Grondhervorming lei tot ontnugtering en uiteindelike selfvernietiging

Deel op

Kom ons vergeet die window dressing, toneelspelery, opgesmuktheid, politieke retoriek, woordgimnastiek, intellektuele ego-orgies, talkshops, geldmaak-konsultasies, die sogenaamde regsgeleerde menings, die sensasionele vergrype van die media, plastiek politieke korrektheid en die gewetenspropaganda.

Kortom – kom ons hou op lieg vir mekaar!

Deel op
Kom ons kom by die pit van die perske uit – die waarheid. Geen illusies, relativering en persepsies van persepsies nie.

Die volgende bewerings word gemaak: grond is geld; grond word gelykgestel aan armoedeverligting; grond moet uitgedeel word aan die massas ter wille van die oorlewing van “the people"; en die toekenning van grond word ’n morele saak – dis die regte ding om te doen!

Net voor ek verder gaan: as jy voortdurend in jou lewe die waarheid ontduik, die waarheid vrees en nie die waarheid in die oë kan kyk nie, altyd probeer om die populêre standpunt te steun en “in” te wees met die groep, moenie verder lees nie.

Ongeveer 4 jaar gelede in Zambië praat ek met ’n swartman wat redelik geletterd en ingelig is. My vraag aan hom – omgesit in Afrikaans:

"Ek hoor die mense in Zimbabwe praat van grond vat by die wit boere en dat hulle dan beter gaan leef… dis blykbaar die regte ding om te doen?

Ja, ek hoor die ding!

Is jy ’n man van Zambië?

Ja!

Hoe lyk die lewe dié kant , hier in Zambië?

Die lewe is baie swaar dié kant.

Hoe so?

Hier’s nie werk nie.

Nie werk nie, nou hoe dan? Hoekom is hier nie werk nie?

Hier is nie wit boere nie!"

Ek val amper om, maar slaag tog daarin om my ewewig te herwin… Ek buk, vat ’n handvol grond en laat dit tussen my vingers deurloop.

“Die ding van grond­ – dis mos grond hierdie?

 Ja, dis grond!

 So julle het grond?

 Ja, ons het grond.

 Julle het gras?

 Ja!

 Bome?

 Ja!

 Reën?

 Ja!

 Die son – hy skyn ook hier?

 Ja!

 Die wind – hy waai hy ook hierdie kant?

 Ja – hy waai!

 Maar julle het dan dieselfde hulpbronne as wat ons in Suid-Afrika het?

 Ja – dis waar… ons het dieselfde.

 Nou wat is dit dan wat Zambië nie het nie?

 Hoekom is daar soveel werk en kos en geld in Suid Afrika – wat kom kort hier in Zambië?

 Die boere, meneer. Dis die boere wat werk skep… wat die verskil maak."

 “Ek sien in Mosambiek is duisende werkgeleenthede geskep kort ná die wit boere van

 Zimbabwe na Mosambiek getrek het.

 Ja – ek hoor die ding.

 Beteken grond dan geld?

 Nee, meneer, grond beteken nie geld nie – werk bring geld!

 Hoekom is daar dan nou skielik werk in Mosambiek waar eers niks was nie – net bos?

 Dis die boere, meneer. Waar die boer gaan – gaan die werk saam!

 Is jy gelukkig met jou omstandighede?

 Nee!

 Wat soek jy in die lewe?

 Ek soek werk en geld en kos vir my vrou en kinders… opvoeding vir my kinders…

 Maar wat van die politiek… jy kan mos stem?

 Meneer, politiek maak ons arm – laat ons swaarkry!"

Ek skud sy hand, groet en ry weg – die vlaktes in, terwyl ek na die ongerepte aarde rondom my kyk. Ek sien nêrens geld nie… net tiene van duisende hektaar onbenutte grond?

Sy laaste woorde aan my… “meneer, kom maak besigheid hierso, kom skep werk, ons gee vir jou grond, jy hoef nie te koop nie. Ons kinders is honger – asseblief, kom help ons!"

In my kop maal talle vrae en feite oor Afrika en die status quo op die kontinent wat kosvoorsiening, kosproduksie en politieke stabiliteit betref.

Harde werk, pligsbesef, vasbyt, kennis, selfrespek, selfdissipline – het Afrika dit?

 Ek hoor weer die retoriek… uitdrukkings wat reeds ‘n irriterende vlak van herhaling bereik het… “We need land – land for the people to be prosperous. For the poorest of the poor…” Voor my doem skadu’s van Afrika op. Ek worstel en soek na “prosperity” in Afrika, waar miljoene hektaar onbenutte grond lê.

