger Daimler verklaar dat hulle onder meer die produksie van sy gesamentlike onderneming met Beijing Automotive Group sal uitbrei.

Dit is die tweede ooreenkoms van sy soort, in navolging van Daimler se mededinger BMW en sy Chinese vennoot.

Vrydag, het die Bundesbank en die Volksbank van China ingestem om ‘n verklaring van voorneme uit te reik om ‘n yuan-betalingsnodus in Frankfurt tot stand te bring.

Dit was Xi se eerste Europese besoek as president en het swaar gefokus op buitelandse beleggings.

In Frankryk, het hy met die Europese lugvaartreus Airbus ‘n kontrak ter waarde van 10 miljard euro gesluit.

Xi se beplande besoek aan Brussel is ook gesien as ‘n skuif om ekonomiese bande met die EU te versterk.

Duitsland se minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, het intussen gesê Duitse militêre steun aan oos-Europese lede van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie of NAVO moet nie tot ‘n eskalasie lei nie.

Duitsland het in reaksie op die Krim-skiereiland se referendum gesê hulle sal AWACS-ondersteuning in Pole en Roemenië verskaf asook opleidingsvlugte in die Baltiese state.

Volgens die koerant, Der Spiegel, wil Berlyn ‘n meer “aktiewe” internasionale rol speel aangesien Duitsland se internasionale politieke invloed nie ooreenstem met hul handelsinvloed nie.

Volgens Der Spiegel is die ministerie van verdediging gereed om die getal vliegtuie te verdubbel vir versterkte lugpatrollies in dele van Oos-Europa. Frankryk en Denemarke sal ook deelneem.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het sy Russiese ampsgenoot, Sergei Lafrof, vir krisissamesprekings oor die Oekraïne in Parys ontmoet.

Lafrof het gesê die Oekraïne behoort ‘n nuwe grondwet op te stel wat minderheidsgroepe wat pro-Russies is, sal beskerm. Rusland wil hê dat die VSA sy imperialistiese militêre opbou in Oos-Europa en die Oekraïne moet staak.

Die vier-ure-lange samesprekings volg op telefoongesprekke tussen president Barack Obama van Amerika en Vladimir Poetin van Rusland.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.