Genoeg geNkandla, asseblief!

Genoeg geNkandla

Deur Riana Theron.

Die onophoudelike nuus oor Nkandla wat alle wittes op hol het, is werklik baie vreemd. Die swartes stel hoegenaamd nie belang in Nkandla nie.

Dis nou dieselfde wittes wat geen toegang tot enige staatsgeld of -dienste het nie op die grond van hul taal.

Want velkleur is dalk nie so belangrik nie. Daar sit baie wit Engelse in die ANC wat geen probleme ondervind nie. Dis net as jy Afrikaans praat wat dit skielik begin sukkel om enige staatsondersteuning te kry. Vra maar vir die studente, siekes, bejaardes en weeskinders wat swaar gebuk gaan onder diskriminasie.

Maar Afrikaners kerm saam oor Nkandla asof daar nie baie groter probleme is wat hulle direk raak nie.

Ek wonder nou: As daar nie ‘n Nkandla was nie, sou julle dan enigsins beter daaraan toe gewees het? Sou Afrikaners dan toegang gehad tot dié fondse waaraan hulle so swaar help betaal?

Duidelik nie, want hierdie anti-Afrikaner-gees was nog meer vaardig onder Mbeki. Zuma het darem nog ‘n mak Afrikaner by die trog aangestel in die vorm van die Mulderfamiliebedryf se hooftrogvreter, Pieter, maar dis net hulle familie wat voordeel trek.

Ek wonder hoe heet die Mulders se eie Nkandla en hoekom lees ons nie daarvan in Naarpers nie?

Pieter sorg saam met die ANC dat ander Afrikaners nie eers hul eie skole mag hê nie, laat staan nog universiteite, hospitale, kinderhuise en ouetehuise. Almal moet mos Orania toe trek waar die Mulders alles besit en aan jou sal verkoop.

Die DA het die Speaker van die Nasionale Vergadering, Max Sisulu in ‘n blik gedruk om die mosie van ‘n staat van beskuldiging teen president Jacob Zuma te oorweeg oor Nkandla en natuurlik blêr die Mulders saam.

Hulle pleit vir die totstandkoming van ‘n ad hockomitee en die instel van prosedures om Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas nadat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor die opgradering aan die president se privaatwoning Nkandla uitgereik is.

Die hele Nkandla-storie is blote verkiesingspookasem want dis kleingeld. Dis nie eers soveel soos een klein staatstender nie!

Miljarde verdwyn in die sakke van neo-koloniale spelers wat Suid-Afrika as die nuwe Eldorado ontdek het en daaroor sal nòg die DA, nòg die VF se trogvarke kla.

Sisulu sê Madonsela het haar verslag aan die President voorgelê. Hy sê Zuma moet die verslag met sy kommentaar by die Nasionale Vergadering indien.

Dis nie nuuswaardig nie. Wat wel nuuswaardig is, is dat Afrikaners ontsettend benadeel word deur hierdie stelsel wat hulle uitbuit vir hulle belastings en niks daarvoor teruggee nie. Maar danksy Nkandla hoor ons net mooi niks daarvan nie.

Nkandla gaan ook absoluut niks verander aan die verskriklike diskriminerende stelsel in Suid-Afrika nie. Dis nie asof die geld wat Zuma dalk sal moet teruggee ooit in Afrikaners se sakke sal beland nie.

Zuma sal in ‘n staat van beskuldiging geplaas word, sodat die Britte en Amerikaners verder kan aanhou steel met hulle eie nuwe swart marionet aan die stuur wat die Chinese en die res sal uitsluit. Dis waaroor dit gaan.

En natuurlik ‘n trogvark of twee soos Pieter daarby om Afrikaners gelukkig te hou.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.