Wat sien ek? Mosambiek se emigrerende honger massas; Zimbabwe se ontwrigte honger massas; Uganda se vlugtende honger massas; Angola se kreperende honger massas; die Kongo se vegtende honger massas; die Sudan se sterwende honger massas; Ethiopië se pleitende honger massas…Reuse-armoede en -ellende in Afrika-state… in lande waar grond geen kwessie is nie?

Logiese gevolgtrekking: Grond per se het niks, maar niks, met jou persoonlike welstand te make nie. M.a.w. “grond”op sigself maak nie arm of ryk nie.

Hoe is dit dan dat letterlik miljoene van die mense wat na dié land toe hardloop, juis weghardloop van lande waar grond geen kwessie is nie, waar grond in oorvloed is? Hulle wil nie op die vlaktes bly om te “boer” nie, maar bondel eerder saam in die krotbuurte van hul stede, of ons stede in Suid-Afrika!

Waarom het 10 000 arbeiders nou skielik werk in Mosambiek op die blom-, groente- en tabakplase van die Zim- boere? En dit op onbesette en onbewerkte grond waartoe die plaaslike mense wel toegang gehad het, maar waarop niks aangegaan het nie, geen sinvolle ontwikkeling van enige aard plaasgevind het nie… jare lank net gelê het. Grond wat deur die Mosambiekse regering gegee is vir die vlugtende wit boere van Zimbabwe – honderdduisende hektaar wat nog steeds daar lê – braak…onbenut!?

Maar, die sogenaamde “armoede” in die grondryke Mosambiek en Zimbabwe dryf hul mense uit na Suid-Afrika, waar die wit boer sy rug breek, kos produseer, ’n bestaan prober maak op marginale grond, met nie net die natuur en misdaad teen hom nie, nee… selfs die staat is teen hom. Dink byvoorbeeld arbeidswetgewing, geen subsidies, waterwetgewing, grondbelasting, misdaad, ens.

As grond dan geld en die alfa en omega is – die sleutel tot armoedeverligting – en politieke stabiliteit beteken, waarom verlaat desperate swart massas hul geboortelande waar miljoene hektaar grond braak en on-ontwikkel lê, en vlug letterlik in hul tienduisende weg van die land waar hulle grondbesitters is, na dié sogenaamde verdrukkende en geknelde apartheidsland waar die wit boer beskawing gekap het uit bar Afrika – waar juis nie grond is nie, waar enorme druk op grond is?

Die politiek gefabriseerde persepsie is mos: grond is geld; grond verlig armoede en maak ryk; grond bewerkstellig politieke stabiliteit en geweldloosheid; grond is ‘n onvervreembare erfreg wat jy nie minag en eenkant laat verwildernis nie; grond maak gelukkig en kalmeer politieke aggressiwiteit. (Dié persepsies word mos voortdurend as voertuig gebruik om sekere politieke doelwitte te bereik.)

Weereens, waarom verlaat jy dan die gunstige klimaat wat grond by implikasie bewerkstellig en wat grens aan die “paradyslike” met al die groot potensiaal, en vlug letterlik van jou “erfgrond” af na ‘n plek waar jy as vlugteling in terme van wetgewing geen reg het om grond te besit, te bekom of om te stem nie, ens… en meesal nie eens belangstel om enigsins op grond ( plaasgrond ) te werk nie?

Dis duidelik dat die aanname dus gemaak kan word op grond van bogenoemde feite en gebaseer op omstandigheidsgetuienis elders in Afrika dat grond opsigself: nie armoede verlig nie; nie outomaties rykdom beteken nie;

nie hongersnood voorkom nie; nie politieke stabiliteit bewerkstellig nie; nie werk skep nie; nie ‘n basis skep vir beskaafde leefstyle nie, nie werklik die status het wat daaraan toegedig word deur die liberaliste, die oorsese konsultante met verskuilde agendas en die regering nie.

Ál hierdie dinge is wel moontlik, maar word verkry deur: KENNIS, DISSIPLINE, RESPEK, HARDE WERK, ‘n KOMPETERENDE GEAARDHEID, ETIKET, DRYFKRAG, WERKSTROTS, DOELWITGEDREWENHEID EN PRODUKSIEGERIGTHEID.

Maghebsug, korrupsie en sogenaamde gelyke beregting knak enige land.

Om Nietzsche aan te haal: “Wrong never lies in unequal rights, it lies in the pretention of equal rights.”

In die natuur soos deur God geskep, sien ek nêrens gelykheid onder lewende organismes nie.

Nie een land of regering het dit nie en sal dit ook hê nie… dis nie ‘n bereikbare ideaal nie.

Dis net ‘n voertuig of instrument vir regerings van die wêreld om die massas verder vir die bereiking van politieke doelwitte te manipuleer.

Net voor jy met die “window dressing “en plastiek politieke argumente begin: Sowat 15 miljoen verbode immigrante hoort nie in dié land nie. Miljoene inwoners van Zimbabwe, Mosambiek en ander state belas dié “geknelde land “ op vele terreine.

Die werkloosheid, armoede, misdaad en sogenaamde "grondhonger” vererger omdat hier te veel mense is wat nie hier hoort nie. Verbode immigrante parasiteer op die land en sy natuurlike hulpbronne (geweldsmisdade is ook ‘n direkte uitvloeisel van dié byna onbeheerde instroming) en maak selfs ook aanspraak op behuising. Hulle oefen uiteraard ook druk uit op die grondkwessie ter tafel en op munisipale begrotings – belastinggeld wat weer van wie verhaal word?

Bestaande landbougrond in swart besit is grootliks onproduktief. Dis ‘n oorbekende feit.

Wat gaan in die tradisionele tuislande aan? Waarom verlaat derduisende hul grond en drom saam in die groot stede?

Waarom is duisende hektaar stamgrond grootliks onproduktief, onderbenut en/of verniel deur onbeheerde gronderosie en ander wanpraktyke m.b.t. boerdery?

Is dit dalk omdat boerdery nie werklik so aantreklik, maklik of ekonomies is nie? Of vereis boerdery dalk te veel in die vorm van harde werk, toewyding, uithouvermoë, kennis, ‘n werklike liefde vir grond, ‘n aanvoeling vir boerdery en alles wat daarmee saamgaan?

Daar’s talle voorbeelde van die totale ineenstorting van eens pragplase wat ekonomies hul bestaan geregverdig het, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Namibië, Zimbabwe, Mosambiek, Zambië, ens.

Ek was persoonlik en fisiek op talle van hulle.

Werk op dié eens ekonomies suksesvolle projekte en pragplase is voorheen verskaf aan honderdduisende van “the people… the poorest of the poor” oral in Afrika voor die wit boer uitgedryf is uit vele Afrika-state. Ons ken die geskiedenis.

Tans heers armoede, wetteloosheid, honger en politieke chaos in daardie state en streke. As jy die wit boer land-uit jag, jaag jy armoede, honger, wetteloosheid en chaos die land-in. Probeer dit nog ‘n laaste keer – hier in Suid-Afrika.

Waarom altyd weghardloop as die harde werklikheid m.b.t. Afrika bespreek word? Waarom altyd die skuldgevoelens? Waarom altyd vreesbevange en huiwerig om die feite te noem?

Sommige wit boere in Zimbabwe huur hul eie grond terug van die sogenaamde “war veterans”af wat die eens spogplase – nou afgebreekte plase – verlaat het en teruggetrek het stad toe, soos jare gelede ook die geval was in die Trichardsdal-distrik naby Tzaneen.

Ontnugterd omdat boerdery, geldmaak en sukses harde werk vereis.

Dinge gaan hand-uit ruk omdat die insypeling uit ons buurlande eerder aangemoedig as bestuur word in belang van “the people” van Suid-Afrika.

Grond in Suid-Afrika is dieselfde as grond in die res van Afrika – net so bruikbaar, of onbruikbaar!

Onthou, daar is wel grond, gras, bome, wind, son en reën in die res van Afrika. Die res van Afrika bestaan nie net uit een groot klipbank nie – en dis ook nie waar dat die een droogte op die ander noord van Suid-Afrika se grense heers nie, al wil sommige dit aanvoer as rede vir al die mislukkings wat kosproduksie, werkloosheid en onstabiliteit betref!

Maar, helaas, dis nie die byl nie – dis die man wat die byl swaai wat die verskil maak!

Die situasie in Afrika se state noord van ons wat die wit boer uitgedryf het, het gewys wet en orde en struktuur stort daarna mettertyd in duie, en dan volg armoede. Dis geen geheim nie.

Die onoordeelkundige uitdeel van grond en die onbetwiste gevolge daarvan, gaan hierdie regering ook uiteindelik tipeer as ’n voortsetting van die rits mislukkings wat Afrika voortge- bring het.

Dit gaan weer in ’n bespotting ontaard: selfvernietiging, uiterste armoede wat juis “the people” gaan raak, mislukking en murasies.

Net die politici word positief geraak deur die grondkwessie-ideologie – sien Zimbabwe. Zimbabwe jaag die wit boer uit sy land. Van die boere word gewerf deur Zambië. Nou voer Zambië die eerste keer mielies uit en verkoop aan die roggelende Zimbabwe dieselfde mielies wat deur die 250 verjaagde Zim-boere geproduseer is.

Dis ‘n sirkus – amusant, om die minste te sê…

Die pers, by monde van verskeie ingeligte persone uit swart geledere, het onlangs berig dat die kultuur van die “Bantoestamme “in Afrika deur die eeue nie voorsiening gemaak het vir landbouers nie, maar dat die mense net bestaansboere was en dus nie kommersieel “dink” wat betref landbou nie.

Prominente swart politieke leiersfigure verklaar in die pers die swartman wil nie en kan nie boer nie.

Bestaansboerdery word oral in Afrika bedryf en is oorbekend aan diegene wat in Afrika reis. Ongelukkig is die tyd aan die verbygaan dat bestaansboerdery versoenbaar is met ekonomiese vooruitgang, werkverskaffing en grootskaalse kosproduksie aan die massas.

Die vraag duik op – gaan Suid Afrika dieselfde pad volg as die res van Afrika? Vir enige ingeligte persoon is dit geen nuus dat die grondkwessie as ‘n politieke instrument gebruik word in verskeie state noord van ons nie. Ook hier by ons is ‘n radikale faksie wat dié “perd” bloots ry.

Wie en wat dryf dié faksie? En wat is die doelwit?

’n Baie bekende en gewilde Amerikaanse sielkundige wat gereeld op TV is, maak ’n uitlating wat kommerwekkend is:   “Past behaviour determines future behaviour." Mens hoop nie dis van toepassing op Suid-Afrika en sy huidige politieke beleid nie, want skynbaar steek daar waarheid in… as ek noord kyk.

My boodskap aan die regering en ander is: word wakker, oordeel nugter en realisties; weerhou jou daarvan om weg te skram van die waarheid. Bestuur die grondkwessie sinvol en intelligent. Maar as jy die tipiese Afrika-mentaliteit gaan deel maak van die bestuursproses, sal dié soort bestuurstyl ook die tipiese Afrika-resultaat oplewer – mislukking, murasies, geweld en die ineenstorting van die sosiale orde en infrastruktuur.

Kyk noord en oordeel self of ek lieg, en of dit die politici, konsultante en die misbruikte of gebruikte pers is wat lieg.

‘n Belangrike opmerking: onbetwiste finansiële voordele vir die sterk ekonomiese lande in die Weste lê gesetel in die verarming van Afrika.

Die strategie: Adviseer die swart regerings oor “gelykheid” m.b.t. sekere dinge soos landbougrond en eiendomsreg. Vervreem dan die grond van die suksesvolle wit boer. Die gevolg is dat die arm, honger, werklose swartman wat homself nie kan help met kosproduksie nie, gevoer moet word deur sy regering met kos-invoer uit die groot lande waarvoor ten duurste betaal moet word. Iemand maak groot geld!

Grondstowwe betaal daarvoor en voortspruitend daaruit sekere besigheidstransaksies en “joint ventures “wat plaasvind tussen sekere prominente regeringsamptenare en vriende, (gelykes m.a.w.) van die onderskeie lande. Net mense (gelykes) wat in bevoorregte posisies is om sulke transaksies aan te gaan, kan uiteraard betrokke raak. Onthou jy die aanhaling “wrong never lies in unequal rights, but lies in the pretention of equal rights”?

 “Voedsel vir die armes-programme” volg, wat die een ná die ander misluk in Afrika omdat die regeringsamptenare en ander gelyke vriende wat effens meer gelyk is as die ander gelykes, net vir eie gewin dié kos versprei en verkoop soos dit hulle pas.

Dit is ‘n spiraal dié wat uiteindelik maar weer net destruktief inwerk op Afrika. Maak bedelare van die naïewe mense van Afrika, wat dan uiteindelik maar weer bakhand moet staan en vir ander witmanne van ander lande uit die Europas en Amerikas vra om pap in sy bord te kry…

Abraham Lincoln het eenkeer gesê:

“He reminds me of the man who murdered both his parents, and then, when sentenced was about to be pronounced, pleaded for mercy on the grounds that he was an orphan.”

So tipies van die situasie in Afrika… wanneer die betrokke land (soos Zimbabwe) in duie stort, dan wil die mense weet maar waarom die allerverskriklikste lyding hulle en hulle families tref, en waarom die ekonomie knak, en waarom die lewe hel geword het in hulle verarmde gemeenskappe… en dit nadat dieselfde lotsbeklaers hulle dan beywer het vir die dinge deur saam te gaan met hulle regering se selfvernietigende beleidsrigtings en strategieë om bv. die landbou dood te druk…boere land-uit te jaag, die gans wat die goue eiers lê se lewe uit hom uit te wurg…

Nie lank hierna, sleep die burgers hulleself met moeite oor die stowwerige strate en leë markpleine van ‘n flenter ekonomie, ‘n stukkende land…

Selfvernietiging volg op die uitdeel van waardevolle landbougrond aan onbevoegde mense wat nie die vermoë, ambisie of werklike drang het – om watter rede ook al – ‘n suksesvolle boer/voedselprodusent/of werkverskaffer in die landbousektor te wees nie.

Verander die negatiewe propaganda. Kry ‘n ander voertuig vir politieke oorlewing, en leef.

spravka Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.